Die plesierboom. Audrey Blignault
>
Audrey Blignault
DIE PLESIERBOOM
TAFELBERG
Vir Kleinboet
DIE PLESIERBOOM
Mense maak altyd asof dit niks is om ’n boom aan die groei te kry nie. “Ag,” sê hulle, as jy hulle die boomplantkuns afvra, “jy sit hom in die grond, jy gooi hom nat en hy groei.”
Nou, dit mag so woerts-woerts gaan met ander mense se bome, maar dit gaan nie so met myne nie.
Ek plant ’n boom soos ek gesê word om hom te plant. Ek spuit hom nat en dra hom nat en hou hom nat en huil hom nat. Ek skoffel sy grond los en trap sy grond vas en gee sy grond mis en allerhande skille en ’n groot verskeidenheid van aanspoormiddels uit ’n groot verskeidenheid van sakke. Ek bind hom op met ’n sterk stuk sloop uit my linnekas of ’n rolletjie goeie band uit my naaldwerkblik of ’n tiklint wat ek dalk nog kon gebruik het. Ek gaan soggens na hom kyk en smiddae en saans voor die son sak weer. Ek bestee ure se kosbare gevoel en gedagte aan hom. Maar al wat groei, is hy.
Hy verlep sommer die eerste dag soos ’n Westelike Provinsie-krieketspeler. Of hy verbleik bietjies-bietjies soos een wat berrie-berrie het. Of hy verskroei in die suidoos of iets vreet sy blare af of die kruidenierswa ry hom om of die oerie-oetang toor hom oornag weg. Of – wat nog die ergste is – hy staan sommer eeue lank bokbek op een plek en doen glad niks. Hy word niks groter of kleiner nie. Hy kwyn nie weg nie en dy ook nie uit nie. Hy verloor nie ’n blaar nie en kry ook nie ’n blom nie. Hy staan net soos ’n pop met semelarms, vir niemand tot aanspraak of plesier of verwondering nie. En dit maak my wanhopig oor al die arbeid wat ek met moeite verrig onder die son.
Só voel ek as ek na die twee rooi perdestertbome op ons erf kyk. Hulle was al hier toe ons amper ses jaar gelede in die huis kom woon het. Twee sulke halfwasboompies met yl blare en drie rooi kwassies tussen hulle. Ek het hulle al persoonlik natgespuit dat my tong uithang. Hulle kry meer mis as wat ek kos kry. En ek het nog nooit gesien dat ’n wurm van hulle notisie neem nie. Maar grootword? Nie hulle nie. Hulle staan nou nog net so halfwas met dieselfde verestowwertjies van yl blare bo en dieselfde drie rooi kwassies tussen hulle.
En nou gaan dit weer so met die twee seringboompies wat Ma laas vir ons uit haar paradys van ’n dorpstuin gegee het. Hulle blare was drie dae pap en val toe af. En tot op datum het hulle nog nie weer ’n blaar gekry nie. Hulle staan sommer so dikdood die dae om.
En dis nou húlle wat by my die gedagte laat ontstaan het: ek wens, o ek wens ek kon ’n ander soort boom plant, heeltemal ’n ander soort boom as wat mense gewoonlik plant. Ek wens ek kon vir my ’n plesierboom plant, ’n boom wat spesiaal vir my sal blom as ek die dag hartseer of hondgemaak of hempie-raak-my-nie voel. Sou dit nie opwindend wees om so ’n boom te plant nie!
Sê nou maar ’n sjokoladeboom, een wat al die lekkerste soorte sjokolade aan sy blink takke sal dra: groot bulteriges met dik, dik neute wat so kraak onder ’n mens se tande, vastige klein rondetjies tjokvol tongbrand gemmer, langwerpiges wat by die eerste byt bars van die roomvulsel en die koffievulsel en die amandelvulsel. En aan die heel boonste takke baie, sommer baie van daardie boepensbotteltjies vol kersielikeur.
As ek dan op ’n dag voel dat al die goud in die stof uitgegooi is, stap ek in my tuin en daar, skielik, soos ’n handvol silwervere, sien ek my sjokoladeboom. Ek pluk wat ek wil hê, ek eet van dié met die neute, van dié met die gemmer, van dié met die room- en amandelvulsel, en heel laaste van dié met die kersielikeur, en dan het ek sommer weer moed om die goud uit die stof te sif, ja, en om selfs ’n snoertjie daarvan om my voordeur se knop te hang.
Want dis die doel van ’n plesierboom: om ’n mens op jou as-en-doringdae iets te gee wat die lewe weer lekker maak.
Kyk nou wat ’n plesier sal ’n boekeboom vir my wees – ’n sterk, stewige boom met breë takke waaraan al die boeke hang wat ek graag wil hê en nêrens kan kry nie: Boshoff se Afrikaanse volksliedjies en Dostojewski se dagboeke en Emerson se briewe en die gedigte van Emily Dickinson en die boek van Job met houtsneë geïllustreer.
As ek dan op ’n dag dwalend raak van die ou honger na die paleistente tussen die see en die berg van die heilige Sieraad, staan daar meteens my boekeboom voor my, glansnuut, ryk belaai en vol van ’n heerlike belofte. Dan pluk ek met gretige hande my volksliedjies en my dagboeke en my briewe en my gedigte en ek leef weer buite tyd en plek met dinge te wonderlik vir my soos vir Job. By daardie plesierboom neem die lewe weer vir my nuwe vorme aan soos die klei onder ’n seël en ek kan weer sê: my hart versmaad geeneen van my dae nie.
Maar ek wil nie vir my alleen ’n plesierboom plant nie. Ek is mos nie ál een wat wag op die geluid van die horingfluit nie. Elke mens het sy eie soort plesierboom nodig wat in sy uur van nood vir hom alleen blom. En dink net hoe lekker dit sou wees om vir iemand so ’n geskenk te gee: ’n plesierboom wat jy net vir hom bedink en geplant en grootgemaak het.
Vir my man sou ek graag ’n sigaarboom plant wat die geurigste Hollandse sigare, klein en groot, sal dra sodat hy een kan pluk as hy saans moeg by die huis kom en behoefte het aan iets om hom op te flikker.
Of dalk kan ek vir hom ’n koeksisterboompie plant, ’n outydse koeksisterboompie wat groot, nat koeksisters dra of anders ’n boom met rooi dasse of sagte, grys truie of broeke wat pas. Hy sou ook groot plesier hê van ’n galjoenboom, ’n syhempboom, ’n boom met skerp potlode en – op die oomblik – ’n baie hoë boom met ’n nuwe motor, een soos ’n jagluiperd, wit van buite en rooi van binne. As ek nou vir hom só ’n boom kan plant, sal hy mos elke dag op sy tone loop van verwagting. Hy sal nooit weet watter lekker verrassing hom by die huis inwag nie, en ek sal vir hom wonderliker word as wat ek ooit tevore was.
Dit sou ’n onoortreflike hulpmiddel in die huwelik kon wees, so ’n plesierboom wat ’n vrou vir haar man plant en ’n man vir sy vrou. Dit sou soos niks anders nie verveling voorkom, spanning verslap en nietige wrywing uitstryk. Dit sou sonder twyfel die romantiek in die huwelik hou en verhoed dat die fantasie vroegtydig kwyn. Dit sou ’n baie beter smeemiddel wees as ’n strandhuis, ’n danskursus, aparte vakansies of ’n oorsese reis. Dit sou die geloof aan mekaar sterk en die liefde laat gedy tot in die dag van die ouderdom.
Waarom sal ons dan nie ernstig dink aan die plesierbome wat ons vir mekaar kan optower nie?
Marietjie, weet ek, sou hou van ’n rokboom, ’n uitsonderlike rokboom wat net één volmaakte rokbloeisel op ’n keer dra, heeltemal eksklusief, onberispelik van snit en natuurlik nêrens te nou nie. Die geskenk van so ’n boom sal haar darem baie lief maak vir haar ma en sal haar dalk ook weerhou van die gedagte dat haar ma in ouderwetse dinkpatrone vasgevang sit.
Vir my skoonseun sou ek niks lekkerders kon bedink nie as ’n dragtige skroeweboom waaraan hy presies die soort skroef sal kry wat hy vir ’n dringende werkie en vir die behoud van sy gees nodig het. Ek glo nie daar kan ’n beter sekuriteit tussen skoonma en skoonseun wees as ’n skroeweboom wat nooit ’n verkeerde skroef voortbring nie.
Vir Ma sou ek graag ’n pienk boom wil plant, ’n plesierboom waaraan daar om die beurt al die pienk goed sal hang wat haar hart so knaend begeer: een dag ’n pienk stool met pienk fraiings, een dag ’n driedubbele string pienk krale met oorkrabbe om daarby te pas; dan weer ’n pienk tafelkleed met pienk vlinders daarop of ’n pienk teeservies met kantfyn koppies en ’n teepot soos ’n pienk krismisroos. Só ’n boom sou Ma gelukkiger maak as ’n brandpolis of slaapmedisyne of ’n getekende portret van Winston Churchill, en as dit ’n geskenk is van my, sal sy ook nie weer vir my sê ek is vol houdings en ligsinnig oor die ernstige dinge van die lewe nie.
Vir my suster Trix wil ek ’n skêrboom plant wat honderde skêre, almal lemskerp, roesvry en blinknuut sal dra. Kleinboet moet ’n plaasboom kry wat al die geure van ’n Reuensplaas oor hom sal sprei en wat as die wind die takke roer, al die plaasgeluide sal maak. Vir my neef Marquard gee ek ’n boom waaraan hy keer op keer die beste boeregrappe kan pluk en vir my tant Hettie ’n boom wat klein swart katjies soos akkers op die grond afskud.
Dis die beste en die sekerste manier om die gesinslewe te red – ons plant plesierbome vir mekaar. ’n Mens kan mos nie van ’n familielid vervreem as hy jou hart deurgrond en jou diepste verlangens peil met ’n plesierboom wat hy vir jou plant nie. Jy gaan mos