Die plesierboom. Audrey Blignault
se baldadigheid uit my linneskouerkleed gaan was het sonder om my in die minste te bekommer oor wat die slavinne van my dink.
Ja, ek weet Dawid het verskriklike sondes gedoen en ek kan nie sy bose dade goedpraat nie, maar hy was darem maar ’n man na my hart.
Was hy dan nie een van die seldsames wat die geruis van die voetstappe in die balsembosse gehoor het nie? Kon hy nie met sy siterspel die boosheid uit ’n mens se hart wegtoor nie? Was dit nie sy vaste geloof dat die hart wat die Here soek, moet bly wees nie?
Ek moet erken: koning Dawid se vrolikheid verbly my hart, en die Dawidsmense, waar ek hulle ook al teëkom, verbly my hart. Ek is dankbaar, baie dankbaar vir dié mense wat huppel en dans, al word hulle hoe suur aangekyk. Ek dink met liefde aan hulle wat, wanneer die geleentheid hom voordoen, oorgehaal is vir die feesoffer en die trompetgeskal. Ek het die diepste waardering vir hulle wat met hulle siterspel my weeklag vir my in ’n koordans verander, wat my roukleed vir my losmaak en my deur hulle geloof aan die blydskap van die soekende hart, met vreugde omgord.
Dis vir my heerlik om ’n mens teë te kom wat kan bly word oor iets en wat nie huiwer om te wys dat hy bly is nie.
Vandat ek kan onthou, was my ma só: sy kan vreeslik, maar regtig vreeslik bly word oor iets, veral oor ’n nuwe plant, ’n nuwe poeding, ’n nuwe boek of sommer oor ’n kind wat huis toe kom. As sy dan so bly word, moet sy dadelik iets feesteliks aanvang om uiting te gee aan haar blydskap.
Sy laat Lenie ’n plaat botterbroodjies bak vir tee, sy gooi ’n kantkleed met ’n goudgeel voering oor die tafel, sy sit haar pienk krale om en haar pienk stool met die fraiings, sy speel haar plaat van The Sound of Music op haar platespeler, sy bestel ’n blik turksvye by Dowe Jan, sy keer ’n bottel gebêrede parfuum op haar om. En as ’n kind huis toe kom, is daar altyd ’n vreugde-offer van blomme, die mooiste, die kosbaarste blomme uit haar tuin.
Nou die naweek toe ek weer by haar kuier, loop ek in ons slaapkamer in en daar op die kleedtafel staan soos altyd Ma se blommegroet: ’n enkele takkie sering en één pers orgidee in die silwer vasie uit ons vroeë kindertyd tussen die twee rooskleurige kerse in die kristalblakers en die kaartjie met Ma se welkomsboodskap daarop. Toe ek daar staan voor die brandende kerse met die ruik van die sering om my en die sagte aanraking van die orgidee onder my vingers, was ek vir die soveelste keer in my lewe dankbaar dat my ma so ondubbelsinnig ’n Dawidsmens is.
Daar is mos sekere seldsame wesens van wie ’n mens altyd iets besonders – ’n sprokiesgebaar, ’n verbeeldingsdaad, ’n vlug uit die alledaagse – verwag.
Hulle is die mense wat ons die voetstappe op die balsembosse laat hoor, wat langs die pad stilhou om die brandoffer te bring, wat tyd het om ’n bietjie op die siter te speel en ’n bose stemming te verdryf. Ek dink met waardering aan dié Dawidsmense sonder wie die lewe darem baie leeg en kleurloos en doodgewoon sou verloop.
Een van hulle is my goeie vriend, Mauritz de Kock, wat presies net soos koning Dawid altyd iets soek om te vier.
“Dis so ’n kosbare knikker van ’n winterdag,” sal hy oor die telefoon sê, “behoort ons dit darem nie te vier met ’n etetjie en ’n sagte Bolandse wyntjie nie?”
Of anders kom daar sommer sonder ’n rede ’n ruiker blomme van hom aan:
“Dit gaan vandag so goed met my. Ek het lus om vir iemand blomme te stuur. Nou stuur ek vir jou heide uit Baardskeerdersbos se veld.”
En dan gaan daar ’n jubeling deur die dag en my gees word sommer lig soos Saul s’n onder Dawid se strelende siterspel. En ek word bly dat daar ’n mens is wat die weivelde van die woestyn laat sing en die dorre dale bedek met koring.
Dis mos die Dawidsmense wat keer op keer ’n geselskap van dooilikheid red deur ’n skaterlag-grap, ’n kolskoot-kwinkslag, ’n skietmielie-sêding wat almal jonger en lewendiger en ligter van luim laat voel. Só ’n Dawidsmens is my vriend Quintus Keet, wat soos ’n sout seewind ’n kamer binnewaai en dadelik met verveling en verstarring en verbeeldinglose vernaamheid klaarspeel.
Een triestige winterdag staan ek by hom in die boekwinkel waar hy toe gewerk het. Buite drup die Kaapse reën eenselwig vaal oor die straat. Die boeke op die rakke lyk nat en koud. Die etensuur verwelk oor die stad soos ’n ou koolblaar. ’n Meisietjie soos ’n pienk radys met ’n hoë haarkapsel kom die winkel binne.
“Please,” sê sy vir Quintus, “have you any books on Greece?”
Quintus flikker dadelik op.
“It all depends,” sê hy, “whether you want kitchen grease or candle grease or the Glory that was Greece.”
En so onder die uitsorteerdery van die Grease en die Greece kry die gure winterdag vir my meteens die geur van pampoenkoek met kaneel.
By ’n ander geleentheid weer was ek in die boekwinkel toe ’n landsvreemde latlyf-vrou in ’n borriegeel jas die winkel binnekom en so half leepoog vir Quintus vra: “Do you happen to have Leipoldt’s Belly Book in this shop?”
Quintus stap oor na die rak met die kookboeke en begin deur die boeke blaai. So een na die ander sê hy die titels hardop. Skielik pluk hy ’n onaansienlike, dun boekie onder die ander uit: “Yeast!” roep hy uit. “Yeast!”
Die vrou ruk soos sy skrik en tree agteruit.
Quintus sug en maak ’n wringende gebaar met die boekie:
“Yeast is yeast,” kreun hy, “and west is west and never the twain shall meet.”
’n Oomblik kyk die vrou hom aan asof hy voor haar oë in ’n vlei-uil verander het. Toe meteens gaan daar ’n trilling oor haar gesig, haar staroog-uitdrukking word soos met ’n hand weggeveeg en sy lag dat sy mens word saam met ons.
Daar kom mos dae wanneer ’n mens voel dat die lewe een groot ashoop is en jy sit begrawe daaronder, en as iets of iemand jou dan nie kan laat lag nie, word jy sommer weerloos en jy kry griep of geelsug of ’n gifseer. ’n Mens moet kan lag om aan die lewe te bly, want, soos Langenhoven sê: as ’n mens die ou lewe ’n bietjie kan uitlag oor sy mishandeling, dan het jy die tande uit sy bek getrek en die kloue uit sy pote.
En dis nog iets wat die Dawidsmense doen: hulle hou die lag lewend onder ons. Sommige doen dit deur ’n aangebore talent as na-aper, as geestige verteller of sommer as sosiale hanswors. Ander doen dit met die spervuur van hulle skerts, hul aansteeklike selfspot, hul reddende gawe om selfs in die onsaligste saak die snaakse raak te sien.
My neef Marquard is so ’n Dawidsmens wat, waar hy gaan, die krake in die lewe met ’n lag toesmeer.
Selfs in ons kinderjare al het hy die koddigste stories op die wêreld bymekaar gemaak om ons te vermaak as ons met vakansies op die plaas kom kuier. Nou nog is daardie lang somermiddae in die struis op die werf vir my één gloedvolle lagbui onskeibaar saamgeweef met die hittetrillings oor die Klein-Karoorantjies, die ruik van plakkies in die son, die gehyg van die patryshond, Prins, onder die tafel en Marquard wat vertel:
“Die ou Koos Kerwats van Swellendam was mos so ’n kwaaikop. En hy’t so vreeslik graag dop gesteek. En dan, moet julle weet, dra hy altyd ’n rewolwer by hom. Regtig ’n ou vuurklou. En almal was vir hom so bang dat hulle die ritteltit kan kry as hulle hom in die donker teëkom. Hy’t so ’n entjie buitekant die dorp gewoon en saans as hy van die kroeg af huis toe gaan, moet hy by die kerkhof verby. Julle weet daar by die ou kerkhof verby, onderkant die Drostdy.
“Nou ja, toe besluit Pik Steyn-hulle een aand hulle gaan die ou ’n les leer. Hulle maak so ’n klompie kwajongens bymekaar, hang vir hulle wit lakens om en gaan kruip daar in die kerkhof agter die grafstene weg.
“Toe hulle ou Koos hoor aankom, rys hulle een vir een agter die grafstene op en kom met waaiende arms op hom afgestorm.
“‘Oeeeeeeeeeeeeeee,’ roep hulle.
“‘Huh?’ sê ou Koos. ‘Huh?’ En woerts wip hy sy rewolwer uit sy sak, skiet ’n vinnige sarsie onder die spoke in en skree hard: ‘Gate toe! Gate toe!’ En die spoke moet net fluks koets of die koeëls raps hulle.”