Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
Sy kyk hom fronsend aan. “Nog voorwaardes?”
“Ek weet nie. Dit klink na briewe wat oom Septimus nagelaat het.”
Sy sug. “Ek hoop nie daar is ’n hele nuwe spul voorwaardes nie. Hy kan ons nie van jaar tot jaar afpers nie.”
Hy kyk vinnig na haar. “Afpers? Is dit hoe jy dit beskou? Is dit regtig so ondraaglik?”
“Nee, André,” sê sy kalm. “Dis hoegenaamd nie ondraaglik nie. Dis, om die waarheid te sê, baie aangenaam. Ek is net skepties oor hierdie nuwe briewe. Wie weet wat hy nou weer van ons gaan verwag. Moet ek eers ’n erfgenaam voortbring voordat ek mag loop?”
Hy ruk asof sy hom geklap het.
“Ek is jammer,” sê sy berouvol. “Moenie elke keer so seergemaak lyk nie. Ek bedoel dit nie persoonlik nie. Jy is tog ook gretig om weer met jou lewe voort te gaan, is jy nie?”
“Watse lewe?” vra hy.
“Van ’n jaar gelede,” sê sy ongeduldig. “Voordat jy met my moes trou.”
Hy antwoord nie, vat net sy baadjie en loop uit na die skuur toe.
’n Dag of twee voel sy half kwaad vir hom omdat hy haar skuldig laat voel. Hy is tog ewe veel as sy gebonde deur oom Septimus se testament. Hoekom lyk hy altyd seergemaak wanneer sy iets sê oor die onnatuurlike situasie? Maar sy kan nie te lank hieroor dink nie, want in die pos kry sy ’n kaartjie wat alle ander gedagtes uit haar kop vee.
Dis van Wilhelm. Hy en sy vrou, skryf hy selfversekerd, ry een van die dae Kaap toe en hy het gedink hulle sal vir Julia kom hallo sê wanneer hulle daar verbykom.
“Hoe durf hy?!” bars sy los toe sy dit daardie aand vir André wys. “Kyk net: geen datum nie, geen adres nie. Ek kan nie terugskryf en sê as hy sy voete op die werf sit, sal ek hom wegjaag of vir Radar sê om hom op te vreet nie.”
“Stadig nou,” sê hy. “Hy is tog nou ’n getroude man. Hy wil seker net kom kyk hoe dit met jou gaan.”
“Hy het hom nog nooit oor my welsyn bekommer nie,” sê sy ysig. “Waarom sal hy dit nou doen?”
“Dalk voel hy spyt oor wat hy aan jou gedoen het?”
“Moenie glo nie!” Haar stem is vol haat.
“Julia,” maan hy, “gee die man ’n kans. Jy is ook nou getroud. Ek sal ook hier wees. Dis miskien nie ’n slegte ding dat jy vrede maak met hierdie onplesierige episode nie. Handel dit af, maak klaar daarmee.”
“Dis maklik vir jou om te praat,” sê sy bitter. “Jy sal die hele tyd op die landerye wees. Ek sal hier moet sit en gesels met hulle.”
“Ek belowe jou ek sal sorg dat ek daardie dag heeldag hier is,” belowe hy. “Ek sal dit baie duidelik maak aan wie jy nou behoort.”
Sy kyk hom aan, haar oë op skrefies getrek. “H’m,” sê sy.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.