Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
oneindig meer as wakendes. Slapendes is geheel en al siel, onmiddellik en oral aanwesig, en daarom is die liggaam dan so skoon: dit rus weer volkome binne die siel, waar dit elke gewaarwording deel, en waar die weer herskep word, asof vir die eerste maal, ’n volmaakte, tydelike roos. Slaap is die siel se ontdekking, sy gawe aan die liggaam waardeur dit elke nag tydelik van die gebondenheid aan omgewing verlos word.
Slapendes is biddendes, hulle verkeer met God. Die kluisenaar en die heilige bid hulself los uit die wêreld soos elke besige stedeling dit snags onbegrypend doen. Toe ek ’n kind was, het die skielike ontmoeting met iemand wat bid my altoos verstom. Ek onthou die beeld van my vader op sy knieë: die stilte van sy liggaam, die onbekende uitdrukking op sy gesig. Dit was asof hy alreeds ’n geruime tyd ver reis en niks meer van die knielende liggaam onthou nie. Ek kon nie onthou dat kinders so lyk wanneer hulle bid nie, maar jong kinders is nooit geheel en al van die wêreld nie. Wanneer hulle bid, is hulle nie baie ver van hulself verwyder nie; my vader s’n was ’n veel langer reis as myne.
Tussen slaap en gebed is daar een verskil. Gebed begin met die gerigte wil, en slaap met die wil in beswyming. Mense is sonderling begenadig om die siel met twee weë te kan bereik. Slaap was die eerste weg waarlangs die siel na die eerste mens gereis het, en toe hy weer in sy paradys ontwaak, was hy nie meer alleen nie.
Ek is nie alleen in die vlees nie en hierdie roos is nie alleen in die vlees nie – maar ons is altyd eensaam soos in die begin. Met oë sien ek hierdie roos en hy ken die gevoel van my vel teen sy tere blad, maar wat weet ek van sy reis? Blom, waarom het jou siel jou so fyn en rooi en eienaardig gevorm? Is jy sy eerste skepping, of die opsomming waaruit alle onnodige besonderhede weggelaat is, van al sy vorige liggame? Jy praat nie soos ons nie, jy die mistikus, want jy het geen behoefte meer aan woorde nie. Nou weet ek hoe lank jy al reis, dit duisel my om daaraan te dink. Jy skep nie meer nie, want jy ís, en dit is genoeg. Vir my is dit nie genoeg dat ek is nie, en vir my tydgenote: ook hulle verbrei nog steeds die self wat hulle as kind ontdek het. Ons moet aan dit wat ons ontdek het, gestalte gee sodat andere ook mag weet.
In nagtelike drome sien ek vreemde vorms: onherkenbaar gebou, en soms – alleen met hulle – onthou ek iets. Maar wanneer ek ontwaak, het ek reeds lankal vergeet. Uit wat ek vergeet het, berym ek my lied.”
Meteens kom die spreker lenig orent, soos iemand wat sy tyd verspil het. Haastig trek hy sy skoene aan, en toe hy opstaan, steek ’n grashalm nog by een hakskeen uit. Neurieënde stap hy weg na die stad. En ek onthou dat ek van plan was om ’n sekere skildery in ’n gebou hier naby te besoek.
Son
Dis ’n lang reis van daardie ongekaarte see na hierdie stad. Voor jy haar beeld gemaak het, skilder, was sy die liefde sonder herkoms – eenvoudig en vir die mens onbereikbaar. Deur jou verbeelding het sy na die wêreld gekom, droef, want die wêreld was troebel van ’n halwe kennis. Sy was onskuldig, sonder jou donker vermoede, en met ’n oneindige wete buite jou begrip. Toe gee jy haar ’n liggaam. ’n Driftige heilige was in jou bloed. Hy het gesê: Dek haar met ’n donker mantel. Jy het geaarsel, en sy staan ewig gereed en onwillig om die besetene se mantel te neem.
Sy het ver gereis, oor die helling van die Noorderlig en deur daardie seevelde waar die bloed stillê, soos ’n vlam onder as. Nie as pasgeborene het sy gekom nie, maar as een wat uur na uur minder sou word – en toe die skulpskuit eindelik hierdie strand bereik, was sy tenger en gewond.
Hierna was daar in die skildery niks meer wat ek kon waarneem nie, en ek het na die park teruggestap. Die son was orals, want dit was nog vroegmiddag: die uur van voorspelling wanneer alle dinge op ’n gebeurtenis wag. Eenmaal het ’n kind gegril vir die juiging van musiek in die middag, want in die geheue van die wêreld bly onvergete ’n rietfluit se soet, snerpende klank. Elke middag word hy weer verwag. Pan met die vreemde glimlag. Die dag, steeds stygende tot ’n stilte en glans, weet dit gaan kom: ’n wilde, stormende musiek – ’n kreet en ’n begeerte. Die tuin is pure sintuig, tot duiseling gespanne, en dis die rooi rose wat die eerste klanke vermoed: hulle ligte beweging is die teken.
Herinnering roer in bloed en blom; dit is die ou lied wat van Pan geleer is. En toe hy nie meer tussen die riete gespeel het nie, het andere dit verkondig. Maar die tuin bly alreeds vergeet. Kyk na die traliemuur. Nou sein die sonlig iets daarop – Jesus – en dit is al, want ’n ruimte en ’n vergetelheid strek tussen daardie eerste en hierdie naam. Dit is vroegmiddag en iets gaan gebeur. Die hele wêreld sal dit sien: ’n kruis word opgehys – die son is swart en rooi – Vader, Vader!
En toe begin ek soek na iemand wat my die antwoord op die afgeluisterde gesprekke sou kon gee. Ek vind hom sorgeloos dansende te midde van die merels. Op sy hoof wip ’n harlekyn se hoed en daar is vleuels aan sy voete.
Ek stap nader en vra: “Onthou jy die dromer?”
Hy staan op sy hande en antwoord my: “Die dromer vrees en verlang na sy droom. Swye sal hom folter.”
Hy dans voort, en ek vra weer: “Onthou jy die minnaar?”
“Die minnaar is ’n gevangene en die liefde sal hom folter.”
“Maar sê, sal hy nie eendag van liefde bevry wees en weer terug ontvang wat hy gegee het nie?”
Die merels oorstem ’n antwoord op my vraag.
“Onthou jy die digter?”
“Die digter is eensaam soos die sterre. ’n Lied sal hom folter.”
“Maar sê, sal hy ook eenmaal onthou en groter sing?”
Toe antwoord hy driftig en die voëls vlie uiteen: “Wanneer die mens alle kennis dra, sal jy hom nêrens meer sien, nêrens meer hoor nie, nêrens meer vind nie.”
Peinsend en bedroef verlaat ek hom – en hy dans voort. Êrens begin ’n kind sag te huil asof hy verdwaal het. Sy stem neem toe en word ’n hoë weeklaag wat styg bo dakke en bome sodat ek nie kan uitvind waar hy verkeer nie, en dan plotseling besef ek waar hy is: op ’n oop vlakte tussen braambosse in hulle vroegsomer-bloei. Sy stem vertel dit. Dit is die wye wanhoop van iemand wat heeltemal alleen is, van alle vertroude dinge ver verwyderd. Hy sou graag ’n huis wou sien, want sy ouers woon in ’n huis. Ek weet hy het ver van huise verdwaal, tussen die braambosse wat hom met dorings bedreig, op ’n verlate vlakte waar daar nou ’n groot stad staan. Waar hy huil, is daar tans die kruising van breë voorstedelike strate; waar sy liggaam behoort te wees, beweeg op die oomblik ’n hele blok verkeer in vier rigtings.
Op ’n plein waarvandaan ’n mens die buitemuur van ’n ander, vroeër stad kan sien, ondervind ek die seldsame visioen. Dit is asof hierdie dag ’n afskeid is of ’n begin. ’n Bedelaar kom na my met die vereelte kom van sy twee hande na my uitgestrek, maar sy gesig is rustig en jonk – hy verlang niks wat ek kan gee nie. Dit is ’n ou gewoonte, die handgebaar waarvan hy nie meer bewus is nie. Hy kyk deur my oë tot in my hart en fluister: Dit is laat – die tyd is amper verstreke – wag. ’n Skemerwind fladder om sy hare en sy klere, een telling voordat hy verdwyn.
Ek is alleen met die laaste glans van die son en my skaduwee het sy uiterste lengte bereik, strek voor my uit in roerlose spanning, ’n donker baan waarvan die verste punt my lok, want die dag is ’n boodskap en ’n vervulling.
Die stad, tot sy verste einders sigbaar, rus tussen laat son en skemering, ’n beswyming en ’n inkeer. ’n Klok begin uit ’n toring te lui, aanhoudend, langsaam; en ver uit ander torings lui ander klokke, rustig ingedagte. Ek sien hulle swaai, nou donker dan glimmend, nou naby dan ver, en ek voel my een klein bewussyn in die galmende ruimte van ’n ontsettende, antieke geheue. Vinnig, en met ’n ligte tred, begin ek langs die donker baan van my skaduwee loop na daardie steeds verbreidende kim waar tyd en plek en kloppende hart een wese sal hê.
PLEKTRUM
1945
Europa lê in puin: ’n swart koerantberig,
staccato, stomp; ’n oggendteegerug.
Europa