Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
… en toe gly die simpel kar toe ek die rem trap. Ek kan net weer sê ek is jammer, juffrou Wiandri. Gelukkig skyn die son en as ons ’n bietjie langer hier op die sypaadjie staan, sal jy droog bak voordat jy huis toe ry.”

      Is die mansmens vertraag? Of dryf hy die spot met haar? vra Wiandri haarself ergerlik af en antwoord bitsig: “Ek is nie gewoond om in vuil, nat klere op ’n sypaadjie droog te bak nie, meneer Floors. Ek ry nou huis toe!”

      “Hokaai, asempie!” protesteer Wessie heftig en klou met klein, sterk handjies aan Wiandri se arm vas. “Vir wat hou jy jou so hoog en spoggerig, dingetjie? Floorsie het mos klaar askies gesê en mooi verduidelik hoekom hy jou sopnat gespat het.” Sy draai haar kop skeef en betrag Wiandri oomblikke lank met meewarige erns, maar dan peul ’n moedswillige laggie oor haar lippe. “Hygend, dingetjie, jy kan maar sê Floorsie het jou propperlies in daai eendepan versuip, jy’s nat tot op jou naeltjie!”

      Dis onmoontlik om waardig, laat staan nog meerderwaardig, te lyk terwyl tant Wessie soos ’n mak bobbejaantjie aan ’n mens se arm klou en haar skril skaterlag soos ’n sirene oor die dorpie uitstuur, dink Wiandri misnoeg, en gluur Floors aan, maar hy verroer nie ’n spiertjie in sy gesig nie. Gaaf, die man is nie so dom as wat sy aanvanklik gedink het nie, want hy besef sy sal hom fisiek aanrand as hy durf waag om ’n flikkering van ’n glimlag te toon.

      “Ag, askies toggie, my diertjie, maar as ’n ding snaaks is, is dit nie sonde om te lag nie,” sê Wessie verskonend, lyk skuldig toe sy die afsydige uitdrukking op Wiandri se gesig sien en vra sielsbekommerd: “Kom koop jy nog die lekkertjies of is jy nou die herrie in vir my ok, Wiandri? Almal wil altyd op die boek koop, maar jy betaal met harde kontant. ’n Geldjie is ’n geldjie, asempie, en jou kontantgeldjies sal alte welkom wees.”

      “Ek sal vir alles betaal wat juffrou Wiandri koop, tant Wessie,” bied Floors halfhartig aan en kyk met die waaksaamheid van ’n roofdier na Wiandri, asof hy wonder of sy sy aanbod as ’n belediging sal beskou.

      “Met geld wat jy waar kry, Floorsie?” vra Wessie met ’n uitkoggelende laggie. “Op onse dorpie leef almal in almal se binnekamers en beursies, asempie. Grietjie het my hoeka vertel jy is een van die miljoene werklose sieletjies wat dolgelukkig is om net vir ’n dak oor jou kop en kossies in jou maag los werkies in en om die huis doen. Siestog, jy is ’n alte mooie seunskind, maar sonder geld in die bank is jy ’n nul op ’n kontrak, g’n meisie sal jou mos present wil hê nie.”

      “Ek wil geen meisiemens se present wees nie, tant Wessie,” antwoord Floors onbesorg.

      Dis tipies van die goedhartige tant Grietjie, dink Wiandri wrang: voer al die armes op die ewe groothartige tant Lerina se onkoste. Maar Floors lyk nie arm of behoeftig nie, eerder arrogant en propvol selfvertroue, totdat hy sy mond oopmaak en praat. Is sy toonlose stem net oortuigende toneelspel? vra sy haarself af en kyk wantrouig na Wessie wat Floors uitjouend uitlag. En dan weet hy boonop van haar, Wiandri!

      “Nou vir wat loer jy so kort-kort na Wiandri, Floorsie? Sy is sopnat en moddervuil, die arme sieletjie, maar jy het mos oë in jou kop. Prentjiemooi, dis onse Wiandri, met haar donkerbruin hare wat soos koper in die son blink en haar blou-blou ogies. Die skoolseuns het altoos gesê sy het die mooiste, lang bene en die …” Wessie snak haarself tot stilte en gaan geskok voort: “Hygend, Wiandri, ek sal vir jou ’n droë T-hempie leen, joune klou jou liggaampie soos ’n handskoen vas! Kom, dingetjie, kom!”

      Wiandri pluk-pluk aan haar nat T-hemp en laat Wessie toe om haar na die ingang van die winkel te sleep, haar emosies wisselend tussen ergernis en ongemak. Was dit nou werklik nodig dat tant Wessie Floors se aandag op haar nat klere vestig? Op die strand of langs ’n swembad is die bewonderende kyke van mans so aanvaarbaar soos die hitte van die son, maar om in druipnat klere voor Floors te staan laat haar weer soos ’n selfbewuste tiener voel, en boonop stamp sy haar ken teen die korter Wessie se kop toe dié skielik in haar spore vassteek en omswaai na Floors, wat op hul hakke volg.

      “Skoert terug na jou karretjie toe, Floors! Of meen jy om by te staan as Wiandri ’n droë hempie aantrek?” vra sy kwaai.

      “Nee, tant Wessie. Ek sou in die winkel gewag het. Ek hoef nie te wonder oor hoe juffrou Wiandri lyk nie. Ek kyk minstens twee maal per week saam met tant Grietjie deur haar fotoalbum. Dis propvol foto’s van juffrou Wiandri en op party foto’s dra juffrou Wiandri nie baie kleertjies nie,” antwoord Floors bedaard.

      Die onbeskofte vent! dink Wiandri beledig en gluur Floors met blitsende oë aan. Hy het opsetlik na die talle foto’s van haar in haar bikini verwys omdat hy hoop om haar verleentheid te vergroot. Sy soek na ’n uitdrukking van spot in sy oë, maar sy sonbruin gelaat is so uitdrukkingloos soos ’n granietmasker.

      Wessie trek haar asem skerp in en vra ongelowig: “Al die foto’s, Floorsie?”

      “Ja, tant Wessie, al die foto’s,” antwoord hy onverskillig.

      “Ou Grietjie is ’n sedelose sieletjie … of dalk verstaan sy net nie mooi van mans nie. Hoor jy wat ek sê, Wiandri? Grietjie was nooit getroud nie, die arme, eensame sieletjie, daarom weet sy nie wat mans dink nie. Moenie kwaad wees vir haar nie, asempie, sy is ’n bietjie dom, maar sy het darem ’n liewe hartjie,” verduidelik Wessie en plooi haar dun lippe oomblikke lank vroom saam, maar dan vonk haar oë bestraffend op Floors. “En jy, jou bose seunskind, moet ophou om die liewe Grietjie in haar onskuld te laat sondig. Jy kyk nie weer na Wiandri se foto’s nie, gehoor?”

      “Ja, tant Wessie. Ek kyk liewer na Wiandri in haar nat kleertjies,” antwoord Floors, sy stemtoon onpersoonlik.

      “Stuur die lekkers saam met Floors, tant Wessie. Ek sal later kom betaal,” versoek Wiandri gesmoord, ruk haar arm uit Wessie se klouende hand en storm uit na haar motor toe.

      Sy is gewoond aan die onstuitbare tant Wessie se uitgesprokenheid, maar sy weier om die emosielose gespot van ’n wildvreemde man met ’n klipgesig te verduur, dink sy smoorkwaad terwyl sy deur die water voor haar motor plas. Die blote gedagte dat die gehate indringer gereeld na foto’s van haar in haar bikini kyk, is so vernederend. Het tant Grietjie oornag seniel geword? wonder sy nydig, en ruk haar motordeur oop.

      Sy klap dit hard agter haar toe en bly roerloos agter die stuurwiel sit, te ontsteld om dadelik huis toe te ry en terselfdertyd nie seker waarom presies sy so ontsteld is nie. Sy byt op haar onderlip toe die besef eindelik tot haar deurdring: Sy voel kwaad en beledig omdat Floors nie met die verwagte bewondering na haar gekyk het nie. Sy is twee-en-twintig en sedert haar tienerjare weet sy dat mans, veral jongmans, nie haar uiterlike skoonheid kan ignoreer nie. Sy kyk in die truspieëltjie, sien die diepblou van haar oë omraam deur lang, digte wimpers, en weet met sekerheid dat selfs haar nat hare nie die egaligheid van haar fyn gelaatstrekke en die volheid van haar lippe kan verberg nie. Sy is te mooi om deur enige jongman geïgnoreer te word. Maar Floors kan. Floors! Wat ’n simpel naam, vir ’n simpel man. Sy sal sorg dat Floors binnekort in die pad gesteek word, besluit sy, en skakel die motorenjin aan.

      Daar is nêrens ’n mooier plek as Huis Groeneweide nie, dink Wiandri, en bring haar motor aan die onderpunt van die skaduryke eikeboomomsoomde rylaan tot stilstand om haar oë met bewondering op die ruim sandsteenwoning te laat rus. Toe sy klein was, het sy geglo Huis Groeneweide is ’n paleis, met die talle ruim vertrekke op die grondvloer, twaalf en suite-slaapkamers op die eerste verdieping, en ’n heerlike, geheimsinnige wêreld van solderkamertjies en gangetjies, skuilhoekies en klein venstertjies op die tweede verdieping. Sy onthou die ritseling van die voëls in die klimopplant wat die mure van die ou woning plek-plek met ’n groen kleed bedek, en glimlag onwillekeurig.

      “Dan is jy nie so de vieste in soos wat ou Wessie Winkel my wou laat glo het nie, my engeltjie?” vra ’n goedige vrouestem onverwags langs haar.

      “Tant Grietjie!” roep Wiandri verras uit, skakel die motorenjin af en klim uit. “Ek was briesend kwaad, maar ek vergeet altyd van almal en alles as ek Huis Groeneweide weer ná ’n paar maande sien,” verduidelik sy en soengroet Grietjie op die wang. “Hallo, my liewe tannie. Dis goed om terug te wees.”

      Grietjie Verster vou Wiandri ’n oomblik lank in die sagte warmte van haar mollige arms teen haar bors en soen haar op haar voorkop.


Скачать книгу