Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
se padda-oog
spat stukkend in my voet se boog.
’n Kleindorpse fragment
Is al my paadjies toegegroei?
Ek het so lig oor hulle gegaan,
met spitse kaalvoet kennis hier
en daar net grondgevat
want oral was die aarde een
vyandigheid van hitte, duwweltjie en mier:
ek sien my nog waaghalsig nael
soos sonde oor die werf wat gloei
en bitsig aan my voetvel byt,
en, kop omlaag, my vasloop teen
die hele Maandagwasgoeddraad
se haelwit selfgeregtigheid.
Metamorfose
Jy beduiwel my, dag, jy laat my opkroes –
ek belg my aasvoëlvlerke en ek tros
giftig . . . maar my krý jy nie: sterker as joue
slaan my wil vas in hierdie twee kloue
hier onder my, en boos gaan ek broei, so los my –
– vir wié los? Wáár is ek, wie’s dié harpy?
Versoek
Nie op die nog lewende perkament
die nog sagte, van my voorkop nie;
nie om die oë waardeur bewussyn
moet waarneem nie, en verduur –
maar hier, Here, hiér – skryf dit
hier neer, op die smekende papier.
Antieke landskap
Rondom gehugte
broeis in ’n middagslaap se sweet
hobbel die onweer,
brom in Hebreeus ’n ou profeet –
en voor sy staf uit
kletter die bok met die heuningoog
en die skandelike uier
knikkend oor klippe wat adders spoeg:
haar vinnige kuttels
’n stotterende bidstreep agter haar aan,
totdat sy eindelik op ’n rots se vinger
ouer as Istar, uitdagend staan.
Naderende storm
Om nou te leef
is om hewig lewend te wees! Hoe skitter
berg en kewer, ontvlambaar blou metaal,
hoe drywe die weer al witter
groter kuddes uit . . . los huppelend voor
sy vliese ’n vuur: die Lam,
en in die agterhoede swart ramme
van die Diaspora
uiteindelik op veraf donderende hoewe aangekeer.
By ’n landskap van Hercules Seghers
Die aarde smeul vaal, asblink.
Agter die rand van die einder
prut onweer, onheilig.
Want iets is ontsettend besig hier
met steelse haas heeldág al –
en met rukke jaag
’n blasgeel gloed soepel onder die huid
van die lig, ’n vinnige heimlike herout
van wat grimmiger kom, gelade, traag . . .
en als wat dor en bar is, doring en gekaakte
krans, tintel van erts, word tontel, gretig vir vuur
as elke kruin aambeeld is, aarde oond,
en die wit Skrik angel uit die wolk
wat ruimte en metaalaar sal smee . . .
en niks met bloed, niks met verwondbare
oog of vlerk durf dié lug aan met die reeds al
byna reuk van rook. Nie eens ’n vlerk,
nie eens ’n valk –
Dan vlug dan, oë, sinne, vlug!
Asem wat die longe byna versnak het
moet terug,
moet of sterf – of, veilig gehok met
bewende besempie vee.
Swaar storm in die aand
Die lug is groot, ’n swart en koperblink komplot,
’n hemelbed wat bol, met piets van linne dieper in –
dán plotseling bongel binne neer borsstuk en ronde helm:
één oomblik fel omstraal staan naak die kryger-god
dan dommel donker weg, dan wít, voor donker weer,
’n vleg van arms, dye . . .
Wat ánders kan die kreupel smid, as moker, hou op hou:
wié keer die brandwit strengelspel van skoonheid en geweld,
wie keer dat blindheid oë pluk uit dié wat durf aanskou?
Maar die verrukte spits populiere asbleek in ’n ry,
die buk en steier, buk, soos skepe in ’n skuim –
en halfpad tussen heerlikheid en huiwering gehang,
hurk ek in die gloeilampgeel van my balkon-vertrek,
’n insek in ’n valryp vrug se suikersweet gevang.
Meridiaan
Die dag het hom vergryp
aan die vet en die blink –
boomkruinswaar en van olyf-gladde lig
boordenstevol geskink.
Om te loop is om te duisel
tussen gloed en die diep dreun
van ’n swaartekrag in my bene op
deur my bloed na my kloppende brein.
Ek sit genael waar ek sit, titan,
een met die wentelende kolos van my Gaea –
haar oogpit ek, haar sibille-blik
wat ín-toe duikel en sink in haar bron –
maar ek brokkel daar in blink
korrels oralsien, ’n kuit
wat sal ryp tot ’n skittering van pyle
boontoe, in sy eie tyd.
Vraag
My pyn is nie U pyn nie,
myne is arm-mens-pyn, God.
U breek, en vermenigvuldig,
maar hoe maak ’n honger brood?
Peinsend
Is kennis ’n kneusing altemit
wat tot by die pit
pimpel en pers
aan ons, die Boom se vrugte sit?