Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
se suster nie? Hy sou meer vergewensgesind gewees het as sy eerlik was. Sy sou haar alles vir hom gegee het … Hom liefgehad het haar lewe lank. En nou is dit te laat. Hy glo sy is ’n leuenaar en ’n bedrieër, net so vals en wispelturig soos haar suster …
“Hy is môreaand terug. Dan kan ons gerus weer braai, om te vergoed vir laas keer se fiasko,” sê Margo.
“Ons sal sien …” antwoord Carmia ontwykend. Sy is môreaand dalk nie eens meer hier nie. Of sal Deneys by hul mondelinge kontrak hou en haar agt en veertig uur kennis gee?
As sy moeilik wil wees, kan sy daarop aandring dat die finale besluit by Margo berus. Margo het haar nodig, nie net wat betref die boek nie, maar ook as geselskap en iemand wat na haar omsien.
“Ek kon nie slaap gisteraand nie,” vertel Margo. “Toe het ek nog ’n stuk gedikteer – ons held aan ’n uithoukompetisie laat deelneem. Hom laat verloor en sy lelike kant gewys. Ek weet nie of hy moes wen nie. Ek het gesukkel en dis deurmekaar … Speel die band terug. Sê wat jy dink en voeg meer emosies by. Skryf by as hulle soos papierpoppe lyk …”
Carmia voel onrustig. Margo klink onsamehangend, en dis vreemd dat sy van haar beplanning afgewyk en die held ’n skurk gemaak het. Dit sal nie deug nie. Die heldin is verlief op hom en daar is te min bladsye oor om ’n nuwe held te skep wat sy plek kan inneem.
“Ek sal sommer nou die band gaan terugspeel. Siende dat jy intussen nie kan voortgaan nie, kan jy gerus op die stoep ontspan met ’n paar van die tydskrifte wat ons laas gekoop het.”
Carmia dra die borde kombuis toe en maak vir Margo vars koffie.
“Hoe lyk sy vir jou, Dorie?” wil sy weet. “Moet ons nie by ’n dokter uitkom nie?”
Dorie aarsel. “Mevrou se kleur is sleg, en ek hou nie van die geswelde voete nie. Maar jy ken haar ook al … As sy aanhou sy wil nie dokter toe nie en jy aanhou jy wil haar vat, maak jy haar sieker. Kom ons wag tot môre, wanneer meneer Deneys terug is.”
“Ek is bang hy raas omdat ek nie beter gesorg het nie.”
“Meneer Deneys is nie so nie. Hy’s soos Zeus: blaf jou ore doof, maar byt nie. Hy ken mos darem ook sy ouma, en hy’s net so ’n hardekop as hy ’n ding nie wil doen nie.”
Carmia voel meer gerus. Sy het vroeër vanoggend ook oom Kappie se raad gevra en hy het met Dorie saamgestem: sy moenie Margo ontstig en haar bloeddruk dalk verder opjaag nie. Sy moet wag tot Deneys kom.
Wat meer kan ek doen? vra sy haarself af. Maar net wag, en sorg dat die boek klaarkom. Margo sal ontspan sodra die manuskrip by haar uitgewer is.
Die werkskamer is in wanorde, asof Margo haar goed gesoek het. Carmia pak reg, stapel al die los bladsye opmekaar en bêre die naslaanboeke. Dan gaan sit sy agter haar lessenaar en skuif die oorfone oor haar kop.
Sy speel die band twee keer terug, terwyl sy agteroor sit en aandagtig luister. Dit wat sy hoor, maak haar al meer besorg. Die verloop van die verhaal is onoortuigend en nie in Margo Vermeulen se normale vlot styl nie. Sy herhaal haarself kort-kort en die uithoukompetisie is vaag. Netnou aan tafel was dit nie opmerklik nie, maar op die band kan Carmia duidelik hoor dat Margo se tong sleep.
Sy mors nie tyd nie, draf die trap af en gryp in die verbygaan haar handsak, selfoon en die motorsleutel. “Dorie!” roep sy kombuis toe. “Ek gaan nie kanse waag nie. Mevrou is nie gesond nie, ek vat haar dokter toe!”
Dorie hardloop agterna. Hulle vind Margo op die stoep, sluimerend in die hangstoel, die tydskrifte onoopgemaak op die vloer langs haar. Haar voorkop voel warm en twee rooi kolle brand op haar wange, asof sy koorsig is.
“Moet oom Kappie nie saamgaan nie?” stel Dorie bekommerd voor.
“Hy kan nie die plaas net so los nie. Dis beter as ek alleen ry. Moenie bekommerd wees nie, ek ken die pad en sal nie ’n ongeluk maak nie.”
“Gelukkig het meneer Deneys die pad laat skraap.”
“Het hy?” Seker vóór gister se rusie, dink Carmia. Bedagsaam van hom …
Oom Kappie help Margo in die motor nadat Carmia by die voordeurtrappe stilgehou het.
“Weet jy waar dokter Denkema se spreekkamer is, nooi?” vra hy besorg.
“Deneys het die adres vir my neergeskryf. Hibiskusstraat, oorkant die koöperasie.”
“Ry versigtig. Bel my as jy probleme het.”
“Ek sal. Dankie, oom.”
Margo se oë sukkel om te fokus. “My kop draai … Voel of ek sweef,” mompel sy.
“Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat toets?”
“Weet nie …”
“Of vir ’n algemene ondersoek gegaan?”
Margo verstaan nie en Carmia dring nie verder aan nie. Sy voer brandstof en lig haar voet versigtig van die koppelaar af, sodat die lewendige sportmotor nie uit sy spore wegspring nie. Margo se sitplekgordel is stewig vas, maar sy wil nie dat sy dalk haar kop stamp of skrik nie.
11
Sonder die sandwalle en die viertrek wat krities op haar hakke ry, verloop die elf kilometer gladweg. Carmia kry ’n parkeerplek voor die spreekkamer, klim uit en help Margo tot binne. Gelukkig is daar net een ander pasiënt voor hulle en herken die ontvangsdame hul plaaslike selebriteit.
“Ek het ál haar boeke gelees. Party tot drie keer!” adem sy bewonderend. “Dokter sal nie lank wees nie. Dis net oom Venter wat vir ’n nuwe voorskrif gekom het, dan kan mevrou Vermeulen ingaan.”
Carmia vryf Margo se koue hande om die bloedsirkulasie aan te help. “Hoe voel jy?” verneem sy bekommerd.
Margo klink vaag. “Ek sien alles dubbel. Ek weet jy is Carmia, maar waar is ons?”
“By die dokter,” antwoord Carmia rustig. “Hy gaan jou ondersoek om uit te vind hoekom jy sukkel om te fokus en wat die hoofpyn veroorsaak.”
Margo stribbel nie teë nie. “Ou … dok?” prewel sy.
“Wie?”
“Oudok,” herhaal Margo met ’n sleeptong.
“Dokter Denkema,” verduidelik die ontvangsdame. “Almal noem hom Oudok, want hy is al ’n leeftyd op Ballito. Hy en oorlede meneer Vermeulen was goeie vriende. Hulle het saam gholf gespeel.”
Carmia is bly die dokter is nie ’n vreemdeling nie, anders sou Margo dalk nie so inskiklik gewees het nie. Sy wonder of dit hartmoeilikheid kan wees. Of stres? Verder as dit wil sy nie dink nie.
Die vaderlike dokter met die kortgeknipte grys hare laat haar aan haar pa dink. Dieselfde sagte oë en warm handdruk. Daar is ’n knop in haar keel en Carmia verlang skielik plaas toe, en na haar ma, wat altyd oplossings vind waar ander probleme sien.
Oudok laat die pasiënt op ’n bed in die ondersoekkamer lê. Hy neem Margo se bloeddruk, luister na haar hart en longe en skyn ’n liggie in die vergrote pupille.
Hy vra ’n paar vrae, wat Carmia beantwoord so goed sy kan. Sy probeer kalm bly en haar groeiende onrus beteuel.
“Wat is verkeerd, dokter?” vra sy toe hulle terug is by sy lessenaar, met Margo steeds langsaan in die ondersoekkamer.
Hy is rustig, maar ernstig. “Haar bloeddruk is gevaarlik hoog. Haar hartklop is onreëlmatig en daar is tekens van ’n serebrale insident. Wat die omvang was, kan ons nie sonder ’n breinskandering bepaal nie. Ek wil hê dat sy in hoësorg opgeneem word vir toetse.”
“Hospitaal?” vra Carmia verslae.
“So gou moontlik.”
“Waar? In Durban?”
“As julle dit sou verkies. Maar die privaat hospitaal op Ballito het die nodige fasiliteite. Dis nader vir julle, en ek reken dit sal die pasiënt die minste verontrief.”