Vleiswond. Johann de Lange
donker veen.
Later was jy
’n nuwe mens
met jou klere
afgestroop
vir die kennis-
maak, ons tonge
verstrengelde slange.
Terwyl jy vanoggend
nog onwetend slaap
skuif ek die laken af
en vind verlore
in die letsels op jou rug
God se kruiswonde terug.
STIGMATA
I
op tremspore glim
die oggendson ’n trem
pendel ratelend
die heuwel uit
klim na die venster
waaragter hy
sterwend lê:
oor sy ganse
ranke lyf
die brose nerf
kruip roos
in gotiese verval
vir vriende
en besoekers
as skrikbeeld uitgestal
word hy deur ’n vreemde
bloeiselvuur verteer
II
die dag se tong is wit
met woorde aangepak
’n brokkelige kors
hy skryf sy oë op die dag buite
bloedig oop
soos ’n blom
ek lees weer Pope –
dié slag sonder dope!
herleef die on-
goddelike genot
van sy rankroosjare
seks in smal stegies
bloot ’n kwessie van geloof
III
: om te wag adem-
loos luister-
end vir iemand
om te kom
voetstappe
op blaar of beton
in geluid-
lose agonie
jou aan te bied:
die skugter spierblom
te geheim vir lig
die steil ekstase
van die enkelvlug:
heilige gees
in ’n kondoom
IV
donker vogtige botsel
stulpende sarkoom –
gevange in ’n droom
stamel die lyf
sy klein gebreke
al sy sinne fel
ontbloot huidloos
oorgevoelig
wil hy skrynend sterf
soos ’n roos
in aromatiese pyn
V
vanuit die venster ver
kan hy sien hoe steil
tuine trapsgewys
die heuwels uitklim
agter die huis
soos vrouens
met arms vol blomme
’n voël se ver sigsag –
toe gaan kruip hy
diep in ’n binne-oor
tot hy net ondergrondse
trems en stemme hoor
en rank met sy wortels
in die grond
al vaster in sy wond
DRENKELINGE
na George Barker
Ek tors, gekruisig teen die wind,
krysend bo die kielsog uit,
wiek-stort terug en hang
bo dié twee seuns wat hand-in-hand
gewronge spartel in ’n wiergroen ewigheid:
oorboord geval en weggesleur.
’n Wit vlerk water klapwiek hoog,
stort sugtend neer. Niks kan skei
wat wanhoop hier verstrengel het.
En ek, soos die gestalte van ’n god
waarna hulle oë so reikhalsend
reik, hang roerloos hoog en kyk
hoe hulle wegdryf, wit en strak,
bo groen dieptes soos twee kruise.
STIGMATA II
Goeie Vrydag
het die letsels
sag geword
soos nuwe wonde,
ondraaglik teer.
Toe, in voorspel
tot ’n vroeër dood,
het eers een voet
begin bloei
tot al vyf wonde
later vryelik vloei.
Saterdag
het sy opgestaan
uit haar dood
en gaan
soos voorheen
met haar lewe
voort.
KOMMUNIE II
Ná die aand se brood en wyn
– die nagmaal van die vlees –
voel my vingers oor jou lyf
die opgehewe letsels van jou vrees
en weet dat jy gekruisig is,
dat almal van jou praat
en jy in drome elke soen
onthou as Judas se verraad,
dat jy in die doopsweet van die nag
weet wat ander van jou dink,
dat een, dat hý
nie uit jou glas wou drink.
Ek hoor jou langs my vra:
Word sonde sigbaar as sarkoom?
Skuil u Gees nie skimmig wit
in die dun kondoom
van my gebed? Kan U my voel
deur die