Ena Murray Keur 16. Ena Murray
Dis omdat sy so bang is dat hy sal agterkom waaroor sy werklik ontsteld is, dat sy killer en ongenaakbaarder klink as wat sy besef.
“Dokter, jy hoef jou regtig nie oor my te bekommer nie. Ek is heeltemal in staat om na myself om te sien.”
Sy sien sy gesig onmiddellik verstrak, en sy stem is net so formeel: “Jammer, suster. Ek het net gedink ek sal jou gerusstel …”
“Ek het geen gerusstelling nodig nie, dankie.”
“Ek begryp.”
Maar wat hy begryp, weet sy nie en gee ook nie om nie. O, sy wens sy het nooit Rondekuil toe gekom nie!
Daardie aand wens sy dat Josephine aan nog iets kon dink om Herman se aand ook in beslag te neem, sodat sy nie nodig het om dit saam met hom deur te bring nie, want sy weet dat Herman haar in ’n hoek gaan dryf. Die hele dag al tob sy hieroor en nog steeds het daar vir haar geen lig opgegaan nie. Sy voel geestelik uitgemergel teen die tyd dat hy die woonstel binnestap.
Noudat sy seker is waar Ben Roux se belangstelling lê en dat daar vir haar geen hoop bestaan nie, besef sy dat sy nie so kan voortgaan nie. Sy sal nou oor haar en Tinkie se toekoms moet besluit. Dis ook nie regverdig teenoor Herman om hom langer aan ’n lyntjie te hou nie.
“Die dag geniet?” vra sy ongeërg sonder veel werklike belangstelling.
“Ja. Dit was nogal lekker. Ek sou dit natuurlik veel liewer saam met jou wou deurbring. Josephine is aangename geselskap, maar ek verkies my dames blond en ’n bietjie meer statig. Kom sit hier by my.”
Marlene voel haar keel toetrek, maar sy gehoorsaam, probeer glimlag. “Dan was Ben verniet jaloers?”
Hy kyk vinnig op haar af. “Was dit oor Josephine? Ek het gedink … Is daar ’n verhouding tussen hulle? Sy het niks laat val nie.”
“Ek weet nie hoe ernstig nie, maar hy neem haar gereeld uit en … so aan. Hy het nie gisteraand te ingenome gelyk nie en vandag was hy weer in een van sy onmoontlike buie. Ek het maar net gedink ek moet jou waarsku.”
Hy kyk haar takserend aan. “En jy, Marlene? Is daar nie eens ’n tikkie jaloesie in jou hart nie?” Toe haar blik voor syne val, sug hy sag en trek haar ’n bietjie nader. “Dis nog steeds Ben Roux, nè?” Sy hand streel oor die kant van haar gesig en rus dan op haar bewende mond. “Marlene, my meisie, dink jy nie dis tyd dat jy die feite vierkant in die oë kyk nie? Ek glo ek sal jou kan leer om my ook lief te kry, as jy my net die kans wil gee, asseblief! Ben is … wel, oënskynlik reeds elders geïnteresseerd. Hoekom jou langer blootstel aan meer hartseer? Hoekom langer hier bly en jouself elke dag pynig? Kom terug stad toe en trou met my, asseblief?”
“Maar dit is nie regverdig teenoor jou nie,” roep sy vertwyfeld uit en stry hard teen die trane. “Ek is so jammer, Herman. As ek self kon kies … Dit sal soveel makliker wees om jou lief te hê. Maar ek kan myself nie help nie, dit is nog altyd Ben. Al het hy nou ’n ander meisie liefgekry en my totaal uit sy hart geban … maak dit nog geen verskil aan mý nie. O, Herman, as gister net wil verbygaan.”
Hy soen haar teer, onrus in sy oë. “Maar as ek bereid is om jou so te neem, met ’n ander man nog in jou hart … Laat my dan net toe om ’n verloofring aan jou vinger te steek, Marlene.”
“Herman, ek kan nie! Ek gaan nie misbruik van jou maak nie.”
“Maar as ek so bitter graag wil hê jy moet misbruik van my maak?”
En terwyl Marlene eindelik met haar rug teen die muur is en moet besluit, óók finaal besluit of sy Ben Roux nog langer gaan toelaat om haar en haar kind se toekoms te beheer, kuier Josephine ’n bietjie by Ben.
In die verlede het hulle altyd lekker saamgekuier, want sy het sorg gedra dat sy nie dieselfde flater as die ander meisies op Rondekuil begaan nie. Sy was nog altyd net ’n lekker maat en aangename geselskap. Maar sy begin nou ’n bietjie teë raak vir hierdie speletjie. In plaas daarvan dat haar optrede hom nader bring, lyk dit asof hy al verder van haar af beweeg. Daar moet ’n rede wees, en sy is van plan om uit te vind wat.
Sy het hom gisteraand baie goed dopgehou, en sy het sy oë gans te veel op sy teatersuster betrap. Ook nadat sy openlik met dokter Henning begin flankeer het, was sy nie mislei deur sy ontevrede frons nie. Dit was nie jaloesie oor háár wat hom so laat lyk het nie.
In die jare wat verby is, was sy gerus dat, hoewel Ben haar nooit aanleiding gegee het om iets meer as vriendskap van hom te verwag nie, daar darem ook nie ’n ander meisie in sy lewe is nie. Voorlopig was sy tevrede om so voort te gaan. Sy is nog jonk, geniet haar werk en die stadslewe terdeë. Eendag, êrens in die toekoms, het sy geweet, wil sy met Ben Roux trou en dan sal sy haar op Rondekuil kom vestig, want dit is darem een feit wat sy vroeg reeds ingesien het: Ben Roux se vrou sal saam met hom op Rondekuil moet bly en hom geleidelik met vroulike lis moet omhaal om na die stad terug te keer.
Maar hierdie keer is sy en Ben glad nie meer sulke groot maats nie. Hy lag nog vir haar sêgoed, maar dis of daar iets tussen hulle ingeskuif het, asof sy gedagtes maar net halfpad by haar en die geselskap is. Sou sy nuwe teatersuster iets daarmee te doen hê? Dis wat sy vanaand kom uitvind het.
“Dié dokter Henning is ’n oulike man. Jou teatersuster sal hom moet oppas of hy word voor haar neus weggeraap!”
Sy sien die onmiddellike verstrakking op sy gesig en sy oë is stip oor die koppie se rand. “Het hulle ’n vaste verhouding?”
“O ja! Volgens hom is die huwelik net om die draai. Hulle gaan glo verloof raak voor hy vertrek. Altans, so kan ek aflei.” Hy het niks hierop te sê nie, en sy vervolg: “Ek is nogal jammer. Hy sou interessante geselskap gewees het terwyl jy nou nie vir my wil kom kuier nie.”
Ben skud net sy kop, steeds swygend. Vanaand irriteer Josephine hom, en hy kan kwalik sy verligting verberg toe sy opstaan om te gaan.
“Ben, ek wil nie indring nie, maar sê my, wat het jy gesê was jou vrou se naam?”
Hy kyk haar half verbaas aan. “Jy is vol nuuskierige vrae vanaand. Maak dit saak wat haar naam was? Dis dinge wat verby is …”
Dan weet Josephine dat haar vae vermoede juis is. En alles is nog nie so verby as wat hy wil voorgee nie. Sy skud haar skouers ongeërg, probeer nonchalant klink. “Nee, ek vra maar net. Soos jy sê, gister is verby, nè?”
Maar terwyl sy plaas toe ry, is haar oë peinsend. Dit kan nie kwaad doen om meer van suster Roux te probeer uitvind nie. Maar by wie? Dan glimlag sy meteens. Sy ken net die regte persoon … of liewer persoontjie! Sy het nog altyd gedink daardie kleintjie is besonder bekkig vir haar skamele drie jaar.
Toe Marlene die volgende oggend aan diens kom, is sy verbaas om Ben reeds daar aan te tref. Sou daar ’n noodgeval ingekom het? Maar daar is geen teken van ’n pasiënt wat dringend aandag nodig het nie en sy kyk hom vraend aan.
“Môre, dokter. Is daar iets waarmee ek kan help?”
“Nee, nie juis nie, suster, maar … ek het net gedink …” Sy oë is skerp. “Soos jy seker self weet, is teatersusters op die platteland swaar bekombaar. Ek wil jou vra om my asseblief vroegtydig in te lig wanneer jy van plan is om te bedank, sodat ek genoeg tyd het om na ’n plaasvervanger te soek.”
“Goed, dokter.”
“Wel, wanneer is jy van plan om te bedank?”
Sy frons. Sy het verlede nag byna geen oog toegemaak nie. Sy is nie vanoggend lus vir ’n rusiemakery nie.
“Wat laat jou dink ek gaan bedank?”
Sy frons verdiep ook en die oë wat na haar kyk, lyk byna vyandig. “Wel, ek het … verstaan daar is ’n moontlikheid dat jy binnekort terugkeer stad toe.”
“O?”
Sy lippe pers opmerkbaar saam en dan raak sy geduld op. “Marlene, moenie vir jou so onskuldig hou nie! Wat de duiwel het jy in die eerste plek hier kom soek as jy trouplanne het?” Toe sy hom net stip aankyk, vervolg hy bars: “Ek