Hykie Berg. Hykie Berg

Hykie Berg - Hykie Berg


Скачать книгу
dinge geweet nie. Daar was ook nog geen medikasie vir aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS, Engelse afkorting: ADHD) beskikbaar nie. Baie het gemeen ek hoort eintlik in ’n spesiale skool – daai kolleges waarheen die freaks van die samelewing gaan, want hulle pas nêrens in nie en niemand kan of wil met hulle deal nie. Tog, ná ’n vergadering met die ou Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) het Hoërskool Die Wilgers my ingeneem. Die skoolhoof het dit duidelik gestel: Indien ek een misstap begaan, is ek uit.

      So het hoërskoollewe vir my aangebreek. My eerste dag op hoërskool was eintlik fantasties. Ek kon oorbegin: nuwe pêlle, nuwe persona. My tas is oor die een skouer getrek en my kouse tot op my enkels afgedruk. My hemp het uitgehang en ek het my das nooit tot bo getrek nie. Die eerste dag het ek die rokers gaan opsoek en vind toe ’n klompie vriende by wie ek aanklank kon vind. Ek wou hê almal in my graad sowel as die ouer kinders moes weet wie ek is en waarvoor ek staan. Ek sou my deur niemand laat voorskryf wat om te doen nie.

      Ons is in klaskamers ingedeel en gesê ons moet na ons registerklasse toe beweeg. Ek het in die klaskamer ingestap, kliphard slym in my mond opgetrek en op die vloer gespoeg, my skoene daaroor gevee en sonder enige skaamte geskree: “Dis nou ’n vrot plek dié!”

      Ondanks die skoolhoof se aanhoudende waarskuwings het ek steeds uitgerafel. Hy was in elk geval volgens my ’n aap gewees. Ek het baie vinnig agtergekom hoe onderwysers hul gunstelingleerders kies en nie omgee oor die res nie. Hiermee sê ek glad nie hulle moes my met al my stoutighede net so aanvaar het nie, maar nie een enkele onderwyser, tot die dag dat ek matriek klaar geskryf het, het my aan die arm gevat en wou my leer ken vir wie ek werklik was nie. Niemand wou hoor wat dit is wat my opgewonde maak of waarin ek belangstel nie. Daar was absoluut geen belangstelling in my as kind, as seun of as mens nie.

      In daardie tyd van my lewe was daar slegs twee volwassenes wat in my geglo het en hulle was glad nie onderwysers nie. Dit was dominee Jorries van die NG-gemeente Lynnwoodrif, vandag doktor Jorries, en die ander was oom Kriek Dreyer, ’n skoolvriend se pa, wat vir my Sondagskool gegee het.

      Oom Kriek het my vertroue as kind gewen deur my ná Sondagskoolklas toe te laat om saam met hom ’n sigaret te rook. Dit was vir my ongelooflik gewees. Hier was ’n ouer wat my verstaan, iemand wat my nie net veroordeel tot in die hel in nie en wat ’n verhouding met my wou bou. Hy het natuurlik goed geweet rook is nie gesond nie, maar dit was ons raakpunt met mekaar. Ons het baie gelag en dit was lekker om tyd saam met hom deur te bring. Ek het altyd gesorg dat my Sondagskoolhuiswerk gedoen is wanneer ons na oom Kriek toe gaan en ek het geluister as hy gepraat het.

      Oom Kriek het geweet om sonde te preek werk nie; om aan te hou karring oor die moenies en ’n skuldgevoel by jong kinders te kweek, bring nie ware vryheid nie. Ek sê glad nie dat ouers en onderwysers kinders se ongesonde en rebelse gedrag bloot net moet aanvaar en sonder gevolge moet goedkeur nie. Oom Kriek het alles met ’n doelbewuste rede gedoen. Hy het geweet hy kon nie oor iets preek wat hy self nie eer nie. Hy het, anders as die onderwysers en skoolhoof (wat voor die kinders gerook het, maar ons dan met ’n rottang geslaan het as hulle ons betrap het), geweet kinders boots volwassenes na. Kinders doen wat volwassenes doen; nie wat vir hulle gesê word nie. Integriteit is tog juis dit: ons sê wat ons doen en ons doen wat ons sê.

      Oom Kriek is later oorlede, maar ek sal altyd sy pakkie Mills-sigarette, sy vriendelike verwelkoming en sy Sondagskoolklasse onthou. Steeds kon ek egter nie die onrustigheid in my siel verdryf nie. Ek het gevoel dat ek nêrens werklik behoort nie. Die enigste manier hoe ek deel van iets kon voel, was as ek aangejaag het saam met die ouens wat soos ek was.

      Drank het ’n groot rol in my lewe begin speel. Ek kon nie wag vir naweke om saam met my vriende te gaan kuier nie. Ek het altyd daarna uitgesien om so dronk moontlik te word. Al was ek minderjarig, is daar altyd maniere om drank in die hande te kry. ’n Paar biere was nooit genoeg nie – ek moes myself altyd te pletter suip. Van my portuurgroep het gereeld vir my gevra hoekom kan ek nie net een of twee biere drink en dit daar los nie. Ek was altyd die een wat iewers begin opgooi en uitgepass het. Ek het ook nie omgegee waar ek uitpass nie: of dit nou binne ’n asblik was, in die middel van ’n parkie of buite op die sypaadjie van een van my vriende se huise, het nie saak gemaak nie. Ek het die alkohol laat oorneem en gegaan waar my dronkenskap my gelei het. Dit was lekker om dronk te word, want ek het aandag gekry.

      Vandag weet ek dat my verslawing van jongs af al baie duidelik in my gedrag sigbaar was. Ek is net dankbaar dat ek nooit my motor gerol het of in my dronkenskap ’n minderjarige meisie swanger gemaak het nie …

      Ek het maagdelikheid in graad nege verloor. Dit was met ’n meisie in my skool. Ons het ’n aand by ’n kroeg in Pretoria-Oos uitgehang en ons albei het verskriklik dronk geword. Die kroeg was op ’n kleinhoewe en voor ons ons kom kry, was ons albei lekker kaalgat tussen die daisies. Bo-op ’n vullishoop in die agterplaas van die hoewe gebeur dit toe nou dat ons seks het. Ek het nie ’n kondoom gehad nie en sy was ook nie op ’n voorbehoedmiddel nie. Dit was dom en onverantwoordelik. Dit was my eerste pregnancy scare en ’n hele maand lank het ek gedink ek gaan pa word.

      Nou ja, enigeen wat weet waarvan ek praat, sal weet dis die tyd van jou lewe dat jy die meeste begin bid – of jy nou glo of nie. Skielik belowe jy met hart en siel dat jy jou lewe vir ewig sal omdraai en elke Sondag kerk toe sal gaan solank die meisie net nie swanger raak nie. Dis ’n aaklige tyd. Gelukkig het ek nie pa geword nie. Sjoe.

      Die drankmisbruik het verder toegeneem, asook my dagga-gebruik. Ek het die dagga nie eens ’n kilometer ver van ons huis af nie in Lynnwood Glen gekoop. Die petroljoggies by die vulstasie naby ons huis het dit verkoop. Dit was nou nie die beste dagga in die wêreld nie, maar daai tyd het ek gedink dis al wat bestaan. Dagga rook was lekker en opwindend. Juis omdat dit onwettig was, het die behoefte om dit te doen net groter geraak. Dit het my rebelsheid gevoed en my laat voel asof ek gesag het, juis omdat ek altyd die een was wat dit in die hande kon kry en aan my vriende verskaf of verkoop. Ek het besef jy kan geld maak deur dit te versprei, maar meer belangrik, ek het respek begin kry van die mense om my. Ek het dit aan my portuurgroep verkoop sowel as ouer leerders van die skool. In my oë was ek The Man.

      Ek het talle kere op die rand van skorsing gestaan. Tydens my eerste sokkie in graad agt vang die hoof my uitgepass met my kop in ’n sak waarin my bensien uitgeloop het. Ons het bensien en verfverdunners gesnuif, want dit was ’n mal manier om hoog te raak. Daar was baie kinders wat bensien of verdunners gesnuif het. Dit was redelik algemeen en baie maklik. Die hoof was natuurlik glad nie beïndruk met my gewees nie. Terselfdertyd was Ihan, my beste vriend wat in die Engelse buurskool was, ook deur die onderwysers gevang. Ons ouers is ingelig en weer eens was daar moles. Nietemin, ná die eerste oueraand wat my ma bygewoon het, was die terugvoer oor my so swak dat sy nooit weer haar voete by die skool gesit het nie. Ek blameer haar ook nie. Ek dink dit was net te vernederend vir haar. Later was sy meer betrokke by my sussie en haar aktiwiteite, want my sussie was soos ’n engel. Onderwysers kon glad nie die kloutjie by die oor kry waarom ons so verskillend was nie; sy soos iets vanuit die hemel en ek so stout en rebels.

      Vanweë my impulsiwiteit en onvermoë om aandag te gee, tipies van akute AGHS, was elke dag ’n gesukkel. My gedagtes was oral, en ek kon niks opbouends deurvoer nie. Die drank en al die ander gemors wat ek gebruik het, het dit nie makliker gemaak nie. My ouers het nie geweet wat aangaan nie. Destyds was mense nog nie so bewus van die simptome van dwelmmisbruik nie en het ook nie veel geweet van geestesgesondheidstoestande nie. Daar was nie gepraat oor goed soos depressie of bipolariteit nie, want mense het gedink dis twak. Die dominee van ons gemeente het my ’n paar keer kom sien en gebid dat die Satan my moet verlaat, en ja, jy het reg geraai, dit het nie gewerk nie.

      STAP 2

      “Ons het mettertyd begin glo dat ’n Mag groter as onsself, ons

      gesonde verstand aan ons kan teruggee.”

      Uitdagings en probleme is deel van die lewe. Dit vorm ons gewoontes, ons geloofsisteme, ons uitkyk op die bonatuurlike en ons verhouding met God. Dit was belangrik vir my gewees om ’n walk down memory lane te neem en werklik te gaan sit en dink hoekom ek glo wat ek glo, wat daartoe gelei het dat ek die idee van God verwerp het en waarom ek so lank geworstel het om tot enige werklike geloofsoortuiging te kom. My verhouding met God of met ’n god


Скачать книгу