Die plesierboom. Audrey Blignault
mekaar dalk vergewe dat ons familie is.
Ook vir my vriende wil ek plesierbome inlê in die hoop dat hulle op die regte tyd die regte vrugte sal dra: vir Alba ’n boom met ou Kaapse meubels en nog een met ouderwetse breekgoed, vir Elise ’n boom wat deurentyd opwindende verslae oor krieket en bergklim uitsaai, vir Berta ’n boom wat krom lê van speurverhale, vir Anna ’n boom vol rustige werkure. Só sou ek graag vir my vriende iets wil bedink wat hulle vrolik sal maak soos oor allerhande rykdom. En ek weet dat dit ’n sterk skakel tussen ons sal wees, want ’n plesierboom groei nie sonder aandag en inspanning nie.
Met ’n plesierboom, soos met ’n sering of ’n perdestert, moet ’n mens baie moeite doen. Hy sal nie vanself opkom en sonder sorg aan die groei bly nie. ’n Plesierboom, vir ’n mens self of vir iemand anders, moet op die regte plek en in die regte grond geplant word. Hy moet op sy tyd water kry en die verryking wat die grond nodig het. En ’n mens moet ook maar oppas dat die boom nie skade kry nie, want hy is, net soos ander bome, blootgestel aan die wind wat hom verskroei en die wurm wat sy blare afvreet. Jy kan ook nie verwag dat hy buitenstyd moet blom nie.
’n Plesierboom ken sy tyd en blom wanneer hy moet. En die een vir wie hy dán vrugte dra, weet dat die koelte op sy pad vir ’n rukkie ’n beskutting is teen die skerp lig van die dag.
DIS NOU MY STRAAT
Dis nou my straat. Dis die straat waar ek begin het. ’n Mens het mos altyd ’n straat waar jy begin het, die straat waar jou eerste huis gestaan het, waar jy jou eerste mense leer ken het, waar jy vir die eerste keer geweet het: ek is ek en hier hoort ek.
Dit is mý straat, hier waar die Kaapse pad in die dorp inloop en ’n straat word. Die straat loop dwarsdeur die dorp, hier van die hoogte af tot dáár onder waar ’n mens die blou kom van die sandduine kan sien lê. Daar is die see. Sommer naby. My straat loop nie dood nie – hy hou aan tot by die see.
Toe ek hier gewoon het, was al die nuwe huise nog nie hier aan die bopunt van die dorp nie. Daardie groot huis met die boogstoep was die laaste huis aan dié kant van die dorp. Dit was die deftigste huis in ons straat met al die pragtige boë om die stoep. Die Bloms het daar gewoon. Kitta en Hanna was in dieselfde klas as ek en Trix. Hulle het sulke mooi Sondagrokke met afhangkrae en skoenlapperstrikke voor die bors gehad. En eenkeer het ek en Trix na Hanna se verjaardagpartytjie toe gekom en so gestry oor wie die present gaan gee dat ons die papier van die pakkie afgeskeur het en eers weer moes omdraai huis toe om nuwe papier te laat omsit. Toe kom ons eers op die rooijelliedraai by die partytjie aan toe al die reënboogkoekies al op was.
Dit was my eerste wêreld, dié straat met sy dorpshuise en bome en heinings en tuine. Ek het almal geken wat hier gewoon het en almal het my geken.
In hierdie huis bokant die skool het ons prinsipaal gewoon – mnr. Liebenberg. Die kinders het altyd gesê hy kan deur ’n mens se kop sien wat in jou gedagtes omgaan. Dit help nie om vir hom te lieg nie. Eenkeer moes hy vir Urban Swart ’n pak gee, en toe sê Urban vir hom: “Meneer Liebenberg, as jy my nie slaan nie, gee ek vir jou hierdie tiekie wat ek in my sak het.” En toe slaan mnr. Liebenberg hom nie.
Ek was bang vir mnr. Liebenberg, nog baie banger as vir ds. Viljoen. Waarom weet ek nie, want hy was altyd goed en vriendelik. Dit was sommer maar so – ’n mens moes bang wees vir jou prinsipaal. En vir die dominee. En vir die dienders. Hulle moes kyk dat jy jou behoorlik gedra. Voor hulle moes jy in jou spoor trap. En tog het jy geweet dat hulle ook mense is.
Ons het ’n kiekie gehad van mnr. Liebenberg se seuntjie, Wilhelm, waar hy tussen die hoenders op hulle erf sit in ’n hempie wat net so wit was soos die hoenders.
Toe die seuntjie siek word en sterf, het Mammie ’n krans van sneeuklokkies gemaak wat ek na die Liebenbergs se huis gaan wegbring het. Mnr. Liebenberg het self die voordeur oopgemaak. Ek het geskrik toe ek hom sien, maar ek kon nie toe omdraai en weghardloop nie. Ek het die krans voor my uitgehou en in sy hande gegee, maar ek het niks gesê nie. Hy het gesê dis ’n pragtige krans en hy bedank ons baie daarvoor, maar hy het so sag en so snaaks gepraat dat ek begin huil het. Toe ek deur die voortuin hardloop, sien ek een van die wit hoenders waar hy in die paadjie skrop. Toe tel ek ’n kluit op en ek gooi hom dat hy spaander.
Hier regoor die skool het oom Loutjie Neethling gewoon. Hy was kwaai en die skoolkinders het altyd gesê as hy ’n mens vang, stop hy jou in ’n goiingsak en hy hang jou aan ’n haak in sy buitekamer. Eenkeer het hy ’n voetbal wat die seuns oor sy draad geskop het fyn en flenters gesny en toe teruggegooi in die skoolkamp. Tog het hy eenkeer vir Kleinboet na die stal geroep, en hom ’n pragtige peitsie present gegee en gesê: “Nou toe, Boetie, moet nou net nie daardie pienk perdjie van jou deurbring nie, hoor!”
Ja, dis die skool, hier op die hoogtetjie. Daar’s nou ’n nuwe skool op die heuwel aan die westekant van die dorp, maar ons het hier skoolgegaan. Dit was toe nog nie so toegebou nie. Daar het nog heide en kalkoentjies en bobbejaantjies agter die skool gegroei. In die lente kon ’n mens uit die klaskamers die veld ruik.
Ons het nie toe ’n swembad en so ’n mooi sportveld gehad nie, maar ons onderwyseresse was baie mooi. Hulle het pienk rokke gedra en slave bangles hoog op hul arms. Hulle het almal fringes gehad en hulle het vreeslik lekker geruik. Hulle het ook kêrels gehad. Miss Fowler s’n was die mooiste – Koos Uys van Ondervlei. Hy het so baserig sterk gelyk asof hy ’n mens teen alles sal beskerm en hy kon net so goed perdry soos Tom Mix in die bioskoop. Miss Van der Merwe se kêrel was Jan du Toit van die dorp. Hy het so pragtig met ’n krom rug gedans, en as sy nooi langs hom in die motor sit, het hy altyd so afgekyk na haar en so mooi skeef geglimlag. Miss Magennis se kêrel was Myburgh Eksteen wat vreeslik goed kon tennis speel en swem en wat baie mooi gelyk het in sy baaibroek. Ons het altyd na hom gekyk as hy by die treetjies afgaan om te gaan swem op Waenhuiskrans. Ons het alles van die kêrels geweet en dit was net so goed soos bioskoop.
Soggens as ons saal toe marsjeer, het mnr. Allmann klavier gespeel – altyd dieselfde mars. Dan kyk ons hoe sy lang hare in sy nek wip en Joes Viljee maak ’n danspassie in die middel van die mars. Een oggend het ons Sankey gesing en een oggend Halleluja. Die mooiste Sankeylied was:
Jesu, lover of my soul,
Let me to thy bosom fly,
While the nearest waters roll,
While the tempest still is high.
Ek het daarvan gehou, want dit was vir my net soos die see by Waenhuiskrans as die noordewind waai en die branders tot by die voorste rotse slaan.
Die lekkerste Hallelujalied was “Tel uw Segeningen, Elk Waarvan Gij Weet”, maar ons was ook altyd bly as mnr. Liebenberg “Ben Slechts Een Wapendrager” opgee, want dan sing Pietie Siebert en Tottie Hoffmann:
Ben slechts een kalwerwagter
Ver in die veld.
Woeps steek ’n doring my.
Pa bring ’n speld.
Ma bring ’n knyptang
En trek hom uit,
Ek kry so seer
Dat ek sommer blaas.
En dan moet iemand altyd kantoor toe gaan oor onstigtelikheid.
Hier waar die stuk oop grond nog is, was die markplein. Daar het ons in die lente op die groen gras gesit en kettings ryg van die gousblomme. Dan kon ’n mens die geluide van die smidswinkel hoor, so gerusstellend, eentonig en gemoedelik soos die ritme van elke dag se lewe in die bekende dorpstraat waar niks verander nie en niks vreemds gebeur nie, behalwe die skrik in ’n mens self – maar daarvan praat jy nie.
Hier in die middel van die straat waar die brug oor die ou sloot geloop het, het ek vir die eerste keer die vrees geken oor ’n verkeerde ding wat ek gedoen het.
Ek en Liebe Chait moes die middag ná skool ons natuurstudiemuseum regpak. In ’n groen geskilderde kas met skuifdeure was daar allerlei skulpe, stukkies droë seewier, klippe en voëleiers wat die kinders bymekaargemaak het. Onder die eiers was daar een, so ’n groterige vale, wat nie geblaas was nie.
“Liebe,”