Chirurg van harte. Susan Pienaar
was skaars ’n jaar oud toe haar ouers in ’n motorongeluk dood is, en sy by Ouma en Oupa kom bly het. ’n Begeerte om na die gesigte van haar ouers en haar ouma te kyk, pak haar beet en sy stap gang toe na waar die geraamde foto’s teen ’n muur hang.
Hier is sy as tiener saam met Oupa en Ouma gekiek. En hier sit sy op haar ma se skoot, en op ’n volgende een hou haar pa haar teen hom vas. Sy kyk beurtelings na die gesigte in die groepfoto waar sy saam met van die dokters, chirurge en verpleegsters van Dokters Sonder Grense afgeneem is.
Op ’n volgende groepfoto in die raam langsaan, luier haar oë op die gesig van ’n jong meisie wat sy nie geken het nie, maar wat steeds in haar drome by haar spook. Sy het die groepfoto later in ’n chirurgiese tent gekry, en die meisie toe eers herken as die een wie se lewe sy en Paul probeer red het. Sal sy die onbekende meisie ooit kan vergeet en ophou om sulke deurmekaar nagmerries oor haar en ander helpers te kry?
Sy het kwaai teenstand van Oupa-hulle af gekry toe sy tydens haar internskap na die oorloggeteisterde Demokratiese Republiek van die Kongo wou gaan. Op die ou end moes hulle dit maar aanvaar. Sy was avontuurlustig en wou graag die arme mense gaan dokter …
Min het sy geweet watter nagmerrie-wêreld sy binnegaan.
Sy gaap en vee trane af. Sy moet die tee liewer loop maak en Oupa terugneem na die versorgingsoord.
Hugo Massyn bestuur sy Jaguar op autopilot terug hotel toe. Hy kon gerus sy tong afgebyt het nadat hy die girl oor haar oupa se versorging uitgetrap het. Die seerkry in haar helder liggroen oë spook by hom. Plaas hy sy woorde beter gekies het, maar dit was instinktief … Hy skud sy kop. Dit moes die adrenalien gewees het wat die veg-of-vlug-reaksie in sy brein aan die gang gesit het toe sy die deur oopgemaak het.
Hel, toe die wind daardie stunning girl se japon agtertoe waai en hy haar perfekte lyfie in haar skrapse nagkleertjies sien, het hy skoon vergeet om asem te haal. Sy het duidelik gelê en slaap voor sy die deur kom oopmaak het. Haar heserige stem en engelagtige gesiggie met die fyn gelaatstrekke, die lang, gekartelde, blonde hare wat in alle rigtings gestaan het, het hom eenvoudig so betower dat hy net met ’n mond vol tande na haar kon staar.
Hy het verhoudings met uitsonderlike mooi meisies gehad en plotseling weer van hulle vergeet, so hoekom speel dié girl so woer-woer met sy kop? Is dit omdat sy ongekunsteld voorgekom het?
Hy frons nadenkend. Dit kon sy verbeelding gewees het, maar nee …
Hy sien steeds in sy geestesoog die glansende goue lig wat haar soos ’n aura omring, terwyl sy ooglopend skaars bewus is van sy bestaan.
Sy hand krul om die stuurwiel. “Jy is flippen bonkers, Hugo Massyn! Van wanneer af raak jy liries oor ’n wildvreemde meisie wat jy nooit weer gaan sien nie?” Hy skud sy kop weer. Die weerlig het hom sweerlik daar op haar stoep getref, hoekom praat hy andersins hardop met homself?
Hy voel spyt in sy bors opstoot. Haar vriendelike, helder, liggroen oë het verander toe hy haar oor haar oupa se versorging aangevat het, asof sy woorde eers seergemaak het voor verontwaardiging ingetree het.
Sy is duidelik baie lief en ook bekommerd oor hom, maar hel, iemand moet tog seker die opsies oor haar oupa se versorging aanroer? Sy was goed die hoenders in vir hom en het nie eens gewag tot hy by die donker trappe af is voor sy die deur agter hom toegedruk en die lig afgeskakel het nie.
Flip, daar breek hy toe amper sy nek toe hy die laaste trappie mistrap. Hy glimlag en skud sy kop. Vir seker is dit die eerste meisie in ’n lang tyd wat so vinnig van hom ontslae wou raak. Maar hy het respek vir iemand wat haarself kan verdedig.
Hugo draai by die hotel se ingang in. ’n Man geklee in ’n netjiese grys uniform staan nader om sy sleutels te kry sodat hy Hugo se motor op sy gereserveerde parkeerplek kan gaan parkeer.
Steeds ingedagte, klim hy in die hyser wat hom na sy suite op die boonste verdieping neem.
Heerlik uitgerus, trippel Natasja Woensdagoggend die Avianto-hospitaal se trappe op vanaf haar gereserveerde onderdakparkeerplek na die ontvangsportaal.
Izelle, haar vriendin en een van die teatersusters, glimlag toe sy langs Natasja inval. “Haai, Natasja. Lekker gerus?” Izelle se donker oë skitter opgewonde.
“Hallo, Izelle. Ek voel darem nou weer mens.” Sy glimlag. “En as jy nou so vroeg in die dag lyk soos die kat wat die kanarie ingesluk het?”
Sy lag. “Ek het nog nie eens aan die kanarie geproe nie. Maar ja, hy is ’n chirurg wat tydens jou twee dae rustyd saam met nuwe personeellede en kliniese assistente aangestel is. Hier is ook weer ’n spul nuwe toerusting afgelaai.” En toe Natasja swyg: “Maar jy weet natuurlik van alles en bly sowaar tjoepstil.”
“Ek is deesdae, vandat die hospitaal nuwe eienaars gekry het, ook maar meestal in die duister. Onthou, ek sit nie meer in by die vergaderings nie.”
“Ook weer waar.” Izelle kyk kafeteria toe. “Sal ek vir ons twee take-away cappuccino’s gaan haal?”
Natasja haal geld uit haar handsak. “Kry vir ons twee ekstra-grotes, asseblief? Ek het kwaai kafeïenonttrekking.”
Sy gaan sit ingedagte.
Sy kan nie glo dis al agt maande gelede dat sy en die ander chirurge in die direksievergadering gehoor het dat die Avianto-hospitaal finansieel agteruitgaan nie. Dit voel soos gister dat sy saam met die ander chirurge voorstelle ingewin het oor hoe om die private hospitaal van ondergang te red. Darem gaaf en ’n groot uitkoms toe hulle sommer so uit die bloute ’n aanbod gekry het om die hospitaal te verkoop, hoewel daar teenstand was van die chirurge wat nie van hul aandele ontslae wou raak nie.
Mm, ja, ook net totdat hulle tydens ’n direksievergadering gehoor het hoe ruim hulle vir die aandele vergoed gaan word. Toe kon hulle nie wag om die aandele af te staan nie. Haar tienpersent-aandele was nie veel nie, maar in ’n groot hospitaal soos die Avianto blyk dit toe ongelooflik lonend te wees.
Tot almal se frustrasie was die nuwe eienaars se prokureurs en boekhouers en ouditeurs maande lank oral in die kantore aan die werk deur al wat boek en rekenaar is, op soek na als en nog wat voor die kontrakte oor en weer geteken is. Die klousule in die kontrak – wat die chirurge wat aandele verkoop daartoe verbind om drie jaar in hul poste te bly – pla haar glad nie.
Snaaks dat die werklike eienaars nooit gesig gewys het nie. Alles is deur hul prokureurs afgehandel. Daar was bespiegelings dat die nuwe eienaars biljoenêrs is. Dit is seker maar soos die superrykes sake doen? Darem lekker dat hulle met die groot finansiële inspuiting reeds uitgediende toerusting met nuwe apparaat kon vervang, so kan hulle soveel beter en vinniger dienste lewer.
Nou hoor sy by Izelle daar het nog nuwe toerusting bygekom. Daar is selfs reeds sprake van ’n nuwe kraamsaal.
Izelle sit Natasja se bekertjie voor haar op die tafel neer, gaan sit oorkant haar en proe. “Sjoe, brand ek my nou. Maar sê my eers … u-hm, weet jy van enigiets hier rond wat radikaal gaan verander noudat die hospitaal amptelik nuwe eienaars het? As daar iemand is wat sal weet, is dit jy. Dokter Wasserman wat in die direksie is en dié aspekte van die verkoopskontrak hanteer, behandel jou soos ’n eie dogter.”
Natasja haal die houertjie se deksel af en roer suiker by. Sy weet waaroor daar deurgaans bespiegel word. “Dokter Wasserman het vir my gesê die nuwe eienaars wil die naam Avianto behou én hulle verkies ook dat alles soos voorheen aangaan tot tyd en wyl. Ons chirurge het spreekure, dieselfde hoeveelheid dae af, en al die chirurge werk steeds beurtelings by trauma.”
Izelle knik. “Maar is dit nie vir jou ook vreemd dat niemand weet wie die nuwe eienaars is nie?”
“Ag nee wat, ek is oukei daarmee. Wat belangrik is, is dat hulle nie met ons werk inmeng nie en dat die ou en uitgediende toerusting gelukkig vervang is.” Natasja drink ’n slukkie, kyk dan op haar horlosie en tel haar cappuccino op. “Ek moet saalrondtes gaan doen, dan begin my spreekure.”
Sy staan op en glimlag. “Sien jou later vanmiddag in die teater.”
Haar foon lui en sy antwoord so in die stap. Dit is dokter Wasserman se sekretaresse wat sê hy wil