Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
Hy lig sy hand en roep die kelner nader. “Ek het pas tee gedrink, maar ek sal saam met jou koffie drink.”
“Ek weet,” sê sy bitter. Voordat hy iets kan sê, gaan sy voort: “Ek het aan Wilhelm gesit en dink. Hy was ryk, weet jy. Hy het altyd genoeg geld gehad. Daarvoor het sy ouers gesorg. Om my te kul was net ’n speletjie. Ek moes al die opofferinge maak, ek was die een wat suinig moes leef, elke sent moes spaar. Dis waarom ek nooit klere gekoop het nie.”
Hy kyk verward van haar na die hoop pakkies. “Het jy nie genoeg geld gehad om te koop wat jy wou nie? Dis mos nie nodig nie. Daar is genoeg geld.”
“Ek praat nie van ons nie.” Sy kyk hoe die kelner die koffie voor hulle neersit. “Vergeet daarvan, dis nie belangrik nie. Hoe gaan dit met Wilma?”
Hy skrik effens. “Wilma?”
“Jy en sy het pas klaar tee gedrink,” sê sy geduldig. “Ek het julle gesien.”
“Hoekom het jy nie ingekom nie?” vra hy verbaas.
“Ek wou nie inbreuk maak op julle samesyn nie.”
“Julia,” sê hy berispend. “Sy is ewe veel jou vriendin.”
“Nee, ek dink nie so nie.”
“Toe kom sit jy hier en dink bitter gedagtes oor jou Wilhelm?” vra hy.
“Hy is nie my Wilhelm nie!” Haar oë flits.
“Ek het geen benul wie hy is nie,” sê hy eerlik. “Jy wou nog nooit vir my sê nie.”
“Hy is die man met wie ek sou trou, die man saam met wie ek ’n huis gekoop het, die man wat toe die hele tyd agter my rug nie net al my aardse besittings doelbewus ingepalm het nie, maar dit boonop gedoen het vir hom en die eintlike liefde in sy lewe.”
“Wie was sy?” vra hy.
“Ek weet nie. Ek het nooit uitgevind nie – ook nie belanggestel nie. So ’n Wilma-meisietjie, sag en mollig.” Sy suig haar asem in. “Ek is jammer. Dit was ongevraag.”
Hy laat dit verbygaan. “En toe? Wat het jy gedoen?”
“Ek het hom hof toe gevat. Ek was ontsaglik woedend. Dit was onsmaaklik en dit het maande geduur, maar ek het gewen. Hy moes alles teruggee.”
“Ek sien. En dis waarom jy mans verpes en geweier het om met die testament hof toe te gaan?”
“Natuurlik.” Sy voel nou beter, asof sy van opgeboude gal ontslae geraak het. “En waarom ek dit hier in ’n kafee vir jou sit en vertel, weet ek ook nie.”
“Jy moes dit die een of ander tyd vertel. En dis hy wat daardie aand gebel het?”
“Ja,” antwoord sy somber. “Waarom, weet ek nie. Ons het niks meer om oor te praat nie.”
Hy sit sy koffie afgetrokke en roer. “Is jy bang ek doen dit ook aan jou?” vra hy. “Kul jou, vat alles van jou af weg?”
Sy kyk op. “Nee,” sê sy. “Nee, ek is nie bang daarvoor nie.”
“En tog het jy weer alles in my hande oorgelaat. Jy het gesê, as ek reg onthou, dat jy die grassnyers en trekkers sal regmaak solank ek al die formaliteite met die prokureurs behartig.”
“Ek weet. Dit maak nie sin nie – nie na wat ek deurgemaak het nie – maar ek vertrou jou.”
“Ek is bly.” Hy kyk haar ernstig aan. “Want ek sal dit nooit doen nie.”
“Ek weet.” Sy drink haar koffie en kyk verby hom.
“Waarom is jy dan nog steeds so boos?”
Sy haal haar skouers op. “Ek het jou al vantevore gesê: dis ’n oerreaksie. Ek kan dit self nie verklaar nie. Ek wil nie in ’n teekamer inloop en my man saam met ’n ander meisie sien sit nie. Dis so eenvoudig soos dit.”
Hy kyk vinnig na haar, ’n onleesbare emosie op sy gesig. “Ek is jammer. Ek het nie besef jy dink aan my as jou man nie.”
“Ek ook nie – nie my man in die gewone sin van die woord nie. Jy is eerder my goeie vriend, maar tog.” Sy kyk hom beskuldigend aan. “Sal jy daarvan hou as jy my saam met ’n ander man sien sit?”
“Nee,” sê hy dadelik.
“Nou ja? Daar is nie ’n verklaring vir die gevoel nie, dit is net so.”
Hy is nie so seker daarvan nie, maar sê dit nie.
“Hierdie Wilhelm,” sê hy dan versigtig. “Was jy e … lief vir hom?”
“Ek moet gewees het, waarom anders het ek gedoen wat ek gedoen het? Of meer korrek: ek het gedínk ek is lief vir hom.”
“En hy. Was hy lief vir jou?”
Sy skud haar kop. “Dit sal ek regtig nooit weet nie. Ek dink nie so nie. Ek dink Wilhelm was so gewoond daaraan om te kry wat hy wou hê dat hy nooit ernstige gevoelens gehad het nie. Ek dink nie hy weet wat liefde is nie.”
“Dis ’n algemene toestand.”
Sy kyk verbaas na hom. “Bedoelende?”
Hy lyk ongemaklik. “Ek dink mense verwar dit maklik met iets anders of … Dis ’n vaardigheid wat jy vroeg in jou lewe moet aanleer en as dit nie gebeur het nie, sal jy nooit weet nie.”
Sy antwoord nie, sit net na hom en kyk. Praat hy nou van homself? Kan hy niemand liefhê nie, omdat hy so liefdeloos grootgeword het? Voordat sy egter iets kan sê, staan hy op, baie doelgerig.
“Ons het ’n plaas wat vir ons wag,” sê hy. “Ek kan nie heelmiddag in kafees rondsit nie.”
“Dis nie my skuld as jy van een meisie na die ander beweeg nie,” sê sy kalm. “Ek weet nie wat jou kennisse van jou moet dink nie.”
Hy gee ’n skewe glimlag, begelei haar na haar motor, maan haar om versigtig te ry en stap dan terug na sy bakkie.
Julia dink die res van die middag aan wat hy gesê het en daardie aand roer sy die onderwerp weer aan.
“Was jy al ooit lief vir iemand?” vra sy. Omdat dit koud genoeg is, het hulle ’n vuur in die kaggel aangesteek en sy sit knus op die bank, haar bene onder haar ingevou, haar oë op die vlammende stompe.
Hy laat sak die koerant wat hy gelees het. “Is jy in ’n bui vir ontboeseminge? vra hy.
Sy kyk hom streng aan. “Ek het jou van Wilhelm vertel en wat jy vanmiddag gesê het, het my laat dink. Ek, wat grootgeword het met liefdevolle ouers en dus wat jy sou noem ’n kennis van liefde, het so ’n fout gemaak, my so misgis. Jy het nie. Wel, nie so ver ek weet nie.”
“Nee,” sê hy ontegemoetkomend.
Sy kyk hom gebelg aan. “Watse soort antwoord is dit? Nee wat?”
“Ek het nie so ’n fout gemaak nie.”
“Presies,” sê sy tevrede. “En ek wil weet waarom nie.”
“Omdat ek hoegenaamd geen kennis dra van liefde nie, afgesien van die eerste ses jaar van my lewe.”
“Was jy nooit verlief nie?” vra sy nuuskierig. “Toe jy ’n jong seun was?”
“Ek veronderstel so,” gee hy teësinnig toe. “Maar net op ’n afstand. Ek het nooit iets daaromtrent gedoen nie; ek was te bang.”
“Waarvoor? Die meisies?”
“Miskien.”
Sy dink ’n ruk lank hieroor na. “Maar was jy lief vir oom Septimus?”
“Dit was iets anders,” protesteer hy. “Hy was ’n vaderfiguur.”
“Ja, maar tog. As jy in staat was om een mens lief te hê, beteken dit jy is ook in staat tot die emosie.”
Hy