Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
snel tot homself terugstroom. Hier is die eerste krokus, suiwer soos ’n vuur. Dit sal verwelk, want materie is wording en ontbinding, dog ’n tweede blom sal kom, en eendag iets meer as blom of mens of ster. Wat moet kom, sal uitgaan in die liggaam vol verlange en herinnering nog êrens in die soete swaar las van aardse wese verborge. Sal dit vlie soos ’n voël, ruim opwaarts lewe oor wolk en ongekaarte seë? Die voëls styg op uit die krokusveld en tuimel en sing. Orals is lied, ver en tuitend naby my, asof ’n siel hoog deur die ruimtes helder vreugdevonke afgee – borrels, vlamme – en elkeen soos dit kom, ’n voël.
Tussen son en reënvlae deur ervaar ek die aanvang van ’n nuwe stemming, die keerpunt van ’n gety. ’n Geheim waaraan ek deel mag hê, want ek het die krokus gepluk. Sy tere kelk vertel my weer eens wat die stad vertel het. Hy is strewe en verwondering, hierdie blom, tot enkele vege vereenvoudig. Om die meeldrade is die syige blare ’n intieme kanoop. O, eenselwige, afgetrokke blom, ek het net een teken dat jy my herken – iets fyner as ’n woord, maar vir die sintuig hoe simpatiek: jou tenger geur.
Wanneer ons in donker nagte ontwaak, volg ons ’n hunkering deur verwarde strate om te raai wat agter die dubbelsegging van steen en glas en yster lê. Die Gotiese toring vertel en ontwyk wat dit vertel, reik op met gebaar van gebeitelde vlerk en arabesk na wat ontembaar altyd buite gestalte bly. Maar soms besoek dit ons, plotseling, en wanneer dit weer terugkeer in helder triomfantelike vlug, is die hart ’n hoogte en ’n verdriet.
Beurtelings deur geboorte en sterwe, deur vergetelheid en herinnering, soek die mens sy ontwekene; maar weet hy hoe skoon hy is, in katedraal en verwoeste stad? Teen vuur en wolk staan somber die obeliske van sy oorwinninge en die brons perde op hulle agterpote wat runnikend sy angs onthou.
Gesprekke
Waar die tydelik-vermoeides gaan om die beweging en rumoer van die stad te ontwyk, bevind ek my nou weer eens in die groot park waarom die stad se breë sirkel lê. Ek neem op ’n bank plaas en vou my toebroodjies oop. Dit duur nie lank nie of iemand anders gewaar my en kom hier langs my op die bank sit. Versigtig vou hy ’n koerant, waarin sy toebroodjies lê, op sy skoot oop: wit brood met die fraiings van kropslaai tussen die snye sigbaar.
Terwyl hy eet, gesels hy, maar die kos in sy mond demp sy woorde nie. Hy praat helder en vinnig en die brood word al hoe minder. Aanvanklik vind ek dit vreemd dat hy met homself kan gesels, maar dan onthou ek dat dit lente is. Eers wanneer hy die koerant tussen sy hande opfrommel, begin ek hoor wat hy sê. Nou leun hy agteroor teen die bank en staar met ronde oë na ontelbare dakke en skoorstene buite die tralies, en ek begin begryp wat hy sê.
“Niemand weet wat ek vermoed nie. Hoe kan ek dit so geheim hou? En tog wys ek my hart soms skielik en geheel en al. Ek wys hulle my drome en pleit dat hulle moet verstaan. Ewig is ek wat droom, ouer as die wêreld. Ek wys my hart wanneer ek so swaar en helder van my droom geword het dat ek die ewige in my soos ’n toring in hulle moet opbou, woord vir woord. Wanneer ek kan sien hoe ek buite myself gestalte aanneem, belewe ek weer my geboorte in die wêreld. Ek moet lewe – kyk in my hart wanneer ek dit vra, maar wond my nie. Ken julle die pyn?
Die digter sê: ‘om elke engel is verskrikking’, omdat hy dit soms reggekry het om in ’n donkerte soos voor blinde oë, woord vir woord sy eie beeld op te bou, deurstraal soos glas, vreeslik. Weet hulle dat jy jouself moet vrees wanneer jy buite jouself so helder gestalte aanneem? Vrees is altyd: vrees dat ek my droom verydel omdat ek swyg, vrees dat ek sal sterwe sonder om te lewe.
Ek wys my hart en dan, terwyl ek pleit, verlang ek na die vernietiging van alles wat my tussen die groot, leë dae vasdruk. O droom, word helder soos die wassende maan in my en lei my tot kennis. En laat daar dan geen vrees wees wanneer ek my uiteindelik vry en skitterend sien nie. Niemand weet hoeveel ek sien nie. Hoe sal ek my droom vertel? My woorde is ’n leuen wat wonde toedien. Want, sien julle, wanneer ek na woorde moet soek, pynig ek my. Dan moet ons liewers komedie speel, soos die besielende harlekyn, maar om elke harlekyn is smart.”
Verwonderd het ek bly sit lank nadat hy die park verlaat het, en toe ek weer tot my omgewing kom, sit ’n tweede in sy plek. Hy is ouer as die eerste, maar aan sy gesig merk ek die tekens van ’n vroeë skoonheid. Sy hande is teer en hy breek vir die voëls wat kwetterend oor die grasperk wip, stukke van sy toebroodjies af. Nadat hy klaar geëet het, begin ook hy gesels en gesteurd kyk ek na hom, maar hy merk my nie en sy lippe is stil.
“Ek het die wellus geken en dit verklaar as ’n ydele koors wat mettertyd moet keer en ontlaai. So ook swel die botsel, deur sy sap geprikkel tot angs en die bloesem. Die blom is die rus.
Ek het begeerte geken, en dit was anders, want wanneer iets van die hart en siel met drif vermeng is, is dit nie meer bloed wat blindelings soek nie, maar die hele mens in sy volte.
Ek het ’n sterk rivier gesien, die gevangene van skepe en mure, en daarna dieselfde rivier in vrye vaart na die see. En toe gewaar ek die son in sy laaste, ontsaglike gloed: een oomblik ’n vlam waarteen die skerp, verstrengelde hoeke en spitse van ’n stad tot ’n woede van lig ontbrand.
Swaar wolke het gekom om die son uit te doof en ek moes sien hoedat die stad vergeefs na daardie laaste glans probeer soek – ’n groot grys stad: skielik vol letsels en oneindig vermoeid. Met ’n enkele dowwe lamp het hy gesoek en toe gewag, baie stil. Eindelik gewaar ek hoe hy hom orals met sy lampe bedek en daarna diep in die nag wegskuil, waar niemand sy oë sou sien nie. In my bed het ek omgerol, elke keer as hy sy vraag stel, hierdie omnagte stad.
Ek het gedroom en my weer as ’n jongeling ontmoet, een wat die wellus blymoedig gevolg het, keer op keer – en ná elke keer minder blymoedig, want die omhelsing was ’n klein vergetelheid waaruit ek elke keer tot myself teruggekeer het, nóg ryker nóg armer. Ek was ’n tempel waarin iets wonderliks sou gebeur, en dit het nie gebeur nie.
Toe is die begeerte in my gebore en strate en fonteine het met my gepraat, want stede bou hulle van voor af in ons op, steen vir steen, wanneer die hart se onrus in die bloed begin roer. Ná elke vervoering wil ons skoner verder gaan; as die buitengewone met ons gebeur, hoe kan ons daarna net soos vroeër handel en leef? Ná elke vervoering soek minnaars weer die eerste ontmoeting in mekaar se oë. Daarom was my beminde nêrens tot ’n bekende figuur verstrak nie. Uit die oë van vreemdelinge het sy my begroet, en elke wedersydse blik was ’n bekentenis voor ons weer uiteen moes gaan.
Dit was my eensame vreugde: om in die oë van ’n ander net een telling naak en verwonderd te staan. Maar soos destyds het ek aan my eie beeld in die spieël steeds die ou vertroude tekens gewaar, totdat wanhoop my later gelei het na een van hulle in wie ek myself herken het. Ons slaap was die laaste ontbinding. Ek kon haar nie meer herken nie, want haar gesig was sonder gelaatstrekke, en tussen ons het ’n woesteny, ’n stad in puin gelê. In die eerste lig van die dag het sy haar hand om myne gevou, en ook sy was droewig.
Waar is my beminde nou? Sy groet my naamloos uit vreemde oë. Begeerte is kosbaarder as vervulling. Voorwaar, hy wat geslote bly, en jou nie gering wil sien nie, hy is jou minnaar en jou broeder.”
Hy het langsaam opgestaan en uit sy sak ’n laaste korsie vir die voëls gehaal, en toe weer in die rigting van die naaste straat gestap. By die hek het hy opsy geswenk vir iemand wat op pad na die tuin was, en nuuskierig het ek op die bank gebly om te sien of hierdie derde persoon ook langs my sou kom sit. Toe hy nader kom, pluk hy ’n roos langs die weg – en verskrik deur sy beweging, vlie die voëls uiteen.
Moeg, soos iemand wat ver geloop het, sak hy langs my neer. ’n Ruk sit hy stil en asemhaal, dan trek hy sy skoene uit, kriewel met sy tone genotvol en leun eindelik agteroor met sy koerant oor die oë en die blom in sy hande. Agter die swart drukletters het sy gedagtes begin.
“Selfs die honde moet slaap, maar daar is so min verskil tussen ’n bewuste en ’n onbewuste hond, seker omdat hulle nooit heeltemal bewus óf onbewus is nie – so ’n tussen-lewe. ’n Hond se bestaan is ’n onderbroke droom. Met mense is dit anders. Hoe afsydig is slapende mense nie: sonder naam en rasloos. Die slaap verhef hulle tot die engele – en siel en liggaam is nooit so met mekaar vervloei wanneer ’n mens wakker en handelend is nie.
Bedags is hulle vormloos, asof woorde en blikke en lyfbewegings gedurig uiteensplyt