Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
betekenis
met spraak en letter soet uitvlees,
die laaste argument is been?
Gaea
Sy kners op kieste van basalt
en sluk asuur
buk oor die baaierd, geboortestoel
van ys en vuur.
Vraag II
Dertig silwerlinge was genoeg om ’n erf
mee te koop of Christus te verraai,
wat het in hom gepraat toe hy dit neerwerp
om swart aan ’n boom te swaai?
Bedenking
Wat leun hier teen my nek aan
sierlike swaard, seremonieel
om my tot ridder te slaan
of ’n kaler, ’n saakliker staal?
Digter I
Ek praat nie veel, verkies die dink
en skrywe soms iets neer met ink:
van ek my ken knaag dit in my:
die eelt wat in die oester blink.
Pasêla
Kaalvoet herinnerinkie van ver vandaan
wat skielik voetseer voor my staan:
onder hulle klippe uit vlug die klein akkedissies
en onder my ooglede, vinnig, die trane.
Dood van Seghers
Driftig het hy die deur geklap
en opgestraal met ’n donker trap
wynheldersiende, etsnaald! gou!
maar die dood het die groot ets uitgekrap.
Portret van M.E.R.
Wat sien ’n mens? Die gesig van ’n vrou
of liewer, die kop van ’n vrou, want
dít is wat dwing: die kop, verstand,
al haar trekke deur die gees gedissel;
vlakke veelsinnig wat sluit en wissel
som ’n lewe saam in die kop van ’n vrou.
Gesel
Hulle het deur die koring geloop
die korrels gevrywe uit die kaf
op die Sabbatdag
maar een het onsigbaar saamgedraf
Satan wat geduldig op
Judas Iskariot wag.
Die swart kombuis
Die swart kombuis het balke
die mure is berook
in ’n groot gekraakte erdebeker
woon dags die nagskof-spook
die swart kombuis het luike
skeefgesak en toegesluit
aartappels lê die werf rond
skedels wat loop oog uit
die vensters het geen uitsig
die werf die lug het geflou
die grond is vaal puimpoeier
die aartappels is grou
geen mens beweeg hier binne
geen mens werk op die werf
êrens tussen middag en skemer
het die aarde se lug gesterf
’n middag hoe lank gelede
die swart kombuis is oud
daar wás nooit somer-sonlig
die swart kombuis is koud
daar hang ’n snaakse skottel
met ’n riffel-hingsel aan ’n riffel-rand
en ondertoe twee gate
wat loer aan die een kant
het hekse hier gebak en brou
die swart kombuis die swyg
daar in die hoek lê ’n kat-skelet
die swart geheim bly dig.
Naggeskiedenis
Dit het die warende gees my een nag toe vertel:
daar is geen ewigheid vir ons in hemel of in hel:
ons leef ’n stond net, al hoe dowwer, flikker eindelik uit:
het ek dan nooit gehoor nie die voorgevoelde droefenis in Abélard
se luit . . .
maar Abélard en Bernard, die wit oes van ons lig!
Klein is ons lig en skaduend vergeleke met die Lig . . .
Hy self, die Parakleet, kom ons om verskoning vra:
verduidelik dan die heilige leuen: opdat die aarde vrug bly dra
(een het getwyfel: is Hy nie herrese nie, verniet is ons geloof)
móés God ons die opstanding en die Paradys beloof . . .
Hy het ’n verre doel met ons wat ons self nooit sal weet –
ons bly ’n middel net – die wit oes sal vergeet.
Spook, is jý nie die leuenaar nie, eers Christen en nou boos?
Ons strewe hier is sinloos? Hy antwoord dof: Sinloos.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.