Helene de Kock Keur 2. Helene de Kock
“Sies, Kiewiet, jy maak nie mooi nie,” het sy spontaan geprotesteer. “Van Loek sal ek dit dalk nog verwag, maar nie van jou nie.”
Dis toe dat hy haar stewig aan die skouers vasgevat het en speels geskud-skud het. “Nou maak jy ook nie mooi nie, Jessie! Maar dis te ’n gewigtige onderwerp waarmee ons nou besig is. Dit wil voorkom asof ons albei ’n identiteitskrisis beleef, maar hierdie nag gaan te kort wees om dit uit te pluis. Kom sit liewer nou daar by ons klomp sodat ek ’n ogie oor jou kan hou. En geen koffie meer vir jou voor sonop nie, hoor. Ek het nie lus om weer die berge oor te steek op soek na jou nie!”
Sy het gelag, saamgestap na waar hy haar aan ’n paar van sy ou skoolmaats voorgestel het. Mense wat teruggekom het om op hul erfplase te kom boer of onderwys te gee. Hulle het haar nuuskierig bekyk soos vroeër die aand ook. Veral die paar onderwyseresse het haar skamper beloer en hul woorde versigtig gekies totdat Jessica hulle mooi gevra het om tog op te hou om haar te professor-professor en haar naam te gebruik. Dit was een van die mans, ’n fris, joviale kêrel, wat padlangs wou weet wie se meisie sy nou eintlik is, Kiewiet of Karel s’n?
Jessica was ’n oomblik uit die veld geslaan, maar sy het haar kop gou bymekaar gekry, ’n nonchalante laggie gegee. “O nee, niemand s’n nie. Ek kuier net op Populier.”
“’n Lastige situasie,” het Kiewiet ongeërg laat hoor. “Dit bring nou mee dat ek en Karel haar om die beurt moet amuseer!”
Daar was goedige wolwefluite en jolige gelag en Jessica het saamgelag, skielik onverklaarbaar geborge tussen die warm, hartlike mense. Sy lê nog ’n ruk wakker, maar haar wange het droog geword en haar kop is vol loom en lekker herinneringe aan Populier se mense. In die loop van die week dat ek daar was, dink sy, het ek ryk geword. Anna is ’n stuk goud, Karel is dierbaar en Kiewiet is Kiewiet. Sy ontleed nie verder nie, maar draai op haar sy en raak rustig aan die slaap.
Sy word wakker toe die son al haar kamer warm gebak het en mevrou Geyer haar half bekommerd kom soek.
“Ek het jou laas nag in die swembad gewaar, kind. En ek het geweet jy kry swaar …”
“Ja,” knik Jessica, glimlag dan skeefweg. “Maar toe maar, mevrou, ek gaan hard probeer om hierdie ding stylvol te oorleef!”
“Jy sal nog spot. Maar ou liefde is ’n gevaarlike ding. Dit lê soms jare latent en dan skielik …”
“Nee wat!” keer Jessica en spring uit die bed. “Liefde wat buite in die reën gelos is, roes wel.”
Die semester begin met ’n vaart wat Jessica soms laat voel dat sy moet spring om by te bly. Sy geniet dit terdeë op hierdie kampus. Die aanvanklike vreemdheid het binne ’n week of wat verdwyn. Haar kollegas is aangenaam en die omgewing vol tradisie. Sy is veral lief vir haar kantoor in die Ou Hoofgebou, waar sy kan uitkyk op die suisende fonteine in die voorhof. En sy vind die studente soos altyd interessante, vermaaklike wesens.
Hulle dink onmoontlike stories uit om toetse te ontduik, maar net ’n volgende keer presteer hulle asemrowend; hulle maak ogies vir haar in die klas, staan dan druipstert en luister as sy hulle kortvat. Soms kry sy selfs bossies blomme wat bepaald uit die tuine rondom die kampus gegaps is, en een bring ’n briefie om te sê hoe baie hy haar berisping oor ’n swak klastoets waardeer het.
Karel bel gereeld om te hoor hoe dit gaan en luister geesdriftig na haar vermaaklike vertellings. Net een maal vra hy stug: “En die Daniël-vent? Maak hy die lewe vir jou swaar?”
“Nee, Karel, dit kan ek vir jou met ’n eerlike hart sê. Hy het my kom opsoek en ons het gesê wat ons onder omstandighede kon sê om ons paaie glad te maak. Wanneer ons mekaar raakloop, tree ons doodnatuurlik op. Groet en vra uit en so aan. Nie dat ons juis werklik gesels het nie, maar ek dink die stof het al om ons gaan lê.”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Wel, dit was gou duidelik dat almal hier rond van my en Daniël se verhouding destyds weet. Stories trek mos gou. Maar noudat ons self eintlik daaroor is, het die belangstelling vervaag.”
En dis heeltemal waar, dink sy toe sy een middag toetse sit en nasien en die middaghitte haar ’n slaggie buitetoe dryf om ’n rukkie in die skadu van die wilgers by die rivier te sit. Daniël sit nie ’n voet verkeerd in haar geselskap nie. Nie dat hy sou nie, dink sy wrang, en pluk ’n dun, druipende takkie bo haar kop driftig af. Daarvoor is hy te diplomaties. Nie dat sy dit nie waardeer nie. Sy het immers tyd nodig om by die feit aan te pas dat Daniël Krause weer in haar lewe opgeduik het. Al is dit dan ook net op ’n afstand. Sy skrik darem nie meer as hy haar op die fiets verbysteek op pad kampus toe nie. En sy kyk nie meer vervaard weg as hulle per toeval by ’n fakulteitsvergadering oogkontak maak nie. Maar een ding weet sy: hulle is wel besig om in nouer wordende sirkels om mekaar te beweeg. Nader en nader.
Daar was die onthaal by die rektor aan huis waar hulle regoor mekaar aan tafel gesit het en sy heelaand sy blou blik op die goue kettinkie om haar hals gevoel het. En daar is die kere dat hy haar in die studentesentrum op kampus raakloop en dadelik vassteek om ’n geselsie aan te knoop. Alles onskuldig, dink sy en gee pad uit die skadu’s om verder te gaan nasien. Maar tog, sy kan dit nie ontken nie: toe hy haar nou die dag in Tomstraat onder die digte groen eike op haar fiets gewaar, het hy vasgesteek en vir haar gewaai. En op sy gesig was die ou, ou gloed van bewondering wat haar lank gelede so bekoor het.
Ag, Vader, bid sy toe sy voor die hoop vraestelle gaan sit, help my om wys te word. Keer tog my hart voordat hy weer met my weghol …
6
Sowat ’n maand na die universiteit begin het, kom Karel onverwags kuier. Jessica is onnoemlik bly om hom te sien en gooi spontaan haar arms om sy nek. Sy gewaar dadelik ’n vae hartseer in sy oë, maar toe lag hy net en knyp haar wang.
“Dis lekker om só ontvang te word, Jessica.”
“Ag, ek verlang soms na my ou vriende,” erken sy verleë. “Ek geniet Potch baie, maar soms is daar darem so ’n hol kol as ek aan die ou dae dink.”
“Dan moet jy veel meer op Populier kom kuier, Jess. My ma wil gedurig by my weet wanneer jy weer kom.”
“Gouer as wat julle dink,” beloof sy plegtig.
Dié naweek stap sy en Karel die dorp plat. Hulle gaan af rivier toe en loop al met die wandelpaaie langs om die dam. Hulle gaan eet in braairestaurante en gesels asof hulle mekaar in jare nie gesien het nie. Ek is lief vir dié mens, dink Jessica meer as een keer. Hy is ’n vriend onder vriende. Een maal gaan hulle fliek en dis toe hulle die nuwe Disney-tekenprent klaar gekyk het dat hulle Daniël teëkom.
Hulle sit ’n laataand-koffietjie in ’n arkade-kafee en drink toe hy langs hul tafel vassteek. Hy is alleen en sy blou oë staan stil in sy kop toe hy Karel saam met Jessica sien. Sy stel hulle aan mekaar voor en dis Karel wat hom heel onverwags nooi om by hulle te kom sit. Hy gesels gemaklik met hom en Jessica sit dankbaar agteroor om haar half weemoedig te verwonder oor alles. Sy kyk na Daniël se skraal, ekspressiewe hande en na Karel wat met stipte konsentrasie sit en luister na wat die ander man oor die gesag van die hooggeregshof te sê het. Oplaas draai hulle na haar omdat sy so teruggetrokke sit. Karel glimlag effens, maar Daniël se mondhoeke pluk onseker toe hy sê: “Ek bederf nou jou aand, Jess. Julle het sekerlik baie om oor te gesels as Karel van Bethlehem af gekom het …”
Die woorde hang vraend in die lug, maar nie Jessica of Karel reageer daarop nie, bestel net vir hom ook ’n koppie koffie en toe gesels die mans rugby. Dis toe Daniël hulle weer alleen laat dat Karel sonder ’n woord sy hand oor die tafel na haar uitstrek. Sy vat sy vingers vas en sê ook niks. Toe hy haar by die huis gaan aflaai, sit hulle nog ’n oomblik in die motor.
“Ek kan begryp,” sê hy oplaas, “dat jy vir Daniël Krause lief kon word. En waarom jou hart steeds seer is.”
“Hy is nie,” keer sy haastig, maar hy skud sy kop.
“Moenie so seker wees nie. Ek het jou oë gesien toe jy na hom gekyk het. Jy voel nog vir hom, Jessie. En dis dalk nie so ’n groot fout nie. Ek moet jou sê, ek hou van die man.” En