Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
eenmaal stilgestaan om haar uit te laat. Nou draai dit weer soos ’n wiel waarvan jy die speke kan sien in hulle ronde vlug. Veral een speek herken ek elke slag as dit verby kom. Eenmaal het dit hier waar ek aandui, stilgestaan. Sy het daaroor gehardloop soos oor ’n smal brug, na die buitenste kring, en verdwyn.
Soms het daardie speek vir my dieselfde betekenis as Februarie, sonderling in ’n kringloop van twaalf verwante maande, of Vrydag-die-dertiende waaroor mense bygelowig is. Dit flits verby, gaan, flits verby, gaan, flits verby. Soms verbeel ek my dat dit stadiger beweeg, asof dit tot ’n stilstand sleep – dan wen dit weer aan spoed en flits verby, gaan, flits verby, gaan . . .
Phoenix
Hy het sy nes onder ’n rotsboog in ’n verre landskap waar – op die sand van ’n wilde kusgebied – die smal merke van voete met ’n ligte tred nog sigbaar is. Hier verander eb en vloed geen teken nie, geen groeperinge hoe gering ook al van skulpe en wiere op die breë sand nie. Alle dinge verweer langsaam tot vreemde vorm en kleur, elke kleur en vorm ’n hernuwing, ’n steeds skoner en ingewikkelder wending van kragte wat onvermoedbaar werk, en nêrens is ontbinding nie – net gedurige wisseling uit sigself gebore, tot sigself terugkerende.
Wonderlik verstrengeld beweeg skaduwees en ligte en winde hier. Binne elke voorwerp verskyn die landskap waarvan elke voorwerp ’n deel is. Verspoel-klippe herhaal die vorms van berge en valleie waar hulle gebore was, en die merke van ligte voete op die sand getuig deur eb en vloed van die nog onmiddellike teenwoordigheid van hulle wat hier verby gegaan het. Die eerste besoek is, in sekere sin, die enigste, want dié wat eenmaal daar was, word die bewoners van hierdie gebied. En die spore bly vars.
Terwyl ek op die begin van die tweede reis gewag het, het hý my besoek, die blou vuurvoël. Geen droom is so fel soos dié waardeur ons besoek word terwyl ons weerloos en geduldig op die heling van ’n diep wond moet wag nie.
My droom het begin met ’n nog bewuste herinnering aan ’n klank: die verstandlose kreuning van ’n sterwende in die groot vertrek waar ek gelê het.
Ek het gehoor hoe ’n vreemde leed hom deur haar verkondig, soos deur ’n trompet – en voor my verskrikte oë het engele, skitterend gepluim, en legendariese diere rats en geluidloos met mekaar geworstel. In die geweld van wat hier in die groot afsydige saal plaasgevind het, het onverklaarbaar die kalmte en ligte ewewig van my droom begin.
Ek sien my op ’n hoogte bokant die see, dan in ’n laning met die soet geur van appels; eindelik in ’n huis waar ek gas is. Vinnig stap ek weg van die see na die laning. My klere is gering en verflenterd; ek het lus om ’n appel te eet – en die vlieënde voëls trek my aandag. Daar is soveel vrugte dat ’n mens net hier en daar kan proe, en soveel snelle voëls om te probeer vang as jy wil, dat jy net hier en daar kan gryp. Dit luk my nie en al wat in my hande beland, is ’n paar geplukte vere nog warm van die voël se klein bewoë lyf.
Ek klim ’n halfdonker trap in die huis waar ek ’n gas is en ek neurie ’n ritmiese liedjie, want op my regtervoorvinger sit die blou vuurvoël. Ek dra hom na ’n kamer op die boonste verdieping, vol laatmiddag-sonlig. Sy skerp kloue steek, en sy oë is swart en onkenbaar, maar ek vrees hom nie, soos ’n mens ’n gevangene vrees nie. Op my hand voel ek die ligte spanning van ’n liggaam wat aan wind en ruimtes gewoond is. Hy is vry om te vlieg, maar hy verlaat my nie. Ek sing, en loop met ’n ligte tred.
Albatros
Die wit meeue swenk opsy vir hom. Hulle kras en tuimel voor hom uit, maar hy seil swaar op groot gestrekte vleuels, ’n skip, die gees van ’n skip.
Hy is die behoeder van hulle wat vaar, en een wat eenmaal in die grys branding verlore geraak het en nou ewig vir andere die weg aandui. Drie maal draai hy om die boegspriet: dit is sy seën.
Om die kiel plooi skuim soos vlerke oop en in die reisigers aan boord begin die diep pols van die see te klop. Wanneer die kus nie meer te bespeur is nie, is daar geen grens tussen die beweging van bloed en golfslag nie. Dit is die tweede skeppingsdag – vorm groei, maar dis nog nie verdeeld nie. Die kim roer op en neer, ’n kompasnaald tussen water en hemel – en tussen sintuig en siel bly die blink snoer van die jare verby. Deining na deining word ek terugwaarts vervoer, en orals is beweging; alles is ritme, herinnering, inkeer – kring op kring, een telling krimpend tot die onmiddellike oomblik, dan weer verbreidend, oneindig, totdat ek my oorgee aan die vinnig opeenvolgende beelde van ou gebeure wat nou almal aan mekaar verwant is, sodat ek nie meer kan vasstel waar en wanneer elkeen ontstaan het nie.
Ek onthou ’n swaaiende uithangbord een nag deur ’n treinvenster gesien. Daar was woorde op, in die snelle donker reën onleesbaar. Agter geslote oë en deur menige droom het dit my agtervolg: heen en weer slingerend, voorspellend.
Ek onthou ’n gesig vlugtig gesien tydens ’n nagtelike reis, wat ek herken het as dié van ’n seun wat ek as kind geken het. Saam het ons een aand met die gestorwenes gepraat, en later laggend aan mekaar beken: dit was nie ’n gees nie maar ek wat met jou gepraat het. In drome, toe ek selfs sy naam vergeet het, het sy volwasse, verouderde gesig deur die raam van ’n uithangbord na my gestaar. Dit wou dat iets wat eenmaal gesê is, herhaal moes word.
Van ’n dreunende hoogte af sien ek die gekaarte weë waarlangs ek alreeds gereis het. Tussen klowe, oor riviere en om skiereilande lê die stippellyn van my vroegste reise. Ek merk dat dit ’n geheel vorm, ’n vreemde skrif wat ek nog nie kan ontsyfer nie. Namate die dreuning al hoër klim, kom daar ’n dynserigheid oor die ontwerp: ’n glinsterende stuiwing wat opwaarts styg, en skielik word al die onsigbare strominge van die hemel waarneembaar, kruis- en dwarsvloeiend deur die digte newel, die rimpelende duinveld van die geheue.
’n Skaduwee soos dié van gestrekte vleuels daal neer oor my en ek voel my meteens die hart van ’n liggaam wat groot en rustig is. Ek word die bewuste sintuig waarom sy ewewig hang. Ek besef, en fluister iets deur daardie liggaam; hy gehoorsaam met ’n handeling: tot my stroom ’n sagte ritme, ’n polsslag, die deininge van ’n see – en ek weet ons beweeg nou ver buite alle herinneringe, waar geen gekaarte weë meer is nie. Wat ek aan die begin as beelde van tye en plekke gesien het, word die ingewinge waaruit hierdie liggaam sy rigting moet raai. Alles is kennis, en alle tye is nou.
Krokus
Toe die vleuels en golwe my los, voel ek my soos Ganymedes na sy lang vlug weer neergelaat, en ek bevind my op ’n brug oor ’n groot rivier. Van waar ek staan, kyk ek verheug op ontelbare dakke en ontelbare strate neer – en in die middel van die stad lê ’n tuin groter as enige wat ek nog ooit gesien het, in die silwer stilte van ’n eerste lentedag.
Deur die ontsaglike stad beweeg ek klein en ongemerk, en elke voetstap, elke verbaasde stilstand en uitroep herhaal my skugtere ontluiking uit God en die eerste trillings in my moeder se liggaam. Wat gedurende my bewuste lewe kortgekom het – die sintuiglike bevestiging van ’n jarelange vermoede – vind eindelik vinnig, oorrompelend plaas.
Hier is ’n bekende boogdeur op twee wit pilare gestut: dit lei na ’n kerkportaal. ’n Geringe besonderheid boei my aandag: ’n geometriese ontwerp soos ’n ketting of ’n sterresnoer versier die pilare. Daar is dit weer: die hek tot ’n paleis. Voor die ingang van ’n ondergrondse spoorwegstasie herken ek die boog, en nogmaals aan die swart skelet van ’n hoë venster nog staande tussen wankelende stawe.
Teen ’n muur vasgemessel is ’n tablet met woorde daarop: vyfhonderd jaar gelede het ’n brandstapel hier, waar die muur nou is, gestaan. Maar die saamgedronge verkeer van ’n menigte strate demp die geluid van sugte en knetterende vuur.
Waar die stad op ’n hoogte uitloop, tussen ontluikende bome, herken ek die plek waar ’n engel die eerste maal gejuig het en toe verheug om hom rondgekyk het na sy verdeelde vermoëns, na elke glinsterende talent se skielike gestalte. Hy het hom verlos in ’n veelvoudigheid van kleur en vorm en geur, en met elke hernieude kreet het ’n golf oor sy skepping geplooi en ander vermoëns tot vreemde voorwerpe laat bloei. Toe sing hy geweldig en die mens plooi uit om hom, en in die mens die siel se herinnering aan alles wat voorafgegaan het, maar die mense se bloed was sy eerste moeder en wou nie dat hy alles