Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
het die hef in die hand,
ek het die lem;
die vingers wat op die grond beland
is myne as ek rem.
Count-off
My oubaas Dedalus wys met sy vinger óp:
in Lucifer se sonbril sien ek ’n silwer pop,
yours truly, facto Dedali, ’n bloedvat-labirint;
sy stophorlosie tik, my speelgoed-hartjie klop.
Die vreemde moeg
Moeg, en magtig ongeduldig vol
ongeduld wat lééf. Wat ek hier nog kan weet –
en daar is veel – voel ook te smal al.
Hut
van my wese, wat op ’n wye verlatenheid
reeds meer as veertig jaar getrou
sy klein skoorsteen laat rook
het, my goed én goed beskut
het, min of meer, teen so veel were –
die hittes as die kimme gekook
het, die valwinde se blindende venyn
van sand, die vlym wat nag is en winter –
nederige jort
van die steppe:
jy’t te klein
te donker
en te benoud geword.
Die etser
Hy het die etse later op driftig geskeurde
lakens en linne gedruk, die ge-eikte laaglande om hom heen
al hoe meer
vir dwaalriviere, toornige berge, heksboom
en oerruimtelik genadelose vergesigte versweer.
Wêrelde ruig van bedoeling, ru, en byna altyd
huiwerig bespook deur heimlik altyd dieselfde
nietige mensfiguur;
eenmaal – skrynende nadruk op ’n eensaamheid –
sy hond ook:
Volg op ’n maannag die amper vergroeide voetpad
na daardie popelende Negatief van dooie mure
in swart lig en helwit skaduwee
waar die vleer hou en die uil en die ondinklike ding.
’n Ktoniese stilte kikker kikker kikker, likkel
die behoedsame sinne ín in die gloed van ’n swart
wat die strak asem bewerig-lam dwing –
dié donkertes wat hy besonder onder die was
toegedek het – kan swart swarter? – suisswart,
swang . . . flonkerend van glure . . .
totdat trillende wonde en lusse van wit lyne wat
weet wat skrik is, die implosiewe blik
betyds vang en verlos in ’n gerigter kyk
na buite – verswymde oë bykom, knipper en sien:
wit op swart, ’n ruïne; ruigtes; maan- of nooitlig;
en dan, die hond en die man,
twee wat dalk een is – bang hart en sy mens.
Sal die hond huil, sal die man vloek, as die stene
in die mure roer en omdraai, gate en grynse
ongeveins?
Wat het hý gesoek in sy nag alleen:
wou hy op daardie plate in die borrelende etssuur
tot op die been, tot op die laaste lag sonder lippe
laat oopvreet, laat uitpuur –
én wurg tot onontwarbare anagram?
Want hy het verkén wat hy vermom
het – ín hom die verslete senuwee
lewendig uitgerafel tot ariadnedrade
vir ’n wrang moed se speurtog deur ’n wrang nood . . .
En in dié donkertes wat Rembrandt bewonder
het, die so besonder versigtig onder die was
afgedekte – watter laaste heldersien het hy daar
na alles, swart toegevee?
Soms sou die wyn gehelp het; vir die klippe
wat skater, vir die onverdryfbare koue van ’n voorbode
êrens in knope en wronge
van sy etsnaald se onnaspeurlike weë
lank reeds saam met hom dood.
Miskien het hy niks geweet wat die wêreld nie weet nie;
maar dat koper en staal en ets-ink, én lyding –
geslepe genie – dit so kon getaal het, dit is
besonder.
Die krom swaard van die boggelrug-ridder
Fout was sy geboorte, my vorm fout,
skeef onder ’n deksel van eikehout
my donker heer en sy helder staal
koud teen die heup en die heupe koud.
Swaard II
Aanskou hom – hou hom? Skiet hom ver!
blinker as trane oor die meer
wonderlik verdwyn Excalibur . . .
swart sluk die water aan die hart se seer.
’n Geur, ’n smaak
My hande ruik na Spanje,
soet nartjie, bitter amandel –
maar teen my tongpunt prik my huid
subtiel die minerale steek
van swaard-staal, rewolwer-kruit.
Martha
My lewe lank wou ek hom ken
soos sy, wat lui beweeg het
en nooit by hom verleë
was – nié net aan my tafel ete gee,
maar aan sy voete aandagtig sit
soos sy – maar nee.
Ek had te weinig ‘nood’ miskien:
ek ook kon gee, (vergeef my trots).
Hy was U wakker Water self . . . en God,
ek toe te min . . . te min benarde rots!
Emily Dickinson
Veel beter is voel en verlang en apart . . .
– miskien het sy soms so moes praat met haar hart –
as dat ek en hy al hoe stiller verstrak,
twee blommetjies-borde op ’n breekgoed-rak.
Fall-out
Vlug, vlug betyds vir die vreemde reën,
al my besinninge saam, toe bloot ek alleen,
want