Droomwa. Barrie Hough
die blompot op die halfmaantafel om. Dora weeklaag later sag toe sy die water opvee en die blompot op ’n droë lappie sit.
Ma sê vir Cilliers: “Ek ry saam met hom in die ambulans. Kom jy agterna met die Buick.” En vir my en Pieter: “Wag julle hier. Ek sal bel.”
Die ambulans se deure klap toe. Ek staan by Pieter en Dora terwyl eers die ambulans met sy rooi noodligte en toe die Buick by die hek uitry.
Cilliers sit agter die wiel.
Dora vee haar oë met haar blou voorskoot af.
Nie ek óf Pieter eet die roereiers en roosterbrood wat sy vir ons maak nie. Ons drink net die soet, warm tee. Ek gee my kos vir Lappies. Hy eet alles. Pa het hom eenmaal ’n “asblik op vier bene” genoem.
Sonder om eintlik ’n antwoord te verwag, vra ek vir Pieter: “Wat makeer Pa?”
Hy praat nie. Dit lyk of hy wil huil.
Voor Pa siek geword het, het Pieter nooit veel gesê nie. Sy foto’s het gepraat. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit hoor sê het hy is jammer nie. As hy iemand kwaad gemaak het, het hy ’n paar dae later met die een of ander foto probeer verskoning vra. Ma het baie foto’s van hande wat blomme vashou en ’n treurige een van ’n hond agter draad wat Pieter in berou vir haar gegee het.
Wanneer iemand hom te na gekom het, het hy ook met foto’s wraak geneem. Tussen Ma se goed is ’n paar foto’s van haar in krulpenne en sonder grimering. Agter op een staan geskryf: “Negatief in fotograaf se besit.”
Teen elfuur is daar nog geen tyding van Ma-hulle nie. Pieter sê: “Kom saam. Ek het afdrukke om te maak.”
Sy donkerkamer is in die agterplaas, langs Dora se kamer. Net hy het ’n sleutel. Ek gaan net in wanneer ek genooi word.
Die hele donkerkamer is swart geverf, selfs die venster. Bo waar die deur en kosyn nie netjies voeg nie, is ’n plank aan die deur vasgespyker sodat geen lig inkom nie. Teen die muur is ’n plakkaat van Elvis Presley in G.I. Blues en ’n groot foto van die Buick.
Pieter het my jare lank probeer leer hoe fotografie werk. Hy wou hê ek moes die hele proses verstaan, begryp hoe die film uit ’n kamera naderhand foto’s word. Maar al wat ek wou sien, was hoe die wit papier in ’n bak vloeistof prentjies word.
Dié oggend praat Pieter nog minder as gewoonlik. Hy werk vinnig in die oranje lig. Toe die eerste stuk fotografiese papier reg is vir die pan met die ontwikkelaar, begin ek konsentreer. Pieter sit die papier in die bak.
Byna sonder om asem te haal, wag ek vir die skaduwees om te verskyn en patrone te vorm. Pieter staan, tangetjie in die hand, oorgehaal om die papier uit te haal sodra die foto reg is.
Dit voel of die donkerkamer met sy skemerige lig ’n droom is. Ek staar stip na die wit papier. Eers is die skaduwees net skimme. Hulle word donkerder. Ek sien die prentjie.
Die foto is van ’n gang in die bouval twee blokke van ons huis af. Pieter het een aand vir Ma van die gang vertel. Hy was so opgewonde hy het selfs baie gepraat.
By die vier oop deure aan die een kant stroom die lig in. Dit lyk of jy aan die strale kan vat. Die lig val oor die growwe houtvloer en eindig in skerp reghoeke teen die oorkantste wit muur. Plek-plek skilfer die verf en pleister af. Die gang loop dood in ’n toe deur. Die deurknop en metaal om die sleutelgat is ’n vlek op die ligte hout.
Pieter het vir Ma vertel dat die koperdeurknop dik aangepak was met groenspaan. “Groenspaan.” Ek het die woord op my tong geproe. “Wat is dit?” wou ek weet. Ma het ’n paar ou pennies met koning George se kop daarop gaan haal en my die groen aanpaksel op die bruin koper gewys. Groenspaan.
Die tweede foto wat Pieter ontwikkel, is ’n gesig. Net voor hy die foto uit die pan haal, kyk Pa deur ’n lagie vloeistof vir my.
DRIE
Ek weet nie hoe laat Ma teruggekom het nie. Die volgende oggend kan ek aan die donker kringe onder haar oë sien sy het min geslaap.
“Bring vir my asseblief nog ’n koppie koffie, Dora,” vra sy. “Ek is so dors vanmôre,” sê sy sonder om na Dora te kyk.
“Swart koffie, mevrou?”
Ma knik en laat haar kop sak. Cilliers roer sy pap en melk met ’n lepel om en om. Hy stoot sy bord terug. “Ek kan nie eet nie, Ma.”
“En die proewe vanmiddag? Hoe gaan jy swem as jy nie geëet het nie?”
“Hoe moet ek swem as hy so daar lê? Met naalde in sy arms en verbande om sy kop?”
Pieter en Ma kyk vinnig na my. Cilliers trek sy hand oor sy mond asof hy die woorde probeer wegvee. Die pap wat ek gesluk het, sit soos ’n prop in my keel vas. Cilliers vee sy oë af.
“Hy sou wou hê jy moet … Doen dit vir hom.”
Cilliers slaan met sy vuis op die tafel. Hy storm uit. Stil kyk ek, Ma en Pieter vir mekaar. Dora bring Ma se koffie.
“Pieter, wat kyk jy my so? Hou jy my dop?” vra Ma. “Dis nie nodig nie, hoor,” voeg sy by. “Ek kan my eie waghond wees.”
“Nee. Ek wonder net of Ma vir Paul gaan vertel? Hy moet tog weet.”
Ma antwoord nie. Sy drink die koffie, maak haar oë toe terwyl sy sluk
“Pa is baie siek,” begin Pieter. “Daar het ’n aar in sy kop gebars. Die dokters het gisteraand geopereer. Hulle het die bloed probeer stop.” Hy praat stadig en eentonig asof hy vir my probeer verduidelik hoe ’n foto ontwikkel word. “Sy brein het seergekry. Hy is in ’n koma.”
Ek onthou die onduidelike gepraat en gefluister en Ma se gehuil wat die vorige nag soos wind deur my slaap gewaai het.
“Gaan hy gesond word?” vra ek.
Ma en Pieter kyk weer vir mekaar. Ma strek haar hand uit en vat my hand. In haar oë lees ek hartseer en vrees.
My kop word vol van Pa: hoe hy skelm vir my knik wanneer die ander my terg; die kere wanneer hy my ’n tweede maal kom nagsê as hy kamma vergeet hy hét al; sy hande wat my hare deurmekaar krap; sy breë rug onder my toe ek nog klein genoeg was vir perdjiery; die glimlag oor sy skouer daardie oggend by die dam.
My hand klem Ma s’n vas. “Ek wil my pa sien.”
Ma druk my hand. “Wag tot vanaand, dan gaan …”
“Kom ons gaan vanoggend, Ma,” val Pieter haar in die rede. “Ek wil hom ook sien.”
“Dis nie besoekure nie. Julle gaan laat wees vir skool,” keer sy.
“Gaan Ma vandag werk?” wil Pieter weet.
Sy skud haar kop.
Deur die venster sien ek hoe Cilliers sy fiets deur die hek stoot.
Toe die verpleegster die groen skerm om die bed wegtrek, herken ek nie dadelik vir Pa nie. Hy lyk anders. Om sy kop is ’n verband soos ’n tulband. Dit laat hom na die Indiese of Arabiese koning in een van my storieboeke lyk. Eers toe ek nader kom, eien ek hom. Sy lippe, wat altyd roer van die lag en praat, is stil. Sy oë is toe. Oor een ooglid kronkel ’n blou aar. Ek wil daaraan vat. Dis die eerste keer dat ek so na hom kyk, terwyl hy rustig lê en slaap.
Ek weet hy het mý sien slaap, want soms, as ek wakker word, was sy gesig die eerste ding wat ek gesien het.
Bokant sy bed hang ’n plastieksak met vloeistof. ’n Dun buis loop af tot in die waai van sy arm. In ’n ander sak, wat onder sy bed hang, loop Pa geel leeg.
“Hy is nog nie geskeer nie,” sê Ma toe sy Pa se wang streel.
“Ons sal dit doen voor die dokters op hul rondtes kom,” maak die verpleegster verskoning. “Dis eintlik nie besoekure nie,” voeg sy by.
“Ons weet,” sê Ma.
“Kan ek hom skeer?” vra Pieter.
“Wat?”