Waar liefde begin. Schalkie van Wyk
het nagelaat om in ag te neem dat Ninon en Bernard ’n tweeling is, Lani. Jý het nie ’n broer om jou te beskerm nie. Boonop het jou neef en niggie studentelenings aangegaan om vir hul universiteitstudie te betaal – lenings wat hulle nou maandeliks terugbetaal. Ek en Danika se ouers het vir jul studie betaal – heelwat meer duisende rande as wat my suster en haar man aan die tweeling se oorsese toer bestee het.”
“Maar ek is ’n weeskind – Mamma se enigste wesie.” Lani sien die ingehoue lag in Ursula se oë vonkel en glimlag bedroë. “Goed, Mamma wen. Ek en Danika het reeds besluit ons sal entrepreneurs word en ons miljoene stil-stil verdien.”
“Uiters suksesvolle entrepreneurs, wat … wat allerlei dinge doen en elke dag ryker word,” beaam Danika met onoortuigende entoesiasme.
“Ek wag in spanning op verdere inligting oor jul bron van inkomste. Hoop julle om tweedehandse boeke te verkoop of gaan julle pannekoek bak en by huise aflewer?” vra Ursula.
Danika kyk afgehaal na Lani. “Sien jy nou? Ek het geweet jou ma gaan met ons entrepreneurskap die spot dryf. Die laaste maal toe ons pannekoek gebak het, het sy almal gekoop en vir die bure se honde gevoer … maar selfs die honde wou dit nie vreet nie.”
“Ons was net agt jaar oud en ons het te veel suiker en te min meel gebruik,” sê Lani verontskuldigend. “Mamma, ek en Danika het besluit ons wil volkome onafhanklik van ons ouers wees, ons eie huur betaal en ons eie geld verdien. Verkieslik op ’n ver plek. ’n Baie ver plek. Soos êrens in die Kaap. Daar waar Mamma en Danika se ouers nie kort-kort kan kom inloer om te kyk of ons darem genoeg kos in die yskas het en nog brandstof vir ons rygoed kan bekostig nie. Ons wil soos volwaardige volwassenes behandel word.”
“Wat hoop julle om in die Kaap te doen wat nie net so suksesvol hier in Johannesburg gedoen kan word nie?”
“Johannesburg het nie ’n strand nie, tant Ursula,” lig Danika haar gretig in.
“Ook waar. Gaan julle beeldjies, boksies en borsspelde van skulpies maak en aan die toeriste verkoop?”
“Mamma skeer al weer die gek met ons,” verwyt Lani haar en vervolg onverskillig: “Nie dat dit ons raak nie. Ons het oom Awie en tant Marcia klaar gebel en hulle kry solank ons …”
Lani sien die gevaartekens op Ursula se gelaat en besef dat sy uiters taktvol sal moet wees as sy haar sin wil kry. “Ek en Danika ken niemand anders in die Kaap nie, Mamma. Gelukkig kuier oom Awie-hulle elke Kersvakansie by ons, daarom ken Danika hulle amper so goed soos ek. Tant Marcia is baie lief vir my, want sy sê altyd ek is haar sonstraaltjie.”
“En Lani sê weer altyd tant Marcia is haar opgestopte tannie, want sy is vet en sag soos ’n warm verematras. Dink tannie ek sal eendag so vet soos tant Marcia wees?” kwel Danika.
“Die kind het ses onderskeidings in matriek behaal en haar honneursgraad summa cum laude geslaag, vertel mense my. Danika, hoekom raak jy dan die kluts kwyt as jy in my geselskap is?”
“My ma is vet en gemaklik, tannie. Ek bedoel, sy is net ’n gewone mens … e … ’n huisvrou, wat lekker kos kook en koek bak en my drie broers verskree wanneer hulle krieket naby die kombuisvensters speel. Tannie lyk altyd verskriklik deftig en ernstig. My ma sê tannie is hoogs intelligent en besonder begaaf en aantreklik en dis ’n skreiende skande dat tannie nie weer getroud is nie.”
Lani pomp Danika onthuts met haar elmboog in die sy. “Genade, maar jy en jou ma skinder lekker wanneer ek nie by is nie! Soek julle ’n man vir my ma? Solank julle weet ek stel nie in ’n stiefpa belang nie.”
“Dalk kry jy ’n vrygewige stiefpa. Ons het geld vir brandstof nodig as ons Kaap toe wil ry,” kerm Danika.
“Om liefdeswil!” Ursula frons haar misnoeë en vervolg afkeurend: “Dit raak my nie wat julle met oom Awie-hulle afgespreek het nie, maar ek sal bitter ongelukkig wees as julle twee al die pad Silwersee toe ry. En ek sal beslis nog ongelukkiger voel as julle van die arme tant Marcia se goedhartigheid misbruik maak. Hulle is ou mense, albei vinnig op pad sewentig toe, en hulle werk veels te hard. Oom Awie doen al die herstelwerk aan my vakansiehuise op Silwersee en hou ’n ogie oor die huurders. Tant Marcia bak en brou van vroegdag af en behandel die huurders soos eie familie op háár onkoste. Ek het altyd betroubare huurders vir my huise, maar dis alles te danke aan die twee wonderlike mense. Ek sal hewig ontsteld wees as julle twee ook nou op my peetouers se groothartigheid gaan teer.”
“Dit is presies hoe ons oor die situasie voel, Mamma, maar ons het alles gereël,” sê Lani stroopsoet en onskuldig.
“Wat gereël?”
“Met tant Marcia gereël om vir ons werk te kry. Sy het gesê ons hoef ons glad nie te bekommer nie, want sy weet net met wie om te praat. As ander meisies au pairs in Amerika of Europa of Kanada kan wees, kan ons seker maar au pairs op Silwersee wees. Of verkies Mamma dat ons oorsee werk soek?”
“Moenie dit onder my neus vryf nie, Lani. Ek weet jy is twee-en-twintig en vry om jou eie keuses te maak, maar dit plaas jou terselfdertyd in ’n posisie om my seer te kan maak. Goed, ek wil baie graag hê jy moet jou eie geld verdien en werklik selfstandig wees, maar dit is vir my bitter moeilik om jou hand te los en jou jou vlerke te laat toets.” Ursula glimlag skrams. “Ek het my redes waarom ek nie op Silwersee kuier nie, maar woon julle by oom Awie-hulle, hoef ek ten minste nie slapelose nagte oor jou veiligheid te hê nie.”
“Dan sal tannie ons help met ’n geldjie om brandstof te koop?” vra Danika verlig.
“Danika,” grom Lani, “my ma is in ’n sentimentele bui, want ek is haar voëltjie wat die nes wil verlaat. Mamma, ignoreer asseblief my beste vriendin se geldgierigheid. Mamma is mos bly oor ons besluit om by oom Awie-hulle te gaan loseer.”
“Jy klink altyd ekstra vroom wanneer jy eintlik astrant is, Lani,” sê Ursula met ’n glimlaggie, gee Lani ’n drukkie en kyk pleitend in haar oë. “Jy is my alles, kindlief, daarom vra ek baie mooi: As ek vir julle lugkaartjies betaal, sal julle vir eers van jul motors vergeet?”
Lani en Danika kyk na mekaar, glimlag triomfantelik en draai terug na Ursula wat hulle onseker betrag. “Ons kan nie sonder ’n ryding in die Kaap sit nie, Mamma. Ons het klaar gereël met vier studentemaats wat die Paasnaweek in die Kaap wil deurbring: oom Hennie Vermaak se twee seuns en twee van hulle vriende. Rikus en sy vriend sal saam met my ry, en Gustav en sy maat saam met Danika. Hulle sal bestuur wanneer ons moeg word. Klink dit aanvaarbaar?”
“Ongetwyfeld, maar hoe kom julle op Silwersee? Dis meer as twee uur van Kaapstad af.”
“Ons sal oom Awie betyds bel en hy sal ons by ’n restaurant in die Kompanjiestuin ontmoet. As ons te laat in Kaapstad arriveer, sal ons in ’n hotel of ’n gastehuis oornag en hom die volgende oggend bel. ”
“Sorg dat julle nie laataand in die stad aankom nie, want tydens die Paasnaweek is blyplek gewoonlik ’n probleem.”
Die meisies knik instemmend.
Ursula byt egter gekweld op haar onderlip en sê: “Ek wil julle nie ontmoedig nie, maar as julle na drie maande nie gelukkig met jul werk of verdienste is nie, kan julle terugkom. As dit nodig is, sal ek dan begin toutjies trek om vir julle werk in die joernalistiek te kry.”
“Genade … Praat van vertroue in Mamma se enigste kind! Ons sál ’n sukses maak van die werk wat tant Marcia vir ons gaan kry. Nè, Danika? Ek en jy gaan werk dat die byle huil, want ons gaan nie terugkruip vir gunste en gawes nie.”
“O, ek sal maklik terugkruip, maar dis omdat ek nie jou selfvertroue het nie. Sal tannie vir my werk kry as ek na drie maande terugkom huis toe?” versoek Danika. “Ek gee glad nie om om op my knieë te pleit nie.”
“Solank jy my enigste oorlas saam met jou huis toe bring,” antwoord Ursula en blik liefderyk na Lani wat haar met ’n glimlag vir haar toegeeflikheid bedank.
Rikus Vermaak kyk vies na Lani wat saam met hom en Danika by ’n tafeltjie in ’n restaurant sit, en vra gedemp: “Is dit nou werklik nodig om op ’n simpel stranddorpie te gaan werk, Lani?