Helene de Kock Keur 2. Helene de Kock
Ek is bloot volwasse, maar jy is ervare. Die vertrekpunt is nie meer dieselfde nie.”
Hy lig haar hande oor die hekkie tot teenaan sy borsbeen waar sy die bons van sy hart kan voel. “Jess, wat ook al gebeur het, die vertrekpunt bly dieselfde. Ek het jou nog altyd lief.” Hy buig sy kop en ’n kort oomblik rus sy mond op hare voordat hy omdraai en in die diep skemering wegstap.
Dis in die laatnag-ure dat sy worstelend aan haarself erken: dit was wonderlik om hom weer te soen. ’n Gloed van skaamte stoot in haar op. Het ’n vrou dan waaragtig so min trots dat sy selfs aan kwade herinneringe bly klou? Die man het haar immers versmaai …
Sy staan later maar op en maak koffie. En sy dink. Sy bid ook, met en sonder woorde. Oplaas raak die genade haar helder denke aan. So is dit: ’n vrou hou aan haar liefde vas omdat sy in haar siel geprogrammeer is vir permanensie. En die verlies daaraan bly knaag totdat die leemte weer gevul is.
Net toe val haar oog op Kiewiet se pienk kaartjie wat by die suigstokkies was. Sy sal hom moet bedank. Sy gaan sit weer, trek half gedagteloos ’n stukkie papier nader en skryf:
Beste Bill
Dankie vir die stroopsoet wense
Uit die kies van ’n suikerslaaf
Maar – dis gevaarlike tendense
Vir ’n man bekend as bitterbek-braaf
Netnou sê hulle jy word week:
Jy moet liefs ’n stokkie daarvoor steek …
Soettand-groete,
Maggie
Jessica se mond roer in ’n laggie. Môre pos sy dit aan Loek de Jager by die SAUK – en hy en Kiewiet kan maar daarvan dink net wat hulle wil.
7
Agterna is Jessica spyt. Sy moes nooit die simpel rympie geskryf het om dankie te sê vir die suigstokkies nie. Sy hoor nie ’n dooie woord van Kiewiet nie en aand na aand sit sy saam met mevrou Geyer en kyk hoe Loek se kassie-gesig met die ou dame se emosies toor.
“O,” spot mevrou Geyer soms met haarself, “dat ek nou in hierdie beplooide ou lyf vasgevang moet wees! Kyk, as ek darem jonk was …”
Daniël kom kyk soms saam nuus en is ’n slag by toe sy dit sê. Hy wil geamuseerd weet wat sy nou eintlik sou gedoen het as sy twintig was, aangesien daar reeds soveel meisies om die man draai.
“Soos wié?” vra Jessica skerp nog voordat mevrou Geyer ’n woord kan inkry.
Daniël lag en tik haar speels op haar hand. “Raai wie lees nooit die sosiale nuus nie! Selfs ék weet dat twee gewese skoonheidskoninginne hul strikke vir hom stel, en nou die aand was hy saam met Bernice Jordaan by die Artes-oorhandigings.”
“Bernice Jordaan?” herhaal Jessica verstom. “Jy bedoel daardie dingetjie met die dun armpies wat kort-kort op die modetydskrifte se voorblaaie pryk?”
“Einste,” antwoord Daniël en kyk tergend na haar warm wange. “Die media hou haar voor as een van die mees gesogte modelle in die land, Jessie! Jy en mevrou Geyer sal maar moet vrede maak met die feit dat julle jul held met derduisende ander vroue moet deel, jong.”
Jessica voel hoe haar nek styf word en sy staan vinnig op om te gaan koffie maak. “Ek is g’n aanhanger van Loek de Jager nie, hoor!”
“Haai sies, wat,” laat mevrou Geyer floutjies hoor, maar sug genoeglik toe Loek die kykers met sy fyn siniese glimlaggie ’n aangename aand toewens.
Daniël stap agter Jessica aan kombuis toe en leun arms voor die bors gevou teen ’n kas. Sy voel hoedat sy oë elke klein beweginkie van haar volg en anders as die vorige kere dat hy staan en kyk het hoe sy koffie maak, ontsenu dit haar nie. Sy glimlag skeefweg met hom. Ek raak dit gewoond, dink sy tevrede. Die ding dat Daniël terug is, dat ons met elke nuwe gesprek die seer tussen ons verder oopvlek en dat ons stadigaan besig is om ook helende dinge vir mekaar te sê.
“Waaraan dink jy?” wil Daniël sag weet en raak aan haar lang, los hare toe sy verby hom stap om die ketel af te skakel. Sy neem gou eers vir mevrou Geyer haar koffie en draf haastig terug kombuis toe. Sy leun oor om sy koffie aan te gee en voordat sy vermoed wat hy gaan doen, trek hy haar om die tafel, sit albei hande op haar heupe en kyk op. “Jess, antwoord my.”
Sy aanraking is warm deur die katoen van haar wye, sagte romp en haar hart bons opeens in haar keel. Toe raak sy baie versigtig, net met die punte van haar vingers, aan die kepie tussen sy wenkbroue waar sy destyds graag met haar lippe gestreel het. Jy sal ’n plooi kry as ek die frons nie wegsoen nie, het sy dan altyd gesê.
“Sien jy nou, jy hét ’n plooi gekry. As jy nie oppas nie, is jy een van die dae ’n krom, gryse ou professor vol horingdroë wyshede!” Maar hy draai sy kop weg sonder om eens te glimlag en sy maak sy hande los om langs hom by die tafel te sit.
Dis toe sy vir hom die suiker aangee en hy dit met ’n driftige kopskud van die hand wys, dat hy weer praat: “Jessica, moet my asseblief nie ontwyk nie.” Hy druk liggies met sy vinger net onder die klop van haar kuiltjie. “Ek moet weet wat hier aangaan! Ek kan aan niks begin bou as ek nie grond onder my voete het nie.”
Sy bly lank stil, weeg die woorde in haar kop, voel hoe hulle afsak hart toe soos kluite in ’n dam. “Daniël, daar was ’n tyd toe ek gedink het ek sal sterf sonder jou. Maar ek het dit oorleef. Ek weet nou dat ek sonder jou kan oorleef. Let wel, kán oorleef, nie dat ek noodwendig wil nie. Ek wil, soos wat jy goed weet, iemand in my lewe hê …” Haar stem pols skielik vol emosies en sy bly vervaard stil.
“Gaan voort,” por hy sag, en daar is soveel teerheid in sy blik dat die verwyt wat al so lank smeul, wind kry en vlamvat.
“Jy was nog nooit ’n vlak mens nie! Ek verstaan nog steeds nie, Daniël. Daar moet ’n tyd gewees het, al was dit net vir ’n oomblik, dat jy Danina liefgehad het, genoeg om met haar te trou. Dit kon tog nie net ’n nag se warm pret gewees het nie?”
Hy leun terug in sy stoel, kruis sy hande agter sy kop.
“Nee,” sê hy net toe sy dink dat sy dalk te ver gegaan het. “Dit was nooit, ooit liefde nie. Dit was een onbesonne nag wat tot ’n ander gelei het …”
“Maar waarom?” hou sy vol en haar oë hou syne, hou dit en wag dat sy blik hare moet ontglip. Maar dit gebeur nie. Hy leun selfs nader aan haar sodat sy die liggrys strepies in die blou irisse kan uitmaak.
“Jess, daar was geen rede nie. Geen enkele, sinvolle verduideliking wat ek kan aanvoer nie. Dis juis wat dit so verskriklik maak. Ek was desperaat van verlange na jou, depressief van die lang, nat winter, maar bowenal, Jessica, was ek swak. Swak … ek het nie eens probéér weerstand bied teen Danina se dwingende attensies nie.”
Jessica klem haar koffiebeker styf vas en kyk weg toe sy vra: “Was sy vir jou baie mooi? Ek bedoel, was dit goed tussen julle?”
Hy trek sy asem met ’n ligte snak in, pers sy mond saam sodat sy haastig ’n gebaartjie maak om te keer. “Nee, toe maar, die vraag is buite perke …”
Hy maak haar hande sagkens los van die beker en vou hulle in syne toe. “Nee, Jess, dis juis wat ek die meeste gemis het. Jou onstuitbare eerlikheid. Jou determinasie om tot op die been te dring sodat jy beter kan begryp.” Hy lig onverwags haar hande op, soen haar palms en sy oë is vol rou emosie toe hy weer praat.
“Ek sal nooit anders met jou kan wees as net eerlik nie. Sy was vir my mooi, ja, want ek het nie diep genoeg en lank genoeg gekyk nie. En dit was goed in soverre seks tegnies bevredigend is. Maar weet jy hoe volslae sinneloos is dit met iemand wat bloot ’n liggaam geword het?”
Sy voel die bloed na haar kop stoot. “Nee, ek sal nie weet nie, Daniël. Maar waarom het julle immers nie probeer om die siel van jul huwelik weer op te vang nie?”
Hy gooi sy kop agteroor, staar na die plafon en glimlag wrang. “Die siel is daar of hy’s nie daar nie, Jess. ’n Mens het werklik lief of jy het nie.”
Sy