Geliefde heler. Malene Breytenbach
sleep die grootste tas wat Naomi nog gesien het. Sy kan skaars glo die lugdiens laat so ’n groot ding op ’n vliegtuig toe. Maar die mense het natuurlik eerste klas gevlieg en dan is hulle geregtig om meer bagasie saam te neem.
“Dis Daphne se tas,” sê hy toe hy sien Naomi kyk grootoog daarna.
Naomi wys vir Geert sy kamer en sit sy skootrekenaar op die een bed neer. Hy los die groot tas in die gang en gaan kyk by die venster uit.
Daphne gaan staan langs hom. “Og, leuk, hè?” sê sy. “Ons gaan heerlik swem in daardie bad.”
“Ja, dis ook ’n pragtige tuin,” sê hy waarderend.
“Kom ek wys jou jou kamer,” trek Naomi Daphne se aandag.
Daphne trek ’n vies gesig en volg haar. Geert volg met Daphne se enorme tas. Naomi gaan staan in die deur. “Ek hoop jy sal gerieflik bly.”
Daphne staan met ’n vuis op een heup en kyk in. “Dis klein, hè? Poky. Kleiner as Geert se kamer. Dit kyk ook nie op die swembad uit nie. Is dit die beste wat julle kan doen?”
Naomi byt op haar tande.
Geert kyk ook in. “Jy wou op die nippertjie saamkom, Daphne, die mense het jou nie verwag nie, onthou.”
“Hoeveel slaapkamers het dié groot huis dan?” vra Daphne parmantig en gluur Naomi aan.
“Vyf, as mens die woonstel s’n inreken, maar ek woon daar.”
Daphne tel kastig op haar vingers. “Daar is dus vier slaapkamers. Geert se moeder-hulle s’n, Geert s’n, dié enetjie …” Sy beduie minagtend daarna. “En nog een.”
“Dis tant Merel se suite.”
“Is daardie een nie beter as dié een nie? Ek kan mos daar gaan bly.”
Naomi snak omtrent na asem oor dié vermetelheid. “Tant Merel wil nie hê iemand moet in haar suite tuisgaan nie.”
“Og, so?” Die blonde wenkbroue boog en die blou oë is poolys.
“Jy kan bly wees hier is vir jou plek, Daph,” sê Geert. Klink nogal asof hy sy irritasie moet onderdruk.
Noekie kom in die gang aangestap met arms vol skoon beddegoed.
Daphne kyk fronsend na haar. “Maak net gou met die oortrek, hoor.”
Noekie frons net. Naomi vervies haar vir Daphne se houding. Sy kon gerus asseblief gesê het.
“Ek moet my tas inbring en die motor in die garage gaan bêre,” sê Geert. “Ek moet seker ’n afstandbeheertoestel kry?” Hy kyk stip na Naomi.
“Ja, ek sal vir jou een gee wat die hek oopmaak.”
Hy begin met lang treë in die gang af loop en Naomi draf agterna. “Die motorhuise is langs die huis, maar daar’s net twee,” sê sy. “My en tant Merel se motors is daarbinne. Langsaan is ’n motorafdak waar jy jou motor kan intrek.”
Hy gaan staan en kyk na haar. Sy donkerblonde wenkbroue skiet die hoogte in. “Net twee motorhuise?”
“Ek huur die een saam met my woonstel.” En ek gaan dit nie aan jou beskikbaar stel vir jou huurmotor nie, arrogante vent.
Hy haal sy skouers op. “Dan staan die BMW maar onder die motorafdak. Ek hoor hier breek mense alewig by motors in. Dis nie veilig nie, maar dit kan seker nie verhelp word nie.”
“Daar is darem ’n hoë muur om die erf. In elk geval het ons veronderstel julle gee die motor terug aan die huurmaatskappy en ry met tant Merel se Mercedes.”
“Nee, ek het my eie voertuig nodig. My vaderhulle sal in die Mercedes wil rondry terwyl ek werk. Hulle sal tog nie heeltyd net by die huis wil sit nie.”
Hy begin sommer weer aanstryk, by die trappe af, en sy moet weer agternatrippel.
“Ek sal solank vir julle tee gaan bestel. Julle kan dit oor tien minute in die sitkamer drink, terwyl Noekie jou verloofde se kamer regkry.”
“Goed.”
Sy kry die tweede afstandbeheertoestel in die laai van die kas in die portaal en gee dit vir hom.
“Dankie,” sê hy en loop by die voordeur uit.
Sy bly staan in die portaal en hoor die motor se kattebak toeklap. Voordat hy met sy tas kan inkom, loop sy vinnig kombuis toe. “Sjoe, dis veeleisende mense, Dwayne.”
“Noekie sê die dokter het sommer sy verloofde saamgebring. Die vermetelheid. Hulle kon ons darem gewaarsku het, nè? Hulle moet net nie kla oor die cuisine nie.”
“Oor jou kos kan hulle sowaar nie kla nie. Hulle gaan baie lekker eet. Gaan jy aan met wat jy doen. Ek sal vir die mense tee invat. Noekie maak die Daphne-vrou se kamer vir haar reg. Nadat sy die bed oorgetrek het, moet sy nog vir haar stryk ook.”
Sy sien die silwer teeservies staan gereed op die teetrollie, ook die mooi blou-en-wit porseleinkoppies en -bordjies, vurkies en teelepels met fyn blou servetjies. Tant Merel het mos vir haar en Noekie en Dwayne gewaarsku dat net die beste goed genoeg is vir haar broer-hulle.
Naomi stoot die teetrollie na die sitkamer. Die mense ontspan daar op die deftige gestoffeerde stoele en wag om bedien te word. Naomi probeer om nie te frons nie. Hulle moet net nie van haar verwag om hulle heeltyd te bedien nie. Nou het sy nie ’n keuse nie, want arme Noekie word besig gehou en Dwayne berei aandete voor.
Naomi kyk eerste na Mathilda Bouwman. “Hoe neem mevrou die tee? Met melk? Suiker? Eers tee skink, dan melk of andersom?”
“Eers melk, dan tee en suiker, dankie.”
Sy vra hulle een-een en skink vir almal. Gee dit aan. Almal bly sit, asof hulle gewoond is om bedien te word en verwag dat sy dit moet doen.
“Melktert vir almal?” vra sy.
“Nie vir my nie, dis iets wat vet maak,” sê Daphne.
“Ons ander sal almal neem, nè?” sê Geert. “Dis heerlik, dié melktert. Ek het dit graag geëet toe ek in Suid-Afrika gewerk het.”
Tot haar verbasing staan hy vir die eerste keer op en help haar om die bordjies met snye melktert aan te gee. So, hy hét darem maniere, al het hy nie aanvanklik behulpsaam gelyk nie.
Daphne sit met haar lang bene voor haar uitgestrek en haar slanke enkels gekruis. Sy drink haar swart, bitter tee met klein slukkies. Naomi kyk diskreet na die mooi bene en merk op dat hulle besonder wit is.
“Jy drink nie tee saam met ons nie,” sê Geert skielik, asof hy haar teregwys.
“Nee, ek wou julle net tuismaak en weer gaan werk.”
“Werk?” vra hy.
“Ek is besig om te skilder.”
Sy wenkbroue boog. “O, jy is ’n kunstenaar?”
“Dis net ’n stokperdjie.” Sy wei nie uit nie. “Ons sjef, Dwayne September, berei vir julle ’n heerlike aandete voor. Tant Merel het julle dalk vertel dat sy hom deur sjefskool gesit het en nou werk hy vir haar.”
“Ja, ons weet van dié kêrel,” sê Jan-Karel Bouwman. “Sy het my verseker hy kan al die Nederlandse disse maak waarvoor ons lief is. Anders het ons maar liewer in ’n hotel tuisgegaan.”
Hy het ’n soort bitsige, sarkastiese, konfronterende houding as hy praat, wat Naomi dwars in die krop steek. Hy maak kastig nou ’n grappie, maar daar is ’n angel in. Is die seun soos die pa? Dan gaan enige vrou wat vir hom val, les opsê.
“Dwayne is ’n uitstekende sjef,” sê sy kil vir die pa. “Ek glo nie julle gaan enige rede hê om te kla nie.” Sy vermoed egter dié man is hiperkrities. Dwayne is baie gevoelig en as hulle hom opdraand gee, weet sy nie of hy dit gaan verduur nie.
“Ons wil Suid-Afrikaans ook eet,” sê Geert. “Die sjef moet sy spesialiteite maak.”
Is