Liefde onbeperk. Luné Olivier
aan. “Ek het baie laat ingekom en nie die lig aangeskakel toe ek in die bed geklim het nie. Toe ek vanoggend wakker word, was ek saam met ’n vreemde man in die bed. Dit was baie ongemaklik en vernederend. Ek moet miskien eerder na ander verblyf gaan soek, want ek voel verleë, veral aangesien hy die situasie amusant vind.”
Die gryskopvroutjie se verrimpelde mond val oop. “Ag nee, ek is verskriklik jammer dat dit jou oorgekom het, hartjie. Ek sal vanoggend nog reël dat die nutsman die kamernommer regmaak. Moenie nou ander verblyf gaan soek nie, jy het dan klaar vir die hele week betaal.”
Lelanie kan sien mevrou Roets is ook onkant gevang; sy het stellig nog nooit só ’n penarie moes hanteer nie.
“Nee, dankie, ek verkies dit om vanoggend nog uit te teken.”
Wat moet die vrou van haar dink?
Mevrou Roets blaai deur die gasteboek. “Dian, die man in kamer 106, vertrek vanoggend, dus kan jy die res van jou vakansie hier by ons geniet. Ek vra groot om verskoning vir die ongerief, hartjie. Ek sal dadelik met die kelners reël dat al jou drankies gratis sal wees.”
“Ek verwag nie …”
“Nee, onsin. Dit is die minste wat ons kan doen na jou ondervinding,” val mevrou Roets haar in die rede. “Gaan drink sommer nou ’n lekker cappuccino in ons restaurant. Ek laat die kok weet om vir jou ontbyt te maak. En noem my tog gerus Rosa.”
Minute later sit Lelanie in die gastehuis se gesellige restaurant met ’n heerlike bord spek en eiers voor haar. Halfpad deur ontbyt kom tannie Rosa na haar toe aangestap. “Is alles in orde, hartjie? Eet jy lekker?”
“Baie lekker, dankie … uhm … tannie Rosa.”
Die ouer vrou knik glimlaggend. “Nou waar in die wêreld kom jy vandaan?”
“Parys, tannie.”
“A, die dorp van skilderye en musiek. Ek is baie lief vir die Vrystaat. Nou watter kunste beoefen jy dan daar op Parys?”
Haar gasvrou is nogal nuuskierig. “Ek bly maar net daar omdat ek die rustige atmosfeer bo Johannesburg verkies. Eintlik is ek ’n ouditeur.”
“Hoe lank werk tannie al hier by Charla’s?” Sy kan mos darem ook ’n vragie inkry. “Dit is pragtig en tannie is so gasvry. Ek sal ook eendag in Kaapstad wil aftree.”
“Ek is nou so drie of vier jaar by die gastehuis betrokke, maar dit is nog al die jare in die familie. Die plek is na my ma, Charla, vernoem.”
“Dis nou interessant.”
“Nou ja toe, geniet jou ontbyt verder,” sê Rosa.
Toe sy klaar geëet en haar koffie gedrink het, maak Lelanie haar gou uit die voete om langs die strand te gaan loop.
Lelanie stap seelangs met ’n groot sonhoed op haar kop, haar kamera in sy slingertas oor haar skouer. Die son streel warm oor haar vel. Clifton het darem die mooiste strande.
Haar susters dink sy is simpel om alleen te kom vakansie hou, maar sy geniet dit. Afgesien van Rozanne, ken sy niemand in die Kaap nie. En sy het nou die aand net saam met haar universiteitsvriendin gaan kuier omdat dit ongeskik sou wees om nie by haar ’n draai te gemaak het nie. Eintlik wil sy alleen wees.
Sy glimlag. Hulle drie sussies is baie verskillend, maar sy is baie lief vir hulle. As sy klaar vakansie gehou het, moet sy weer by hulle elkeen ’n draai gaan maak: By haar ousus Landie op Potch, by kleinsus Leonie in Johannesburg en by haar ouers in Pietermaritzburg. Maar eers het sy dié wegbreek alleen bitter nodig gehad. Haar hond Raffie se dood het ou wonde weer oopgekrap. Sy het nie net ’n wonderlike maat verloor nie, maar dit was ook die laaste band wat sy met Geoffrey gehad het. Hulle het Raffie nog saam gekoop terwyl hulle verloof was.
Hartseer wil-wil haar oorval, maar ’n hond se geblaf ruk haar terug na die werklikheid. Sy kyk hoe ’n bejaarde egpaar met hul hond verbystap. Sy neem ’n paar foto’s van die strand totdat sy tevrede is dat sy die skoonheid daarvan vasgevang het.
Toe sy weer naby die gastehuis kom, hoor sy die gedreun van stemme soos die mense in die vol restaurant gesels. Die glasdeure staan oop en sy kan binnetoe kyk.
Daar is hy … Dian! Die fris geboude man wat haar vanoggend in sy sterk arms vasgehou het.
Hy is diep in gesprek met ’n mooi vrou in ’n snyerspakkie, met ’n moderne, vierkantige bril en kort blonde hare, netjies gestileer. Haar klokhelder lag klink op saam met sy lae, diep ene.
Sy weet nie hoe lank sy na hulle gestaan en staar het nie, maar die volgende oomblik kyk hy reguit in haar rigting. Sy glimlag verleë, maar kan haarself nog nie sover kry om weg te kyk nie.
Die blondine raak aan sy arm om sy aandag weer te kry.
Met brandende wange begin Lelanie vinnig aanstap. Nes sy gedink het. Die vent het ’n meisie en hy nooi haar sowaar uit om saam met hom lepel te lê!
Hoekom sou sy hoegenaamd omgee? Tannie Rosa het gesê hy vertrek vanoggend. Sy moet van hom vergeet en haar welverdiende vakansie geniet. Sy gaan net gou terug kamer toe, dan wil sy bo-op Tafelberg ’n glasie eg Kaapse wyn gaan drink.
Die Berg bied ’n asemrowende uitsig oor stad en see. Lelanie probeer haar bes om dit met haar kamera vas te vang, maar niks kan reg aan die oorweldigende atmosfeer laat geskied nie. Die wêreld aan jou voete. Rus vir ’n mens se siel sodat jy weer vir alles kans sien. Eers na ’n pitabroodjie en ’n glasie koel witwyn stap Lelanie tydsaam terug na die stasie van die kabelkarretjie. Nou kan sy ook sê sy was bo-op Tafelberg. Terug op die grond, klim sy in die gehuurde motor en vleg dan deur die middagverkeer na Charla’s toe.
Op pad na haar kamer bewonder sy eers weer die uitsig. Sy sal sowaar aan hierdie plek verslaaf kan raak. Toe sy by kamer 106 verbyloop, sien sy dat die ses reggemaak is.
Wat sy nou nodig het, is ietsie koels vir die keel en lyf. Vandag is die dag dat sy die gastehuis se privaat swembad op die proef gaan stel om haar in die warm Februarie-son af te koel. Skaars minute later is sy gereed met ’n handdoek in die hand en haar strandsak, met sonroom, haar sonbril en ’n boek, oor haar skouer.
Sy bestel ’n cocktail vanaf die restaurant. Hoekom nie?
Drankie omhoog in haar een hand, klim sy in die swembad.
Sjoe, die weerkaatsing van die son op die water is byna verblindend. Sy moet regtig maar haar sonbril opsit. Sy klim weer uit om dit in haar strandsak op die lêstoel te gaan haal, maar toe sy opkyk, staan hy voor haar: die man met wie sy per ongeluk ’n bed gedeel het.
Wat maak hy nog hier?
Hy kom nader. “Dit is nou ’n verrassing. Ek het gewonder waarmee jy jou die hele dag besig gehou het.”
Aarde sluk my in! Sy het nie gedink sy sal hom weer sien nie.
“Ek, uhm, ek was op Tafelberg. Ek dog jy teken vandag uit?” Lelanie klink meer kortaf as wat sy bedoel het, want sy kan die man nie in die oë kyk nie.
“Omstandighede buite my beheer,” antwoord hy in daardie diep, lui stem.
Sy ruk haar reg en kyk hom vierkantig in die oë. In die daglig lyk hy selfs aantrekliker en sy oë groener as vroeër vanoggend. Dit ontsenu haar van voor af.
Hy kyk haar goedkeurend op en af.
O, aarde, sy staan weer eens met die minimum klere voor die man. Sy gryp gou na haar handdoek. Die drankie in haar hand kantel. Sy probeer keer, maar dit mors in ’n oranjegeel blerts oor sy wit hemp uit.
“O, vrek. Jammer,” sê sy senuweeagtig, en probeer die vlek op sy hemp met haar handdoek droogklad.
Sy vingers sluit liggies om haar arm. ’n Rilling gaan deur haar lyf, en sy ruk haar arm los.
“Ek sal jou verskoning aanvaar as jy terugklim in die swembad en my toelaat om vir jou nog ’n cocktail te koop.”
“Dit is nie nodig nie.”
“Ek dring daarop aan,” sê hy ferm