Vleiswond. Johann de Lange
ion>
Johann de Lange
Vleiswond
HUMAN & ROUSSEAU
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Vleiswond mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir my vriende
I believe in the flesh and the appetites,
Seeing, hearing and feeling are miracles,
and each part and tag of me is a miracle.
Divine am I inside and out, and I make holy
whatever I touch or am touched from;
The scent of these armpits is aroma finer than prayer,
This head is more than churches or bibles or creeds.
WALT WHITMAN
I
Hoe kan hy so tart en nogtans so glo,
met daardie Nasarener-kyk in sy oë?
SHEILA CUSSONS
Children show scars like medals. Lovers
use them as secrets to reveal. A scar is
what happens when the word is made flesh.
LEONARD COHEN
KRUISIGING
Drie dae oud het hul die kind
op ’n houtkruis vasgebind
met lappe, die kaal lyf
wat later die skyf
sou word van soveel spot,
en aan ’n dorstige hout sou bot,
deur die naeltjie leeg-
gebloei, hom nougeset verpleeg
deur die eerste paar uur
toe hy fel pyn moes verduur.
Die besmette bloed
wat ’n hart moes voed
sypel deur pype in ’n donker fles
– so is eindelik sy dors geles.
En in dié tenger lyf
soos op ’n lei, herskryf
die bloed opnuut:
laat U wil geskied.
KOMMUNIE I
Sondagaand, die promenade:
in kortbroeke en T-hemde
daag ons op: die gemeente
van die vlees
en Walt Whitman
was met ons,
hoogpriester,
met sy lang wit baard
en sy hande op ons almal
’n benediksie op sweetblink lywe,
op ons tonge die kosbare wit
sakrament van die fallus.
Ons ken hom ook daar
alleen in ’n bieghokkie
waar ons kniel
voor dié klein gode
wat deur ’n loergat seën
en wywaters van die doop
op ons tonge laat reën.
KRUISVAART
vir Ingram & Rias
Een blakende midsomerdag
in die bus na die Vatikaan:
gesonde somerhuide, blink-
geboende skouerknoppe,
arms glansend kaal en rond,
bruin voete in oop sandale,
sweet ’n bidsnoer tussen tepels:
die reis van duiwe en rose
een middag na die Vatikaan.
Buite blaak die latynse lug
’n verbleikte erdebord,
en suile wat al eeue staan
bewe onvas in die hitte.
Reisigers inkanteer toe-oog
die fel hooglied
van die lyf in die sinagoge
van smal stegies
op pad na die ver Vatikaan.
In die bus oorkant jou
sit ’n jong romein wydsbeen;
julle voer die woordelose
gesprek, wissel gedagtes
soos verstyfde marmer.
By jou voete in ’n ou reissak:
jou Nikon en ’n klein Christus
toegedraai in blink sellofaan.
Immer onderweg na die ver Vatikaan.
PORTRET VAN MYSELF BY ’N LOERGAT
Mutsuo Takahashi
Here, wanneer sal dit gebeur?
Hoe lank nog voor u besoek?
Ek kniel hier op die smadelike vloer, wagtend;
voor my prente van gevlerkte engele en heiliges.
In die middel van die muur en versier
met heilige inskripsies in silwer en goud
’n loergat: u stralende besoek –
het die tyd daarvoor nog nie gekom nie?
O dán sal ek voor u kniel,
koorsig my lippe oopmaak, droog en gebars van dors,
soos daardie skrikwekkende profeet gesê het,
en my mond vul met u.
U gewyde gulp sal gul oorvloei,
reën in my oopgesperde oë, my mond,
oor my kortgeskeerde kop met jong gryshare.
In u weergalose medelye sal ek, soos een verkrag,
my oë toemaak asof ek ly, en snak . . .
Wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor u kom?
Met dié woorde het die gesig soos ’n wynsak
waaruit die wyn gelek het in plooie teruggesak.
Met dié openbaring skaars verby,
nog knielend voor die toilet,
die muur bedek met banale graffiti,
het van die ander kant deur die loergat
in die middel van die muur
’n droë oog vurig teruggegluur.
PARK
Ná die storm
staan die bome
met krone oopgereën.
Elke klank is nat
en blink. Die wind ruik
na kroonden en mos
en