Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
MELODIE
OMNIBUS 2
Volbloedvrou vir ’n vaalseun – Babsie Jacobs • Dis mooiweer en liefde – Wilmarí Jooste • My liefling is ’n wolkeman – Maretha Maartens
Melodie
1
Uiteindelik! Fransien sug van verligting toe sy die kerktoring in die verte gewaar. Dit was ’n lang dag, en nou is sy al amper twee uur op die pad sonder om haarself ’n ruskans te gun. Al is sy haastig om haar bestemming te bereik, verminder sy onwillekeurig spoed sodat sy kan rondkyk.
Kan ’n plek so bekend en terselfdertyd so vreemd wees? En hoe kan ’n mens soveel emosies gelyk ervaar? Weemoed, vrees en opgewondenheid stoei om die botoon te voer in haar binneste.
Stadig ry sy die dorp binne, draai dan op die ingewing van die oomblik links, in die rigting van die treinspoor. Die huisies staan nog steeds in gelid, sommige verwaarloos, ander kleurvol en versorg, net soos tien jaar gelede. Sy is bly om te sien die huisie op die punt, húlle huis, is een van die meer versorgdes.
Skielik is sy terug in die verlede: by die netjiese spoorweghuisie waarin sy grootgeword het, die skewe seringboom met die houtswaai, die rotstuintjie wat haar ma met geduld en liefde en baie sweet tot stand gebring het. Sy onthou nog goed hoe hulle op ’n Saterdag die rotse een-een met ’n gehawende kruiwa aangery het. Die Maandag was haar hande vol skaafmerke en blase, haar naels kort afgebreek. Natuurlik het Tessa de Villiers dit dadelik raakgesien en het sy die gebruiklike aanmerkings oor “Kroesie” se armoede gemaak.
Met ’n wrang glimlaggie streel Fransien se skraal vingers half terloops deur haar krulle, wat nou in ’n soort gestruktureerde wanorde oor haar skouers tuimel. Tessa is een van die minder aangename herinneringe, so ook die kort-kort haarstyl waarmee sy jare lank haar krulle probeer wegsteek het. Dit het ’n slim haarkapper met baie oorredingsvermoë gekos om haar te oortuig dat krulhare nie die elfde plaag is nie. Nou dra sy haar krulle met trots, omdat dit deel van haar is en omdat dit haar pas. Haar spieël sê so, en die tweede kyke wat mans haar gee, beaam dit.
Sy het so in haar gedagtes verlore geraak dat sy met ’n ligte skokkie besef sy het outomaties die pad skool toe gekies. Nou stop sy voor die bekende ou baksteengebou.
Soveel bekende bakens, soveel onthou … Dis onmoontlik om die stortvloed herinneringe te keer, en vir ’n paar minute sit sy doodstil en laat dit oor haar spoel. Was dit ’n goeie idee om hierheen te kom? Soms moet mens die verlede liewer begrawe. Wel, sy ís nou hier, en dis te laat om bedenkinge te kry.
Stadig trek Fransien weg. Die reünie begin amptelik eers môre, maar daar is vir haar plek bespreek by die nuwe vakansieoord net buite die dorp. Sy het ’n stort en ’n koppie koffie nou bitter nodig.
By die vakansieoord is die ligte reeds aan. Op ’n afstand lyk dit soos ’n dorpie op sy eie. By die hek salueer die hekwag dramaties en verwelkom haar met ’n spierwit glimlag. Sy kan nie anders as om ’n praatjie met hom aan te knoop nie.
“Goeienaand, ek is hier vir ’n reünie. Kan jy my beduie na die ontvangs?”
“Lat ek net eers die mevrou se pedighrie kry. Niemand gaan hier in as Sihle nie sy pedighrie opgeskryf het nie.”
“Pedigree? Wat …?”
Haar vraag sterf weg toe hy met groot gebaar om die motor loop om die registrasienommer neer te skryf. Dan hou hy sy hand uit. “Nog net die aai-die.”
Sy wag geduldig terwyl hy haar naam en identiteitsnommer neerskryf. “Goeiste, maar julle sekuriteit is omtrent streng hier!” kan sy nie nalaat om op te merk nie.
“Is so, mevrou.” Hy klink trots op dié sonderlinge prestasie. “Hierdie naweek is dit net die Union se mense wat mag inkom, en ek check hulle mooi op.”
“Watse union?” Fransien se moed sak in haar skoene. Het sy nou werklik by die verkeerde plek uitgekom? Of het die reëlings verander en niemand het haar laat weet nie?
Maar Sihle bly sy vrolike self. “Die Union van die skool, mevrou. Hulle roep hom die Rie Union. Sy mense is die plek vol hierie naweek. Die reception is innie middel, mevrou moet net op die pad bly, daar is ’n groot bord. Hulle sal die mevrou mooi help.”
Ná nog ’n flinke saluut word die hek vir haar oopgemaak en kan sy laggend deurry. Sihle was reg, hulle help haar mooi by ontvangs. Die kantoor word beman deur ’n egpaar in hulle vroeë dertigs. Santie Brink is die ontvangsdame en haar man, Pieter, die terreinopsigter.
“Jy moet maar ligloop, dit lyk vir my dis ’n spul wolwe wat die naweek hier op ons toesak. So ’n mooi dingetjie soos jy sal nie los kan rondloop nie,” terg Pieter vir Fransien.
Sy voel hoe sy bloos. Sy was so lank ’n lelike eendjie dat sy nog sukkel om aan komplimente gewoond te raak. Wonderlik wat ’n nuwe haarstyl en die raad van ’n goeie vriendin – wat toevallig ’n skoonheidsalon besit – kan doen!
Sy verwonder haar nou nog soms aan haar spieëlbeeld, meer as drie jaar ná haar “metamorfose”. Haar woeste wenkbroue is net genoeg getem om die aandag op haar groot, donkerbruin oë te vestig. Die welige bos donker krulle gee aan haar skralerige gesig ’n misleidende sagtheid, wat versterk word deur die melkwit vel wat sy kleintyd so verpes het. As jy verby die vol onderlip en vasberade ken kyk, kan jy jou verbeel sy is ’n sagte ou meisietjie. ’n Paar mense het al daardie fout gemaak!
“Toemaar, ek kan na myself kyk. Die nare ou wolwe sal niks aan my doen nie!” spot sy saam.
“Jy is seker al doodmoeg. Hier’s jou sleutel vir nommer agtien.”
Santie beduie vir Fransien hoe sy moet ry om by haar chalet te kom, en waar die restaurant is waar sy haar etes kan geniet. Haar chalet is die laaste een in die ry en nie te naby aan die rivier nie. Daaroor is sy heimlik verlig. Die meeste mense vind die geluid van water kalmerend, of dit nou die magtige gedreun van die see of die sagte gemurmel van ’n fonteintjie is, maar nie sy nie. Dit maak haar onrustig, asof sy die hele tyd wag vir iets om te gebeur.
Die chalet is ’n selfsorgeenheid en baie oulik toegerus. Sy pak gou die paar goed wat sy in ’n koelsak het in die yskassie. Sy tap die ketel vol water en skakel dit aan terwyl sy die ander goed uitpak. Dan maak sy vir haar ’n groot beker koffie en skop haar skoene uit. Sy gaan sit behaaglik agteroor en proe versigtig aan haar koffie.
Gelukkig hou koffie haar nie wakker soos sommige ander mense nie. Nee, dit laat haar heerlik ontspan. Dis nou net soos sy is: water maak haar onrustig en koffie kalmeer haar. Alewig stroomop, soos Ma altyd sê!
Die gedagte aan haar ma herinner haar daaraan dat sy haar ouers moet bel. Hulle sal definitief nie ’n oog toemaak voor hulle weet sy het veilig hier aangekom nie. Net soos sy verwag het, lui die telefoon skaars twee maal voor haar ma angstig antwoord.
“Hallo, Fransie. Het jy goed gery, my kind?”
“Goeienaand, Moeder Hen. Julle kuikentjie is veilig, julle kan maar rustig gaan slaap,” groet sy.
“Is die chalet darem gerieflik? Onthou tog om jou deure te sluit, my kind. Die wêreld is so boos deesdae,” waarsku haar ma besorg.
“Die chalet is lieflik, en my deure is klaar gesluit. Julle tweetjies moet maar die week sonder my benut om ook ’n bietjie te rus. Onthou, ek gaan propvol energie terugkom en julle sal moet byhou!” antwoord sy tergend.
“Ons verlang al klaar na jou. Dit gaan ’n lang week wees,” sug haar ma tranerig.
“Ag nee, wat. Daar gaan baie keer dae verby sonder dat ons mekaar sien. Nog voor julle tyd vir verlang het, is ek terug,” troos Fransien. “Sê groete vir Pappa, en onthou, ek is lief vir julle!”
Ná die koffie en ’n stort voel sy sy kan weer die wêreld in die oë kyk. Sy oorweeg dit om die restaurant te gaan soek. Sy wonder wie kom almal reünie toe, en of hulle mekaar nog sal ken. Waaroor gesels ’n mens ná soveel jare? Sy het net met Mitzi Coetzee kontak behou, maar sy bly op die dorp en sal beslis nie by die vakansieoord tuisgaan nie.
Ou Mitzi! Vir haar sal sy darem graag weer wil sien. Met haar kort, ronde lyfie kon