Ena Murray Keur 16. Ena Murray
oë draai na Marlene en sy bloos vererg. Hierdie twee mans moet haar nie as speelbal gebruik nie. Sy kyk ewe koel terug. “Moontlik, dokter Roux. Of miskien besluit ek om Rondekuil nog ’n kans te gee. Dit hang alles af …”
Die telefoon lui meteens en sy is dankbaar vir die onderbreking. Sy kon sien Ben is gereed om haar in ’n hoek vas te keer.
“Dis vir jou, suster Roux,” sê matrone.
Dis Hennie. Hy wil weet hoe dit met Tinkie gaan en of hy hulle nie vanaand vir ’n rukkie kan kom haal nie.
“Ek is bevrees nie, Hennie. Nie vanaand nie. ’n Vriend van my kuier hier en …”
“’n Vriend? Wie is hy?”
Marlene byt haar onderlip vererg vas. Wat gaan met die mansmense aan? En sy wens Hennie wil leer om sagter oor die foon te praat!
“Dis dokter Herman Henning van die stad.”
“’n Dokter? Is hy ’n spesiale vriend of … sommer maar net so?” Hennie klink duidelik onrustig en Marlene trek haar asem in terwyl sy voel hoe die bloed teen haar gesig begin opstoot. “Wel … dankie vir die uitnodiging, Hennie, maar …”
“Nee, wag eers! Moenie neersit nie. Julle kan mos maar nog altyd uitkom. Bring jou vriend en sommer vir Ben ook saam. Josephine sit en verveel haar hier.”
“O, maar ek weet nie of dokter Henning en dokter Roux sal belangstel om saam te kom plaas toe nie,” en sy kyk vraend van die een na die ander.
“Ek neem die uitnodiging aan en ek is seker dokter Henning sal dit interessant vind om een van ons spogplase te sien, of hoe, dokter?”
Herman knik ewe geredelik. Ja, hy sal graag hierdie Hennie wil ontmoet. “Ja, seker. Dit klink interessant genoeg volgens wat Tinkie vertel.”
Marlene het geen keuse nie, en siedend sê sy dan maar: “Dankie, Hennie. Die mans neem jou uitnodiging aan. Totsiens.”
Nog ’n skok wag op haar. Ben Roux is blykbaar baie begaan dat Herman hom miskien kan verveel op Rondekuil.
“Ek moet ’n paar plaasbesoeke doen, dokter Henning. As u belangstel, kan u saamry. Dan sien u sommer iets meer van ons geweste.”
Herman staan dadelik op. “Baie dankie. Ek sal graag saamgaan.”
Vir die res van die dag voel Marlene onrustig. Sy hou glad nie van die idee dat Herman en Ben so lank alleen in mekaar se geselskap is nie. Daar is ook nie juis tyd om te probeer uitvind waaroor hulle die hele tyd gesels het toe Herman daardie aand by die verpleegsterstehuis aankom nie. Hy en Ben stap saam haar woonstel binne.
“Ek het gedink ons kan maar met my motor ry,” laat Ben gulhartig hoor en sy voel glad nie dankbaar nie. Sy sou verkies het dat sy en Herman alleen plaas toe ry. Maar weer moet sy haar maar stilswyend skik.
Die hele ent pad na Tabaksfontein sit sy stil en luister hoe lekker die twee mans gesels. Vanoggend was daar ’n duidelike spanning tussen hulle, maar blykbaar het hulle mekaar gedurende die plaasbesoeke beter leer ken en gevind. Sy vertrou Ben Roux se joviale houding egter glad nie. Hierdie danige vriendelikheid is nie om dowe neute nie, dit kan sy sweer. Weer voel sy die onrus in haar roer. Sy hoop tog nie Herman het onwetend sy mond verbygepraat nie. Maar Ben se houding verraai niks nie, en ook Herman laat niks blyk nie.
Die res van die aand lê soos ’n berg voor Marlene. As die mans haar stilswye opmerk, laat nie een dit blyk nie. Ook op die plaas is sy stil, maar Josephine hou die geselskap só aan die gang dat niemand dit blykbaar agterkom nie. Dat Hennie die ander man goed deurkyk, is duidelik, en op sy beurt word hy ook goed beskou. Dan ontspan Herman Henning. Soos Marlene gesê het: Hennie is net ’n gawe vriend. Hy voel gerus oor hom. Hier skuil nie werklik gevaar nie.
Oor die donker meisie maak hy ook sy eie gevolgtrekking. Hy glo dat die pragtige Josephine nie sal omgee as daar meer as vriendskap tussen haar en die dokter van Rondekuil ontwikkel nie.
Intussen het Tinkie weer op Ben se skoot geklim en aan die slaap geraak asof sy daardie plekkie vir haar uitgesoek het.
“Dokter Henning, hoe is dit dat ek jou nooit in die stad raakloop nie?” wil Josephine op haar kenmerkend reguit manier, wat haar grootouers tog so kan skok, weet. Maar hierdie keer betig haar ouma haar nie. Die vreemde dokter lyk meer na Josephine se maat as Ben. Laat sy liewer ’n vriendskap met hom sluit, besluit tant Miemie, as dat sy dalk vir Ben van Rondekuil af weglok. Dat hierdie ander dokter spesiaal vir Marlene kom kuier het, kan haar nie skeel nie. Hulle is klaar al so lief vir Marlene en Tinkie, sy sal glad nie omgee as hiérdie vriendskap skipbreuk ly nie.
Herman glimlag. “’n Gebarste blindederm opereer jy nie op die dansvloer nie, juffrou.”
Josephine lag ingenome. Glad nie sleg nie. “Maar dink jy nie ’n dansonderwyseres behoort gereeld haar blindederm te laat nasien nie?”
Herman speel saam. “Beslis! Daar kan komplikasies intree indien dit besluit om nie saam te dans nie.”
Hoe later dit raak, hoe meer openlik koketteer Josephine met die nuwe gas. Marlene kyk maar net swygend toe. Sy word nie om die bos gelei nie. Hierdie speletjie word spesiaal gespeel om Ben jaloers te maak. Met ’n dowwe pyn besef Marlene dat sy wel daarin slaag. Ben Roux het later ’n taamlike frons tussen sy wenkbroue en raak ook opmerklik stil. Met ’n ontevrede uitdrukking beskou hy Josephine en Herman en as hy na haar kant toe kyk, slaan Marlene haar ooglede vinnig neer. Hy moet tog nie agterkom dat sy besef dat hy jaloers is nie!
Oënskynlik is dit ’n baie gesellige aand, maar Marlene is innig dankbaar toe dit tyd word dat hulle moet gaan. Daar word nie veel op pad terug gesels nie.
“Dié Josephine lyk na ’n platjie van ’n mens. So vol dinge,” probeer Herman gesellig wees. Maar nie een van die ander twee het iets hierop te sê nie en toe hulle die verpleegsterstehuis bereik, is Marlene baie haastig om by haar woonstel te kom. Ben dra Tinkie kamer toe en Marlene en Herman bly in die sitkamer agter.
“Het ek iewers verbrou? Jy lyk ontevrede.”
Haar oë is beslis nie vriendelik nie. “Nee, natuurlik nie. Dis maar net laat en … ek voel moeg. Môre moet ek al weer werk wanneer jy nog lê en slaap.”
Herman se oë is skerp. “Ek dink nie ek sal laat kan slaap nie. Josephine het gesê sy kom haal my vir die dag. As jy nie sal omgee nie, natuurlik.”
“Nee. Hoekom sal ek?”
Hy neem haar aan die skouers. “Marlene, jy is tog nie jaloers nie, is jy? Ek het maar gedink jy moet die hele dag werk en …”
“Moenie verspot wees nie, Herman. Ek is nie jaloers nie. Geniet jou dag.” Sy breek stomp af toe Ben hom weer by hulle voeg. “Nag, Herman. Nag, dokter Ben. Dankie vir die uitneem plaas toe. Dit was lekker.”
Sy fronsende oë vertel haar duidelik dat hý niks lekkers daaraan gevind het nie.
Die volgende oggend betrap sy Ben se blik dikwels op haar, maar dis eers toe sy alleen in die skropkamer is, dat hy agter haar sê: “Marlene, ek is jammer oor gisteraand.”
Haar blik vlieg verbaas na hom op en vir die eerste keer sien sy hom selfbewus en is die skewe glimlaggie wat altyd so aan haar hart kon ruk in sy een mondhoek. “Ek bedoel Josephine en … jou Herman …”
Sy voel hoe die blos teen haar wange opskiet, maar sy probeer haar onnosel hou. “Ek begryp nie waarna jy verwys nie, dokter. Daar het mos niks gebeur nie …” Sy kyk vinnig weg. “Hy is ook nie mý Herman nie. Hy is vry om te doen soos hy wil.”
“O?” Dis ’n rukkie stil. “Ek het die indruk gekry dat julle … wel, dat daar ’n besonder hegte vriendskap tussen julle is. Ek wou maar net sê Josephine bedoel nie die helfte van die dinge wat sy sê nie en … dis maar haar geaardheid om so te korswel.”
Marlene probeer haar kalmte herwin. Dis vir haar baie duidelik dat hy onder die indruk is dat sy jaloers is oor Josephine se eiegeregtige houding met Herman. Hoe kan hy weet dat dit aan haar geen bloue duit skeel