Geliefde heler. Malene Breytenbach
“Dis so mooi, Dwayne,” sê sy. “Jy het regtig moeite gedoen.”
“Die kleure is ter ere van Nederland.”
Mathilda Bouwman klap haar hande en lag verruk. “Ag, hoe leuk tog. Hè?” Sy kyk na haar man en seun en Daphne.
“Ja, leuk,” sê Jan-Karel, sonder geesdrif.
“Pragtig,” sê Geert.
Daphne glimlag net. Hulle gaan sit. Naomi sit so ver van Geert af as wat sy kan. Dwayne bring ’n bak met biefstuk en skep vir almal. Daarna bring hy tjops en groente. Daar is groot bakke mengelslaai en aartappelslaai op die tafel. Laaste kom hy met die paptert. Die heerlike geur laat Naomi se mond water. Dit lyk glad nie na pap nie. Sy en Dwayne kyk betekenisvol vir mekaar.
“Wat is dit?” vra Jan-Karel agterdogtig.
“’n Heerlike tert wat ons altyd eet wanneer ons braai,” sê Naomi. “Geniet dit.”
Dwayne skep vir Jan-Karel die grootste porsie in. Hulle almal kry slaai, Naomi laaste.
“Eintlik eet ons gewoonlik informeel buite as ons braai,” laat sy uitglip voordat sy ’n wag voor haar mond kan sit.
“O, maar nou eet ons binne?” sê Geert, wat haar priemend aankyk.
“Dwayne het seker veronderstel dat julle Europeërs eerder in styl in die eetkamer wil eet. Normaalweg is ons veel gemakliker.”
“Ons kan in die vervolg buite eet wanneer ons braai,” sê hy. “Dis minder moeite vir die sjef.”
Tegemoetkomend van hom, dink Naomi.
“Hier bedien die sjef sommer aan tafel,” merk Daphne op. “Gewoonlik kom die sjef nie uit die keuke nie.”
Naomi verstyf. Dwayne moet net nie hoor wat sy sê nie – dit klink so neerhalend. Sy gluur Daphne aan.
“Hier is die hulp egte all-rounders,” merk Jan-Karel met ’n skewe grinnik op.
Naomi voel die hitte van ergerlikheid in haar nek opvlam. “Ons kan bly wees hier is so ’n talentvolle sjef soos Dwayne wat bereid is om ’n sogenaamde all-rounder te wees. Noekie is huis toe. Sy werk net bedags. Sy het ’n gesin en is nie vier-en-twintig uur aan diens nie. Dwayne kry ook tye af, maar hy is nou aan diens om julle onthalwe.”
Naomi weet sy praat bitsig, maar wragtig, dié mense word rojaal behandel en dan kritiseer hulle.
Tant Merel het Dwayne seker ekstra betaal vir die lang ure. Gaan dié mense dan niks vir hulself doen nie? Moet hulle van kop tot tone bedien word? Dis mos nie ’n gastehuis of hotel nie.
“Ons waardeer dit, hoor,” sê Mathilda, asof sy sien hoe Naomi haar vererg het en wil probeer paai.
“Ek weet min of meer hoe om te braai,” sê Geert. “Lood het my geleer. Ek sal in die vervolg vir ons braai. Dwayne hoef nie elke aand soveel moeite te doen nie.”
“Ek kan vir ons slaai en bykosse maak wanneer ons braai,” bied Naomi aan. Net daarna kan sy haarself skop. Tog vermoed sy dié twee vroue is nie juis kranig in die kombuis nie. Daphne het sulke lang vals naels dat sy nie haar hande in water sal steek, groente sal kerf of uie en tamaties en komkommer sny nie.
“Dié is tog heerlik.” Jan-Karel beduie na die oorblywende bietjie paptert in sy bord. “Vreemd, maar tog goed, hè?”
Naomi kry lag. As hy moes weet die hoofbestanddeel is mieliepap, kry hy seker die stuipe. Hy dink seker dis iets soos polenta.
Nadat hulle Dwayne se heerlike roomystert vir nagereg geëet het, staan Naomi op. Sy gaan nie vir koffie wag nie.
“Verskoon my, daar is iets wat ek wil gaan doen,” sê sy. “Rustige nag vir julle.”
Hulle groet almal verbaas. Dink seker sy is onbeskof, maar sy het nou net mooi genoeg van hulle gehad. Sy loop kombuis toe. Dwayne sit by die tafel en eet van sy eie roomystert. “Alles was heerlik,” sê sy. “Baie dankie. Jy bederf ons regtig.”
Hy glimlag breed. “Dis oukei, die dokter het my ’n yslike bonus betaal. Hy is regtig vrygewig.”
“Het hy?” Naomi is verstom.
4
Naomi het nie laat geslaap nie, maar lank aan ’n mooi roman van Michael Ondaatje lê en lees. Sy trek rustig aan: haar baaibroek onder ’n sonrok. Kyk by die venster uit. Ja, daar sit die vier Nederlanders weer. Sy kan hulle seker nie ignoreer nie, en Geert het aangedring dat sy saam met hulle kuier. Dit verg tandekners in hulle geval, al kom sy gewoonlik maklik met mense oor die weg. Sy en hulle sal maar net gewoond moet raak aan mekaar.
Die gedagte om Geert weer te sien, laat onwillekeurig ’n klein rillinkie van opgewondenheid deur haar trek.
Sy gaan kombuis toe en maak vir haar koffie en beskuit. Sy eet en drink klaar voordat sy by hulle aansluit. Haar hart klop onreëlmatig, maar sy hou haar koel en kalm voor die oorweldigende Geert Bouwman. Vandag is almal darem in slenterdrag. Jan-Karel het ’n wit driekwartbroek aan en ’n los wit hemp. Mathilda dra ’n grys langbroek en sagte pers bloes, maar sy is steeds vol juwele. Geert dra ’n baaibroek en sy hemp hang oop. Naomi probeer om nie na die fris borskas bedek met blonde hare te kyk nie. Sy hou haar ongeërg, maar let op hoe sexy Daphne lyk. Sy het ’n ligblou strandjakkie aan en dit lyk nie asof daar veel baaibroek daaronder is nie.
“Môre, goed gerus?” vra Geert. “Vroeg in die bed geklim?”
Is hy nou sarkasties? “Ja, dankie, en julle?”
“Heerlik geslaap, dankie.”
Jan-Karel gryns. “Ek het wel beter geslaap as wat ek verwag het.”
As dié man nie kil of suur is nie, kan hy nogal aantreklik wees. Waarom glimlag hy omtrent nooit? Nee, óf hy trek sy mond óf hy gryns. Sy vind dit moeilik om van hom te hou.
“Het julle al ontbyt gehad?” vra sy.
“Lankal,” sê Geert. “Ons het nie laat geslaap nie.”
Nie soos jy nie, skimp hy seker.
Daar is biere op ’n tafel en Geert bied vir Naomi een aan.
“Dis vir my nog vroeg vir bier,” sê sy. “Maar … goed dan. Dit sal lekker wees, dankie.”
Hy grinnik spottend. “Ek braai vandag. Dwayne het vir ons bykosse gemaak, dus hoef jy nie in die kombuis te gaan werk nie. Die vleis staan alles reg. Ek het vir Dwayne gesê hy kan die dag af vat.”
“Dis goed,” sê sy styf en neem ’n sluk van haar bier. Dwayne sal dit beslis waardeer.
Op die grootste van die twee tafels is daar sout en peper, souse, borde netjies gestapel, plekmatjies, servette en eetgerei neergesit sodat hulle net hulself kan help.
Daphne staan op, vat die sak wat langs haar staan en loop na ’n lêstoel. Sy trek haar ligblou jakkie uit en gooi dit oor ’n stoel. Naomi kan haar oë nie glo nie. Bestaan daar ’n kleiner bikini? Liewe hemel, die onderstuk is bloot ’n deurtrekker. Die bostuk is so klein, die strepies lap bedek net-net Daphne se tepels. Die rondings van haar borste is oop en bloot. Dit laat absoluut niks aan die verbeelding oor nie.
Naomi kan haarself nie daarvan weerhou om gefassineer na die slanke figuur, die perfekte borste wat net groot genoeg is, en die plat maag te kyk nie. Sy sien met ’n rillinkie van walging dat Geert spekulerend na sy vriendin se manjifieke, bykans naakte figuur kyk. Daphne sorg natuurlik dat sy haar verloofde se bloeddruk opjaag. Sy hormone is seker nou besig om te tango.
“Jy moet oppas vir dié son, Daph,” sê hy besorg. “Hier brand ’n mens erg.”
Naomi kyk diskreet na hom. Waarsku hy vir Daphne dat sy te kaal is?
Daphne haal ’n blou-en-geel bottel sonroom uit haar sak. “Kom smeer my dan, lieverd.”
Hy sit sy bier op die tafel neer en loop na haar