Hykie Berg. Hykie Berg
hele lewe lank is daar vir my gesê: “Hykie, jy is ’n stoute kind; jy is mal en weird.” In die huis waarin ek grootgeword het, het ek die idee gekry dat ek die minder slim een was. My broer en suster het baie beter in akademie gevaar as ek en my broer was baie beter in sport as ek. Ek glo glad nie dat dit my familie se bedoeling was om my so te laat voel nie, maar dis wat ek ervaar het.
Op skool was ek nooit regtig goed in enigiets nie; ek was ’n middelmatige kind. So-so. Al waarin ek goed was, buiten om aandag te trek, was om mense se geduld te toets. Ek het gekyk hoe ver ek mense kan druk voordat hulle ontplof. Of dit nou my ma, suster of onderwysers was, dit het my ’n kick gegee om mense teen die mure uit te dryf.
Ek het afgryslike dinge gedoen waaroor ek my doodgelag het. Ek sou my sussie vasdruk onder ’n poefkussing en vir ure op haar lê terwyl ek spoeg op haar gesig laat drup. Ek het haar konstant probeer skrikmaak. Ek het om elke hoek en draai gewag vir ’n oomblik om haar te terroriseer. Dit het later so erg geraak dat my ma my sussie na die bure toe gevat het as my ma dalk ’n aand saam met vriende wou uitgaan; net sodat ons nie in dieselfde huis op dieselfde tyd sou wees nie. Eers later jare het ek besef wat ek aan my suster gedoen het en die impak wat dit op haar lewe gehad het. As jong seun wat in ’n tiener ontluik en verveeld is met homself en die wêreld, is dit nie iets waaraan jy dink nie.
Ek het op laerskool probeer sport doen, maar ongelukkig was ek ’n bietjie oorgewig. Waarom sal ek my hoeka tog nou so ooreis! My liefde vir lekkers en sjokolade was groter as enige vorm van oefening. “’n Bietjie lomp,” is wat ’n juffrou op my rapportkaart vir liggaamsopvoeding geskryf het toe ek in graad vier was. Nou ja, sy was ’n grootmens; dus het ek haar maar geglo en die woorde my eie gemaak. En elke keer dat ek nie gewen of ’n doelwit bereik het nie, het ek daai oortuiging net dieper in my siel ingemessel. Ek het later ook geglo dat ek lomp is en dat ek glad nie gemaak was vir sport nie. Elke keer dat ek ’n mislukking ervaar het, het ek haar afbrekende leuens toegelaat om in my wêreld reg bewys te word. So het die idee van “nie goed genoeg nie” verder in my psige posgevat. Vandag verstaan ek die mag wat woorde het, veral op kinders. Dit kan jou maak of breek.
Rugby was natuurlik heeltemal verbode. Om rugby te speel, sou beteken dat ek normaal is; nes die ander kinders. Hier het ek ook nie ingepas nie. Ek het gedurende my laerskooldae nogal in die eerste rugbyspan gespeel, maar selde die bal gekry. Daar was een wedstryd wat ek nooit sal vergeet nie.
Vir die heel eerste keer in my rugbyfase het ek die bal gevang. Ek was so oorweldig dat ek heeltemal vergeet het wat om met die bal te doen. “Pass! Pass! Pass die bal!” het die toeskouers langs die veld gegil. “Pass net die blêrrie bal, Hykie!” het hulle geskree. Almal het van alle kante geskree. Ek kon geen gaping sien nie, slegs my eie angs in die ander spelers se oë. Ek was wel in ekstase omdat ek die bal gehad het. In die middel van ’n slagveld wat met ’n skare omring was, was die bal skielik in my hande – vir die eerste keer. Ek het nie lekker geweet in watse rigting om te hardloop nie. Die geraas en die hygende asems het te veel geraak. Ek is geduik en die spel het voortgegaan.
Toe sport nie vir my uitwerk nie, het ek probeer kitaar speel. My ma het vir my en my broer elkeen ’n kitaar gaan koop en sy het ons vir lesse gestuur. Maar dit was ontsettend vervelig. Ek wou heavy metal leer speel – bands soos Iron Maiden, Metalica, AC/DC, Roxette en Alice Cooper was toe groot. Ek wou soos hulle wees: om voor duisende mense te staan met die wêreld wat my toejuig. Die musiekjuffrou het ons egter “Rudolph the Red Nosed Reindeer” en “Little Drummer Boy” geleer. Rum, pum, pum … Dit was ’n groot grap en ek het regtig gedink sy is ’n loser. Sy én my ma.
Daardie tyd was rock ’n roll mos van die bose. Ek onthou die oggend toe pastoor Rodney Seale, ’n welbekende spreker en skrywer, by die NG-gemeente Lynnwood met die jeug kom praat het oor dié duiwelse musiek. Hy het plate van bands soos AC/DC agterstevoor gespeel en vir ons vertel dat daar versteekte boodskappe in die lirieke skuil. Al wat ék kon hoor, was klanke van ’n plaat wat … agteruit gespeel word. Dit het my wel gefassineer.
Later jare het ek as tiener ’n groot death metal-aanhanger geword. Bands soos Obituary, Sepultura, Napalm Death, Deicide en Judas Priest was vir my ongelooflik. Dié musiek is al wat vir my saak gemaak het.
In graad vyf wou ek in die koor gaan sing. Dit het vir my lekker gelyk en hoewel dit nie my vriendekring was nie, het ek gedink ek sal so iets dalk kan doen. Reeds met die eerste oudisie het die sangjuffrou egter vir my gesê: “Sorry, my kind, jy is vals.”
Ek het ’n ruk lank kunsklasse geneem. Ek was baie lief vir kuns. Dit is iets wat ek geniet het en ek het tot vandag toe ’n talent vir teken. Ek onthou ek het in graad vyf nogal ’n prys gewen vir ’n huis wat ek geteken het. Dit was uitgestal in die skoolsaal saam met ’n klompie ander kunswerke en ek sal nooit die goue ster vergeet wat daarop geplak was nie. Ek was verskriklik trots op myself, maar toe word ek weggejaag omdat die juffrou vir my ma gesê het ek is te stout – ek was rusteloos. Toe gee ek dit ook op.
My gedrag het begin handuit ruk en ek het weird dinge begin doen. Vra my hoekom en ek sou vir jou sê ek weet nie. Dis die absolute waarheid; ek het geen idee gehad hoekom my gedrag so ekstreem was nie. Ek sou byvoorbeeld net voor die skool se jaarlikse swemgala ’n klompie dooie voëls in die swembad gooi. Soms sou ek net vir die pret akkedisse met brandende reukweerder aan die brand steek. Van buite af het ek seker normaal gelyk, maar my binneste was in ’n totale warboel. Onverskilligheid het my bevredig op ’n baie verwronge manier.
Ek het selfs akademies probeer verkeer. Dit net om in iets op skool goed te doen sodat ek iewers ’n bietjie erkenning kon kry, maar ’n soet en slim skoolseuntjie was ek wraggies nie. Ek kon dit net nie regkry om al my aandag aan my huiswerk en toetse te gee nie. Al het ek hoe hard probeer, kon ek net nie in my skoolwerk presteer nie. Meer as enigiets anders wou ek eintlik net gehad het my portuurgroep en my ouers moet my aanvaar.
Daar was natuurlik ook ’n meisie oor wie ek dol was op laerskool, ’n blondekop. Haar naam was Liesl en sy was die mooiste ding wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Almal het gedink sy was beeldskoon. Sy was die enigste persoon in daai skool voor wie ek nie ’n woord kon uitkry as ek in haar teenwoordigheid was nie. As ek met tye na my Walkman geluister het om my af te sonder van die wêreld, het ek my verbeel daar is ’n skare wat my staande toejuig. Heel voor was Liesl met so ’n liefdevolle glimlag op haar gesig. Sonder om enigiets te sê, het ek altyd die gevoel gekry dat sy eendag myne sal wees.
Haar pa het karate aangebied op skool en dit het my wonderlik gepas toe my ouers besluit ek en my broer moet karate neem. Haar belangstelling in my was egter nul. Al wat ek wou doen, was om haar te beïndruk, maar sy het glad nie aandag aan my gegee nie. Ek kon net nie wen nie. Ek het nie presteer nie en het soos ’n washout gevoel. Hemel, dit was verskriklik! Later het ek die karate ook begin haat en my ma gesmeek om my nie weer te vat nie.
Daarna het ek myself heeltemal onttrek aan enige interpersoonlike aktiwiteite of enigiets wat in groepsverband gedoen moet word. Ek was ’n lugleegte tussen al die ander kinders – sonder om te weet waar ek inpas, soort van leeg en ongemaklik in my eie vel. Niks kon daardie gevoel van vreemdheid in my regmaak nie.
Reeds in die laerskool het my reputasie as die mal kind my vooruitgeloop. Aan die einde van graad sewe het dit gemaak dat ’n paar uitdagings ons in die gesig gestaar het. Blykbaar was daar ’n hele klompie hoërskole in Pretoria-Oos wat nie werklik kans gesien het om my toe te laat nie. Ek was gediagnoseer met ’n dissiplinêre afwyking – wat dit ook al beteken. My ma het vir my gesê ek was te stout en die hoërskole het nie kans gesien vir my nie. ’n Onderwyseres het eenmaal vir my gesê ek is ’n probleemkind wat in die kinderhuis gaan beland. Ek het baie sulke opmerkings weggehou van my ma-hulle: my ouers sou daai tyd in elk geval die onderwysers se kant gekies het en dan sou ek tog maar net weer in die moeilikheid gewees het.
Ek was egter angsbevange. Dit het my so bang gemaak; ek kon dae lank nie slaap nie. Ironies genoeg, al was my tienerjare later ’n nagmerrie saam met my ma-hulle, was die laaste plek waar ek wou wees weg van die huis af. Daar is telkemale vir my gesê dat ek na ’n koshuis gestuur gaan word indien ek nie my gedrag verander nie. Ek kon dit as jong seun nooit verstaan nie: Hoekom is niemand ooit aan my kant nie? Ek was maar net 13 jaar oud.
My ma het later jare begin besef