Die grammatika van liefhê. J.C. Steyn
on>
J.C. Steyn
Die grammatika van liefhê
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Die grammatika van liefhê mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Tot positiewe kom
Die stryd wat dit was om tot verhaal te kom –
woorde uitgevis,
gebreek, gedeel, met ander woorde gesplits,
mandjiesvol oerbetekenisse opgetel,
beproefde spraakkunste geïnternaliseer
om pynlik volgens grammatika-algoritme
met reëls vir aaneenkettinging (-ing …)
tot my sinne te kom.
En ja wragtig:
“Wie soek vind” maak jou waarlik sin!
Met die Skrif klop dit selfs waar-agtig.
Vind neem ’n “inhoudsobjek”
of dan “innerlike objek” vir wie geen inhoud ken:
nie-vind.
Vasstel kan ek dit proefondervindelik
uitvind
onder “uit die dieptes” verlore vis
(geskokte teoloë sal wel weer versteld galm: Bó vind!)
ervaar
soos ’n psigoloog wat die hele sielige fenomeen be-, aan- of deurskou,
maar om de dooie dood nie
áánvaar
met “stille berusting” in my lot.
Dit verseg ek daar kun je donder op zeggen
ek sê liewer met klem nie-agteraf vaar in jou kánon.
Twee halfronde
I. LAAGLAND
Hom het ek
in my selfbewuste nie-intellektuele taal
pleinweg of Neerlandistieser: platweg
“lief”
ondanks/danksy
sy afsydige geslotenheid, sogenaamde dekadensie en morele verwildering
sy kilheid: dis almelewe son-dig.
Ek word aangetrek –
moer-moreel soos aartappels of koffie
verken ek mistige aande vry onverveerd
keiharde strate van die sentrum, glo die hart,
middernag lê my oor as dit ijssel
aan die hartklop van die leidse plein
vergeefs tas ek met die nachtvorst
na het paleis op de dam glo bekend
om sy bizarre konstruksionele homonimie.
Seldsame son-dae
“in mei leggen alle vogeltjes ’n ei”
bevaar ek grag vir grag of die hawe
geskei deur afsluitdyk en oseaan
van my kus: die kaap van storme
hy trek my aan.
Amsterdam o amsterdam
kon ek jou maar onbesonne
oorplaas na my barre dorsland
oorplant in ’n groote schuur
voor jy my hart raak, in my bloed kom,
raak jy wel verwerp
vir jou magere brug, waterlooplein, schreierstoren
egter – dank je zeer, tot wederom.
II. HOËVELD
Onverbiddelik
verbitter jy
my biddery
vanweë jou verbete droogtes,
my weerlose lydsaamheid
slag vir slag met elke opgedraaide mielieblaar
velde onvermurfbaar gaargebak, -gebraai, -gekook, verteer;
seisoen
op bitterlike seisoen kies my
jou verwerping: as ek baard moet kry en kop
raak ek verstoppel, geleidelik verstok
wanneer jy oop voor my lê en kaal
vries ongenaakbaar jou drif in die sloot
bloeityd ryp jy vrugteloos my dood
voor ek saadskiet, geel in die aar kom
kom jou stroper die soet hoop finaal
teen bid en dank in die modder hael
weer verweer jy my al weer ek my.
’n Donderdagmiddag met son verskyn
die jy van vanmelewe
fonteine ná landsreëns
blommende êrtappels (mooi outyds soos “jou kappie het my beet”)
geelwortels in natgeleide beddings;
jy ontroof ou wonde: rou, teer;
ontsmet gou! verhoed bloedvergiftiging met pekel.
Nee, jy’s ingeja
in my bloed onvermydelik in
in weerwil van myself/jouself
ingedryf onder my vel in: jy teer
in vel en been,
herkou ’n slag die harde bene,
slag maer af nog ’n slag maar
sout in, sny breed, brei my
Riemland my Riemland.
Afskeid van Amsterdam
Hagel en natte sneeu
is die afskeidskus,
sy laaste woorde
in die koue gelaat;
ek raak weggevoer
probeer my klem
aan ’n beierende toring,
’n kermende trem;
met honger meeue
wil ek grag vir grag
my mee laat sleur
maar geen deel het ek meer
aan die verlore stad
wat my nooit weer sal aanspreek
nooit nie nee nooit.
Woord en sin
Woorde is almal s’n,
nie net myne nie;
daar’s geen heimlike opsie nie,
’k was te laat vir mineraleregte.
Maar delwe kan ons tog almal
dwarsdeur ons hele lewe deur;
buitendien en boonop
vir kleims is gehardloop
en