Uit die beek 2018. Barend Vos
Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom … (v. 1).
Die Here het darem maar baie geduld met ’n mens …
Almal ken die verhaal van die eerste keer toe Hy met Jona gepraat en hom aangesê het om na Nineve te gaan. Hoe Jona Hom aangehoor het, en toe gemaak het dat hy wegkom, so ver weg as wat hy kon.
Af na die hawe, áf na die skip se ruim waar hy gelê en slaap het toe die storm kom. En uiteindelik af in die see, tot onder in die groot vis se maag. “Rock bottom” kan jy maar sê.
Want dit is mos wat met ’n mens gebeur wat van God af vlug: Jy begewe jou op ’n afdraande pad, jy is gly-gly, plas-plas, op pad ondertoe.
Hoe ver kan jy vlug; hoe ver kan ’n mens van God af wegkom?
Klaarblyklik nie juis ver nie. Eintlik net tot by die plek waar Hy jou staan en inwag. Met ’n lat? ’n Sweep om jou weer tot op die regte pad te slaan?
Toe nie. Vra maar die skaap wat weggeloop het, die seun wat alles deurgebring en selfs ’n draai in ’n varkhok gemaak het. Hulle sal jou vertel wat verder gebeur het, hoe hulle toe nie hul verdiende loon gekry het nie. Inteendeel.
Alhoewel God se kinders so erg sukkel om sewentig maal sewe te verstaan, kan hulle darem iets van ’n tweede kans begryp. Of hoe? Kyk tog: Die hand wat opnuut na ons uitgestrek word, hou nie ’n karwats vas nie. Sy hande vou om jou, wegloper. Dit beduie, weer: Dáárnatoe, my kind!
____________________
Ek sal gaan, my Here en my God! Stuur my. Hierdie keer sal ek U hoor.
Maandag 22 JANUARIE 2018 Lees Jona 3:10
Ook vir hulle …
Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer … (v. 10).
’n Mens kan sekerlik baie dinge oor Jona en sy verhaal sê – oor sy ongehoorsaamheid en sy belaglike plan om van God af weg te vlug. Dalk klap die tonge die lustigste oor sy reis in die groot vis. Maar een ding moet ’n mens nie vergeet om te noem nie: sy vermoë om te kon preek.
Want watter ander prediker, in die ou of die moderne tyd, of selfs ’n hedendaagse vuur-en-swawel-skreeuer op ’n TV-verhoog vol rook, kan aanspraak maak op die reaksie wat ’n enkele dag se prediking deur Jona tot gevolg gehad het? Predikers uit alle range en stande kan maar net droom oor wat Jona reggekry het.
Die koning het die voorbeeld gestel, lees ons, en sy mense het hom gevolg – diepe berou, hartgrondige bekering. Met al die uiterlike tekens wat daarmee gepaardgaan: rouklere, ashoop, weerhouding van kos en water. En ’n ernstige geroep na God.
Die Here se hart vermurwe wanneer Hy hierdie arme skepsels só sien – koning en onderdaan, mens en dier. Hy stuur toe nié die ramp wat Hy Hom voorgeneem het om te stuur nie.
Waar God aan die werk is, is tweede kanse klaarblyklik nie tot enkelinge beperk nie. Hier is ’n stad se hele bevolking aan die ontvangkant van sy genade. Hul gesamentlike verootmoediging het God se hart geroer, en Hy skryf hul kollektiewe skuld af. Hy kán dit doen, want Hy is God. Sy oop arms is wyd genoeg om ’n hele nasie te omhels.
____________________
U is ook my en my mense se God. Leer ons om saam na U te luister, en te hoor.
Dinsdag 23 JANUARIE 2018 Lees Psalm 62:5-13
Toevlug
Vertrou altyd op Hom … stort julle hart voor Hom uit! (v. 9).
Hy sal nie knak onder jou gewig nie, Hy raak nie moeg vir jou swaar hart nie. Hy is ’n rots. Hy is jou toevlug as die ander wegkruipplekke – vriende, bure, familie, medegelowiges – nie opgewasse is teen die aanhoudende aanslae nie. Op Hom kan jy vertrou.
Só sê die psalmdigter. En ons weet presies waarvan hy praat.
God is by uitstek ’n wegkruipplek. Ons skuiling teen die stormwind én teen uitputting te midde van die ongelyke geveg teen hierdie wêreld se dwarswinde.
Dikwels is ons behoeftes nie so dramaties nie en verkeer ons nie sommer in lewensgevaar nie. Meestal wil ons bloot ’n bietjie wegkom van alles. Van die vele eise en verpligtings, van al die verwagtings en aansprake.
By wie sal ons dan gaan skuil? Is ons dan steeds by hierdie Rots welkom – al is ons nie deurentyd yweraars vir sy koninkryk nie en al werk ons nie heeldag in sy wingerd nie? Kan ons dan steeds by Hom gaan aanklop, al het ons ons nie vir sý saak afgesloof nie?
Jy is welkom! sê die mense wat weet. Nee, verseker hulle ons, Hy stel geen voorwaardes nie. Vertrou altyd op Hom, bevestig die digter. Altyd.
Wanneer het sy kind ’n groter behoefte aan daardie “altyd” as juis in die tyd dat die lewe jou van alle kante druk? Wanneer jou hart so vol is dat jy dit moet uitstort, en dan by iemand wat verstaan, en vas staan?
Hier is daardie Iemand! juig die psalmdigter. Hy was nog altyd hier vir jou.
____________________
En hier is ek, Here, my Rots! U moeë, bewerige kind. Ek kom kruip weg by U.
Woensdag 24 JANUARIE 2018 Lees 1 Korintiërs 7:29-31
Tydelikheid
… want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan (v. 31).
Daar is ’n tyd vir alles, het die ou Prediker gesug, en eeue later waarsku Paulus dat “alles” ook sal verbygaan.
Paulus gebruik nogal skerp taal om sy boodskap tuis te bring: Getroudes moet leef asof hulle nie getroud is nie; hartseer mense asof hulle nie bedroef is nie; dié wat verheug is asof hulle nie bly is nie; kopers asof hulle niks besit nie. Die dinge van dié wêreld is bloot tydelik, sê Paulus, en hul betekenis dus aan ’t verdwyn.
Dit alles sê hy om sy lesers te help om hul perspektief te behou. Dat hulle nie so vasgevang raak in die alledaagse en die ondermaanse dat hulle die groter doel van hul lewe uit die oog verloor nie. Hy is bevrees dat dit hulle suur sal bekom.
Tot vandag toe is perspektief van lewensbelang, en dalk juis in dié dae van inligtingoordaad en die keuse-oorvloed wat so dikwels dreig om ons te oorweldig. Spesifiek vir mense soos ons wat tog so graag op sleeptou geneem word. Gewillig meegesleur word, wat selfs entoesiastiese meedoeners word.
Net om dan, wanneer ons tot satwordens toe moeg geword het of nie meer opgewasse is teen die dolle gejaag nie of dalk onseremonieel by die monster se bek uitgespoeg word, uit te roep: Help my!
Pasop! sê Paulus. Draai om voordat dit te laat is. Jou en jou wêreld se tyd gaan vinniger verby as wat jy dink. Jou klein hoekie se dae is getel. Daarom: Gryp die dag, hiérdie dag.
____________________
Here, vergewe my hierdie vermorsing. Hoor my wanneer ek sê:
“My tye is u hand.” En help my om dit te glo.
Donderdag 25 JANUARIE 2018 Lees Markus 1:14-20
Dissipelskap
“Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (v. 17).
Toe Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy nie allerlei groot woorde gebruik nie. Hy het nie die geroepenes met somber, verhewe taal aangespreek nie. Hy het bloot gesê: Kom agter My aan.
Dit is die eerste opvallende feit in hierdie stukkie verhaal. Die tweede, wat hiermee gelyk staan, is die plek waar Hy hulle vra om Hom te volg – hul werkplek. Hiér sou hulle sy beeldspraak oor “vissers van mense” die beste begryp.
Wat presies hulle daarvan verstaan het, sal ons nie weet nie. Feit is, hulle het alles net so laat staan, hul gereedskap, hul mense, en gemaak soos Hy gevra het: Hulle het agter Hom aan gegaan. Simon en sy broer Andreas, Jakobus en sy broer Johannes.
Dit is die eenvoud van dit alles wat die hedendaagse leser aangryp.