Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk
die porselein en die silwermessegoed, is alles onvervangbaar. Huis Groeneweide is ’n kosbare erfenis, ’n stukkie geskiedenis, wat vir toekomstige geslagte bewaar moet word. Hoekom wil jy ’n goedkoop losieshuis van die plek maak?”
Floors maak sy mond oop asof hy haar wil antwoord, bedink hom en pers sy lippe hard op mekaar. Hy glimlag skrams en sê skouerophalend: “Ek is net nuuskierig oor die grondvloer van die wesvleuel. As julle dit nie nodig het nie, waarom kan iemand anders dit nie nuttig gebruik nie? Hou op om gate dwarsdeur my te kyk, Wiandri. Ek het waardering vir ’n historiese ou plek soos Huis Groeneweide. Ek hoop jy het eendag hope kinders sodat jy al die kamers kan gebruik.”
“Dit sal van jou afhang, Floorsie. Of het jy vergeet jy het my gevra om te trou?” vra sy uittartend, dankbaar dat hulle blykbaar nie meer baklei nie.
“Het ek?” vra hy, kamma onkant gevang, met die lag dansend in sy oë toe hy vervolg: “O ja, ek het, maar dit was in ’n oomblik van swakheid. Gewoonlik onthou ek van my vrou en ons ses kinders.”
Wiandri draai weg na die rylaan toe sy die naderende geklop van perdehoewe hoor en sê verruk: “Dis Morné en my peetma, Christelle! Kyk, Floors, hulle het my twee ryperde teruggebring. Kom ons gaan wag hulle in by die perdestalle.”
Floors ruk vinnig ’n bottelgroen pet uit sy broeksak, sit dit op sy kop en trek dit laag oor sy oë, sodat niks van sy witblonde hare sigbaar is nie. “Wie is Morné en hierdie Christelle? En hoekom noem jy haar nie tannie as sy jou peetma is nie?” vra hy, merkbaar gespanne.
“Ontspan, Floorsie! Morné Greeff boer saam met sy pa op Môreson, die plaas langs Groeneweide. Ek en Morné het saam grootgeword, hy is net ’n paar maande ouer as ek, en sy pa het ons leer perdry. As ek nie tuis is nie, is my perde op Môreson. ’n Mens kan nie sommer enigiemand met jou perde vertrou nie,” vertel sy en trippel rond van ongeduld toe Floors bly staan asof hy op die grasperk geanker is.
“Ja, ja, ek onthou jou tannies praat soms oor hom,” sê Floors ingehoue, sy blik op die twee ruiters en ’n derde perd, wat hulle gewillig volg, wat sigbaar word tussen die eikebome langs die rylaan. “Vertel my van Christelle,” sê-vra hy bruusk.
“Sy is oud genoeg om my ma te wees, maar ek het haar nog altyd op haar voornaam genoem, sy’s my beste vriendin. Het jy haar nog nie ontmoet nie, Floors? Sy kuier dikwels by tant Lerina-hulle, soms vir ’n paar dae. Sy is die matrone van die privaat hospitaal op die dorp. Ek hoop …” Wiandri swyg onbegrypend toe Floors binnensmonds mompel en vinnig wegstap. “Floors, wag!” roep sy en draf agter hom aan. “Floors, gaan jy stilstaan of moet ek jou pootjie?” vra sy toe sy hom bereik en hy nie eens sy pas vertraag of omkyk na haar nie.
Floors bly staan en tuur met glimmende, donker oë onder die rand van sy pet na haar uit, sy sterk gelaatstrekke stroef en onleesbaar soos toe sy hom die eerste maal gesien het. “Kan ek jou vertrou, Wiandri? As ek saam met jou gaan om jou vriende te ontmoet, kan ek net kom as die dommerige Floors wat jy voor tant Wessie se winkel leer ken het. Sal jy onthou ek is net ’n werklose sukkelaar?”
“As dit werklik vir jou so belangrik is …” begin sy onwillig.
“Ek verkwis nie my tyd op speletjies nie,” val hy haar kil in die rede. “Niks is belangriker as dat jou liewe peetma en jou gawe buurman glo ek is Floors Venter nie – of deel julle drie al jul geheime?”
“Gewoonlik, ja, want Christelle het nog altyd die rol van ’n ouer suster in my lewe gespeel. Tant Lerina is soos ’n liewe ouma, maar ek sou dolgelukkig gewees het as Christelle my eie ma was. Jy kan haar met enigiets vertrou, Floors. Sy …”
“Nee!” onderbreek hy haar weer, sy stem hard van spanning. “Ons maak rusie en ons skeer gek, maar wat ek jou nou vra, is van die uiterste belang. Moenie my verraai nie, Wiandri. Net jy en juffrou Lerina en tant Grietjie weet ek is nie werklik Floors Venter nie. Kan ek jou vertrou?”
“Jy … jy is nie ’n misdadiger nie, is jy, Floors?” vra sy onseker, ongemaklik oor sy intense erns.
’n Glimlag gaan soos ’n flikkerende skadu oor sy lippe. “Nee, ek is nie. Ek is net ’n dommerige nutsman wat sy eie identiteit tydelik geheim wil hou. Het ek jou woord?”
“Natuurlik. Jy is en bly ’n indringer, Floors, maar op jou manier is jy klaar deel van Groeneweide,” willig sy in. Sy vat sy hand sonder om te dink en los dit weer net so vinnig, want die aanraking van sy hand versnel haar hartklop onmiddellik en stuur ’n maalkolk van naamlose sensasies sidderend deur haar lyf. Sy kyk sku op na hom, voel die kleur van haar wange verdiep en beveel kortaf: “Draf, Floors!”
“Komaan, gee my jou hand, Wiandri. Ons sal vinniger by die stalle kom as ek jou saam met my sleep,” terg hy.
“Ek is tant Lerina se kleinniggie, Floorsie. Ek sal dat my peetma en Morné ons skeef aankyk as ek ons dommerige nutsman se hand vashou,” herinner sy hom en ontwyk sy laggende oë.
“Vervlaks! Ek het vergeet ek is ’n nederige handearbeider, maar dankie dat jy onthou het,” antwoord hy, vies vir homself.
“En, Floors, probeer om nie so trots en selfversekerd te loop of te staan nie – jy is veronderstel om ’n dommerige sukkelaar te wees, nie ’n dominerende landheer nie,” pleit sy, bewus daarvan dat sy nou sy spanning deel.
“Trots en selfversekerd?” vra hy oorbluf en lyk nog meer bekommerd. “Ek weet nie hoe ek vir ander mense lyk nie, maar ek sal probeer om soos ’n dommerige Floorsie te lyk,” antwoord hy met ’n halfhartige glimlag en draf swygend saam met haar.
Christelle is op sewe-en-veertig nog ’n beeldskone vrou met haar groot, wolkblou oë en swart, effens krullerige hare, en net soos tant Lerina het sy die slankheid van haar jeug behou, dink Wiandri met ’n tikkie trots op haar peetma. Sy glimlag bly toe hulle effens uitasem die perdestalle bereik.
“Wat het ek vir jou gesê, Christelle?” vra Morné Greeff onnutsig. “Die meisiekind draf al jare lank agter my aan, maar sy sal haar lam skrik as ek die dag omdraai en haar vang!”
Morné se stem het jare gelede gebreek en die lyn van sy kaak en ken het opsigtelik sterker geword, maar hy lyk nog soos die rooikopseuntjie met sproete op sy wipneusie wat so gereeld saam met haar modderkoekies gebak en later perdgery en boomgeklim het, dink Wiandri. Sy loop glimlaggend in sy arms, soen hom op die wang en trek sy kuif. “Jy lyk niks slimmer as jy jou mond toemaak nie, liewe Morné, so jy mag maar aanhou onsin praat. Hallo, my vriend.”
“Beminde, aantreklike en enigste vriend. Hallo, mooi vriendin. Ek is bly jy is terug uit die bose stad,” skerts hy en hou haar aan haar skouers vas, openlike bewondering in sy ligblou oë.
“Los my peetdogter, Morné,” beveel Christelle speels en stoot hom weg sodat sy Wiandri kan soengroet. “Hallo, Wiandri. Ek weet nie of ek of tant Lerina die blyste is dat jy jou graad summa cum laude geslaag het nie.”
“Hallo, Christelle. Ek is so bly jy het nie by jou ouers gaan kuier nie, want ek kan nie wag om te vra nie: Het jy vir my werk in die hospitaal? Enige werk! As ek iemand kan aflos, sal ek dit gratis doen,” bied Wiandri gretig aan.
“O nee, jy sal nie, snip, jy sal ’n bedreiging vir my en die personeel wees. Ons wil ons salarisse hê, ons werk hard daarvoor,” sê Christelle kamma vies en vervolg met ’n gerusstellende glimlag: “Ek is seker ons sal mettertyd van jou dienste gebruik kan maak, maar moenie te haastig wees nie, Wiandri. Tant Lerina sal my nooit vergewe as ek jou dadelik in die werk steek nie.”
“Maar tant Lerina het net geselskap nodig, nie voltydse verpleging nie, Christelle. Ek gaan my morsdood verveel as ek vir die res van my lewe die rol van ’n liewe geselskapsdame moet speel,” antwoord Wiandri teleurgesteld.
“Tant Lerina verwag dit beslis nie van jou nie, my poplap, maar gee haar net eers die gemoedsrus om te weet jy is eindelik permanent tuis. Ek en tant Grietjie is ewe gelukkig om jou tuis te hê. Ek dink dis die moederhensindroom: Ons kloek almal oor ons enigste kuikentjie,” sê Christelle met ’n tergende laggie en kyk vraend na Floors.
“Ek moet die hoenders gaan kos gee, juffrou Wiandri. Water