Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk
kan afkyk na Wessie en antwoord emosieloos: “Tant Grietjie het die sak gegryp en beginne eet. Ek dink sy het al die lekkers kant en klaar opgeëet, tant Wessie.”
“Nou vir wat beloer jy my so, asempie?” vra Wessie aggressief, skiet haar regterhand blitssnel uit en pluk Floors se pet van sy kop af. “Nee a, Floors, waar is jou respekte? Haal jou pet van jou kop af as jy met ’n ordentlike vrou soos ek praat.”
Wiandri hoor Christelle na asem snak en kyk haar vraend aan, maar Christelle staar asof gehipnotiseer na Floors, haar gesigsuitdrukking ongewoon strak.
“My kopvel!” kerm Floors en bedek sy witblonde hare met sy hande. “Agge nee, tant Wessie. Die son brand my kopvel flenters as ek nie my pet dra nie. Gee terug my pet, toe, tant Wessie.”
Wessie staar Floors oopmond aan en bars gierend uit van die lag. “Het jou, asempie!” hyg sy, kortasem van die lag. “Daardie eerste dag het ek reguit vir jou gesê jou spierwitte haartjies kom uit ’n bottel, Floorsie, want g’n mens word gebore met sulke swart oë en spierwitte haartjies nie. Jy moet in jou pasoppens wees vir goeters wat uit bottels kom, my diertjie. Ou Hannie van Rooikrans het gereeld haar muisvaal haartjies spierwit gekleur totdat haar ou kopvelletjie die ene rowe was. Sy krap toe die rowe af en daar sit sy toe met kaal kolle op haar kop – te aardig! Hou op om jou haartjies te kleur, Floors, anders loop jy een van die dae sonder ’n enkelte haar op jou koppie rond.”
“Goed, tannie, ek sal nie weer nie. Nou moet ek eers Prinses Perd gaan versorg. Tot siens, tant Wessie,” groet Floors toonloos en lei die merrie die perdestalle binne.
“Nou wat moet ek met jou pet doen, Floorsie?” vra Wessie vies en prop die pet in Wiandri se hande. “Hier, dingetjie, vat! Ek moet Grietjie dadelik gaan aanspreek oor my kontantgeldjies vir die lekkergoed.”
“Moenie moedswillig wees nie, tant Wessie,” sê Wiandri ongeduldig, ontsteld oor die manier waarop Christelle Floors aangestaar het. “Tannie weet ék het die lekkers kom koop. Ek het geld in my sak gesit ingeval ek dorp toe gaan. Hier is dit.”
“Sommer twee bloues?” vra Wessie oorbluf en gryp met gretige handjies die geldnote uit Wiandri se hand. “Maar, asempie, ek het nie nou kleingeld vir jou nie. Of is die kleingeld my pasella omdat ek so ver agter jou moes aandrawwe?”
“Ja, tant Wessie, dis ’n pasella. Verskoon my, maar ek moet my ryperd gaan versorg,” antwoord Wiandri, sien die teleurstelling op Wessie se gesig en vervolg goedig: “Tannie is seker moeg en dors na die lang stap hierheen. Loer by die kombuis in, tannie. Tant Grietjie bak altyd melktert en klein koesistertjies as ek huis toe kom.”
“Stap saam met my, tant Wessie. Ek moet ook nog die tannies gaan groet,” nooi Christelle.
Wessie laat val haar kop op haar linkerskouer en betrag Christelle van kop tot tone. “Rydrag,” sê sy en proe-proe met haar lippe asof die woord sleg smaak. “Dis net ’n hemp en ’n broek, nes my kleertjies, maar julle rykes lyk altyd asof julle julle se kerkkleertjies dra. Hoekom dan, matronetjie?”
“Omdat ons meer eet en ronder is, tannie,” antwoord Christelle met gedwonge erns en kyk bekommerd na Wiandri wat reeds haar perd weglei. “Moenie te lank in die stal draai nie, Wiandri. Ek het heelwat om met jou te bespreek.”
“Goed, Christelle,” antwoord Wiandri gelykmatig en byt tobbend op haar onderlip. Sy kan raai wat Christelle wil bespreek: Floors. Wat weet Christelle van Floors wat haar so onrustig laat klink, wonder sy.
“Dis sy,” praat Floors onverwags langs haar in die skemerte van die stal, sy stemtoon gedemp.
“Vervlaks, Floors, moenie my bekruip nie!” snou sy, merk sy stroewe uitdrukking en vervolg verskonend: “Ek is jammer ek het op jou geskree, maar ek is so gespanne dat ek my yskoud geskrik het toe jy skielik langs my praat.”
“Dan het jy ook agtergekom hoe Christelle na my kyk?” vra hy gekweld.
“Sy wonder oor jou, want jy lyk vir haar bekend. En toe tant Wessie jou pet afruk, het Christelle sommer na asem gesnak,” vertel Wiandri onwillig en gee sy pet aan hom.
“Dankie,” sê hy en steek die pet in sy agterste broeksak. “Jou peetma is te intelligent om tant Wessie se storie oor my gekleurde hare te glo – ek het tog blonde hare op my arms en bene. As ek geweet het sy kom die naweek kuier …”
“Jy het gesê dis sy, Floors. Is Christelle die persoon wat kan verhoed dat jy ’n goeie pos kry?” vra Wiandri ongelowig.
“Ja, want sy ken almal op die dorp en ek is seker sy het invloed op die sakemanne se besluite. Kuier sy net vir die naweek hier?” vra hy ingehoue.
“Ek dink so,” antwoord sy, kyk op in sy gelaat wat lyk asof dit uit rots gekap is, en vra met wanhopige woede: “Wat kan Christelle van jou weet wat so verskriklik is, Floors? Jy het gesê jy is nie ’n misdadiger nie. Ek vertrou ook tant Lerina en tant Grietjie se oordeel. As hulle bereid is om jou te help, kan ek jou as ’n vriend aanvaar. Hoekom kan jy my nie ook vertrou nie? Ek voel verplig om jou teen Christelle te beskerm, maar ek weet nie eens waaroor dit gaan nie!”
’n Glimlag lig sy mondhoeke. “Jy is nie sterk genoeg om my te beskerm nie, Wiandri, maar dankie dat jy bereid is. Solank jy volhou dat ek Floors Venter is, vra ek niks meer nie.”
“Maar as Christelle raai wie jy is, Floors?”
“Hoe kan sy? Sy het my nog nooit ontmoet nie. Miskien weet sy van my of my mense, maar sy het geen bewyse dat ek nie Floors Venter is nie. Maar as sy my voortdurend gaan dophou … Ek weet nie hoe lank ek met my rol kan volhou nie. Dalk moet ek my liewer uit die voete maak.”
“Nee, Floors!” roep sy ontsteld, sien hom sy regterwenkbrou vraend lig en voel verneder oor haar impulsiewe woorde. Maar hy mag nie weggaan nie – hy is reeds deel van Groeneweide, onbewustelik deel van haar, besef sy wanhopig, maar vervolg beheers: “Bly hier ter wille van tant Lerina, jy het haar ’n nuwe belangstelling in die lewe gegee. Ek sal met Christelle praat en jou waarsku as jy rede het om weg te gaan.”
“Ek sal vir die res van my lewe soos ’n verloorder voel as Christelle my verplig om weg te gaan. Ek sal Rakker versorg. Draf huis toe voordat jou agterdogtige peetma na jou kom soek,” antwoord hy en neem die perdeleisels by haar.
Floors raak skrams aan haar hand toe hy die leisels oorneem en Wiandri staan asof versteen, voel hoe ’n helder gloed van onbeskryfbare vreugde deur haar liggaam vloei, luister betower na die oeroue lied van die liefde in haar ore en staar stom na Floors wat fluitend besig is om Rakker af te saal. Floors is ongetwyfeld ’n stommerik van ’n man, dink sy, ineens onredelik kwaad, swaai om en hardloop blindelings huis toe, bang vir die hartseer wat agter haar woede skuil.
Christelle wag Wiandri voor die agterdeur in en vra besorg: “Wat het gebeur, my kindlief? Hoekom lyk jy so ontsteld?”
“Rakker was ’n bietjie gespanne en sy het Floors probeer skop, maar gelukkig nie raak nie,” jok Wiandri sonder om te bloos, nog vasgevang in haar vergeefse gevoel vir Floors.
“Floors Venter,” sê Christelle, ’n vyandige ondertoon in haar stem. “Ek het die sleutel van die wesvleuel in die hande gekry. Kom saam met my, Wiandri. Ek het swart op wit bewyse dat julle nutsman beslis nie Floors Venter is nie.”
4
Christelle is om die een of ander duistere rede werklik Floors se vyand, besef Wiandri en buk vinnig af om met haar sandaal te peuter sodat sy nie haar verwarring en teleurstelling aan Christelle verraai nie. As Christelle swart op wit bewyse oor Floors se ware identiteit het, sal sy hom daarmee konfronteer, en Floors sal weggaan … vir altyd weggaan en al haar huiwerende drome oor hulle goue môres saam met hom neem, dink sy hartseer en kom stadig orent.
“Opskud, Wiandri! Die tannies drink tee in tant Lerina se sitkamer, maar tant Grietjie sal nou enige oomblik kombuis toe kom om ons aandete gereed te kry.” Christelle swyg onthuts toe Wiandri haar verwytend aankyk en vra ongelowig: “Is jy nie ook nuuskierig oor julle nutsman wat onder ’n vals naam by julle werk nie? Of weet jy reeds dat Floors Venter nie sy regte