Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
om dit in die hande te kry. En Fransien glimlag al die pad bank toe.
Sy hou Tessa uit die hoek van haar oog dop en sien hoe sy op haar horlosie kyk voor sy haastig by die deur uitstap. Dis amper tienuur en sy is beslis op pad na die oggendtee toe.
Meteens sien Fransien sommer baie uit na die reünie. Sy drink haar koffie rustig klaar en betaal haar rekening.
In haar motor knap sy eers haar lipstiffie op en tik weer ’n bietjie parfuum aan haar polse en agter haar ore, voor sy stadig skool toe ry.
3
Voor sy instap, haal sy eers haar selfoon uit en skakel vir Mitzi. Sy antwoord onmiddellik, en dis duidelik dat sy vir die oproep gewag het.
“Uiteindelik! Ek het al begin dink jy het kleinkoppie getrek! Waar’s jy?”
Laggend antwoord Fransien: “Voor die saal. Kom haal my!”
Sekondes later storm ’n klein blonde vroutjie by die saal uit. Sy steek voor Fransien vas en kyk ondersoekend na haar. Dan vra sy huiwerig: “Fransien? Is dit jy?”
“Mitzi?”
Hulle gil soos twee tieners en omhels mekaar.
Uiteindelik los hulle mekaar. Fransien skud haar kop ongelowig.
“Jy lyk wonderlik, maar die helfte van jou is weg! Eet jou man jou kos op, of wat gaan aan?”
Mitzi giggel soos ’n skooldogter en beduie in die rigting van die groot man wat hulle geamuseerd dophou.
“Daar’s hy! Vra hom self!”
Die man kom nader en beduie kamma verleë na sy groot liggaam. “Jy kan mos sien ek het baie kos nodig,” spot hy.
“Oeps, ek en my groot mond!” speel Fransien spontaan saam.
Mitzi haak besitlik by hom in en stel hulle ewe formeel aan mekaar voor. “Dis my man, Daan, Fransien.”
Daar is verwondering in haar oë toe sy haar vriendin op en af bekyk. “Goeie genade, ek kan nie glo dis jy nie. Niemand gaan jou herken nie. Jy lyk fantasties!”
“Wel, niemand het sover nie,” antwoord Fransien met ’n vonkel in die oog.
Mitzi se nuuskierigheid kry dadelik die oorhand. “Het jy bekendes raakgeloop?”
Fransien knik haar kop sedig.
“Wie?” dring Mitzi aan.
“Wel, ’n hele paar,” hou sy Mitzi moedswillig aan ’n lyntjie.
Mitzi gluur haar dreigend aan.
“Wel, onder andere die heer Chris de Wet, en die hoogedele Tessa de Villiers.”
Mitzi lag lekker. “Mooi, man! Laat dit vir hulle ’n les wees.”
Daan kyk op sy horlosie. “As julle twee nou klaar gegroet het, kan ons gerus ingaan. Anders mis julle nog die hele reünie.”
Hy hou sy ander arm vir Fransien. Sy is maar net te bly vir die ondersteuning, want haar bene voel skielik taamlik bewerig.
In die saal is dit ’n geroesemoes van stemme wat lag en gesels. Ou maats wat mekaar jare nie gesien het nie, probeer tien jaar se gesels inhaal. Bewus van die oë wat hulle volg, plak Fransien ’n vriendelike glimlag op haar gesig. Sy knik hier en daar ’n groet na ’n bekende.
Die saal lyk mooi binne. Die somber donkergroen gordyne van tien jaar terug is vervang deur ’n blougrys wat meer lig binnelaat en ’n rustige atmosfeer skep. Ronde tafeltjies is gedek met koringblou tafeldoeke en servette en keurige teeserviese. Klein rangskikkings bring spatsels kleur wat die geheel komplementeer en opvrolik.
Fransien is bly toe hulle ’n tafeltjie in die hoek kry. Sy sit met haar rug na die muur sodat sy kan rondkyk sonder om gesien te word. Een van die skooldogters wat as kelnerin ingespan word, is dadelik by om te hoor wat hulle wil drink.
Fransien lig haar wenkbroue vir Mitzi en beduie na die netjiese spyskaartjie wat deel van die tafeldekor vorm.
“Mmm, ek is beïndruk!”
“Ja-nee, onse Tessa ken haar storie, dis nou maar wors,” beaam Mitzi.
“Tessa? Ek dog jý het die reëlings getref?”
Mitzi glimlag liefies. “Ek het die naweek gereël, ja. Maar gelukkig is delegering een van my sterk punte. Ons het elkeen mos maar sy talentjies. Tessa s’n is onthaal en sy het ’n koffiewinkel, so dit was logies om haar hier in te span. En ek was so diplomaties omtrent die ou sakie dat sy nou onder die indruk is dit was eintlik háár idee.”
Fransien proes van die lag. Sy kan sien wat Mitzi bedoel. Tessa is besig om tussen die tafels rond te fladder en seker te maak dat in elkeen se behoeftes voorsien word. Sy het niks verouder in die tien jaar nie, die grimering is net swaarder en die hare blonder. Sy het nog steeds ’n volmaakte figuur en hou nog steeds daarvan om dit te wys.
“Mmm, ek kan sien wat jy bedoel: die perfekte gasvrou. Jou beplanning was, soos gewoonlik, uitstekend. En dan is sy nog dekoratief ook!”
Hulle giggel soos twee stout tieners agter hulle hande.
Daan lig sy hande moedeloos. “My vrou, my vrou! Wat moet ek met jou aanvang?” kreun hy met ’n martelaarstem.
Dan kyk hy kamma beskuldigend na Fransien. “En jy, wat lyk of botter nie in jou mond kan smelt nie, hits haar nog aan ook!”
Mitzi lag hom openlik uit. “Ou grompot! Wag, ek beter haar keer voordat sy by ons tafel uitkom. Sy kan mos nie met ’n man praat sonder om aan hom te vat nie, en ek laat haar nie aan my man vat nie.”
Fransien knipoog fyntjies vir Daan. “Ook maar lekker jaloers, nè!”
Mitzi is glad nie op haar mond geval nie. “My goed is my goed en my man is my man, en veral dekoratiewe gasvrouens moet liewer ver van hom af bly as hulle weet wat goed is vir hulle. Ek is nou terug.”
Sy staan op voor Daan hierop kan reageer. Sy praat ook net ’n paar woorde met Tessa voor sy terugkom tafel toe.
Tessa begin verhoog toe stap en Mitzi klap haar hande opgewonde soos ’n klein kindjie.
“Nou vir die Ken-mekaar. Ouens, dit gaan vet pret wees!”
Tessa gaan staan op die verhoog met ’n mikrofoon in haar hand en dit raak stadigaan stil in die saal. Sy verwelkom almal en praat ’n bietjie oor verandering en groei, voor sy meer vertel van die Ken-mekaar.
“Ons wil graag hê elke oudleerling wat vandag hier is, moet vir ons ’n vinnige opsomming van sy lewe die afgelope tien jaar gee. Waarheen is jy ná matriek en wat het jy gedoen? Wat het alles met jou gebeur? Enige besondere prestasies waarop ons trots kan wees? Wat doen jy deesdae? Is jy getroud en het jy kinders? Waar woon jy nou? Daardie soort ding. Julle kan sommer by julle tafel bly staan. O ja, gee maar jou naam ook. Mense verander baie in tien jaar en ons wil darem weet wie met ons praat. Ons begin sommer daar in die hoek. Baie dankie.”
Daarmee beduie sy na Fransien-hulle se tafel, en stap grasieus onder applous van die verhoog af.
Fransien se oë spring amper uit hulle kasse van skrik. Sy was bewus van die Ken-mekaar, het haar trouens al by voorbaat verlekker in die reaksie wat haar toesprakie gaan ontlok. Maar heel eerste?
Terwyl sy nog verbouereerd na woorde probeer soek, staan Mitzi kalm op.
“Goeiemôre, almal. Ek is Mitzi Dreyer en ek is – soos julle kan sien – ongeveer die helfte van die Mitzi Coetzee wat julle onthou. Ná skool het ek onderwys gaan studeer en teruggekom hierheen om te kom skoolhou en ’n man te vang. Met die eerste was ek nie baie suksesvol nie, met die tweede wel. Die hunk hier langs my is Daan, my gewillige slagoffer. Toe ons ontmoet het, het ek nog soos ’n mosbolletjie gelyk, maar hy het my behandel asof ek ’n porseleinpoppie is. Dit het natuurlik ’n identiteitskrisis by my laat ontstaan en ek moes besluit wie ek nou eintlik is. Tans is ek ma van ’n pragtige tweeling van vier