Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
en weet dit nie,
met die klein banier van ’n Spaanse lag.
Pleroma
Elders as net in jou soek ek die sin
van al die kwellende dinge wat saadgooi
in my brein:
klein aarde onverwoesbaar, korrel smart
wat daagliks vreeslik sterf
en elke dag begin
en steeds al feller sterf
maar reeds al groter leef
tot daardie laaste verste dag
jy, leeg van gruwel en swaartekrag,
van groei en dop, net enkel oes sal wees,
volwasse, vol, geskape Lig,
die vrygevegte –
dan net in jou, jy Hóm, my hele sin:
deurstraalde skepping naatloos een
met Hom die selfverwekte.
Die gees se donker lading kroon, verlos
getrou, Minerva-Christus wapenloos.
Man met ’n vlieër
Vir Juan
Hy staan eenkant, enkeld, alleen,
dwingend vertikaal, ’n vlagpaal, ’n mas,
’n altaar, ’n stapel geheime wat deur sy bloed
terugreik na watter verledes, volkere,
hartstogte, drome, visioene
en far-off unhappy things . . .
Sy klere wimpel om sy lyf:
lewende mas op ’n berg in die wind.
Watter vlae trek deur hom op
langs sy arms tot in die dun tou
wat deur sy vingers vinnig al hoër
onsigbaar klim na die klein kleurvlak
geometries suiwer, ’n uitroep
of ’n eensame ver weemoed, ’n uiterste
onsegbaarheid rooi teen blou:
bloed, moed, sein, seil in die asuur –
Watter vergete vaarders, vissers, onthou
die deining van hierdie middellandse see
in die ritme van sy polse?
Die lig eet aan sy glans, sy omtrekke,
sy gebruinde rossige huid,
en sy gesig is ’n offer aan die son.
Hy speel met sy vlieër soos ’n kind
maar daar is ’n verwikkelde erns in die spel
en ek wonder of hy dit weet . . .
Kennismaking
Blinker wewe deur die brein
gloeidrade: daar kom stormweer!
Toe ek baie klein en bles
skaars nog ’n voetganger was
tóé al was dié te kere gaan
van die elemente die groot aardwonder:
die ruik van reent en die wit haelsteentjies
wat bont rondgespring het
en “wip, baba, wip” vir my gesing het
onder die raas met die blitse
die’t ek oopmond geëien
en op die punt van my tong tóé
die verrassing van druppels geproe
wat van ’n water
uit die lug is, soos later
van woorde, blink uit die brein.
Petite marche funèbre
Tru
tra
traam
wonderlik droewige droom
twee alleen
straat
mekaar
die arm om
drentel
dink
praat
dankie
jy’t gekom
min
tyd
laat
mekaar
die arm om
wonderlik droewige droom
tru
tra
traam.
Magnetic north?
Gaan my ou fiets wit verf
Holland toe ry op my óú fiets
gaan alles nou wit verf hede verlede
alles wit weer weg allie ou verf
blik vat smyt ’n Pollock ’n provo
Holland toe ry met my wit nuut
fiets-piets fiets-piets fiets-piets
ver in die nat in
wit vaart in die swárt in.
Juis. So take it easy –
Antieke wandeling
Ek verlustig my speels in die gode,
loop graag die bokpaadjies
van die skrik en bygeloof, en haastiger
verby gate in die grond en grotte –
Ou kruike uit hierdie see
wat die bruin vissers nog steeds ophaal
saam met inkvis en krewe, dié dink ek terug
soos hulle moes gewees het eenmaal
glad en nuut gevorm nog nat op die potgooi-wiel
om later blink van glasuur, die wyn
en die olie te hou en die skoon graan –
Maar op dieselfde paadjies
getrap in dié aarde in deur geringe
en vlugtige spore van diere, en herders
met oeroue bekommeringe:
steentyd-drome, gelowe en bygeloof, ou vrese,
rate en raad en veel ook van kwaad:
alleen met die roosmaryn- en tiemiegeur,
die klippe en skulpe wat skedelig rond is
en skyn: in daardie lig bokhoog bokant
die getyelose turkooisblou see,
word ek ruim en leeg en skoon van gode,
van kwaad en goed, van helde en heiliges
en idiote, van als wat mink of vermink is
vreeslik of skoon is . . .
Totdat die wind my weer dwing om te luister
na wat die grasse fluister om die knikdans
van dissels – Dan hoe swerm die ou geheime
weer