Tot die dood ons skei. Schalk Schoombie
in ’n 2010-artikel in die Amerikaanse National Institute of Justice Journal waarin Richard Gelles armoede, werkloosheid en probleme ten opsigte van geld, seks en kinders identifiseer as sosiale en demografiese faktore wat direk verband hou met alle vorme van gesinsgeweld, behalwe seksuele aanranding. Finansies, sê hy, is altyd in mindere of meerdere mate betrokke. Wanneer ’n gesin gebrek ly of die pa lank werkloos is of skielik sy werk verloor, kan dit bydra tot ’n slegte selfbeeld of stres. Gelles, dekaan van die departement van maatskaplike beleid en bestuur aan die Universiteit van Pennsilvanië, sê: “Dit is wanneer ’n man voel dat die reëls van die spel verander het, dat dit wat hy altyd geglo het ten opsigte van homself, sy gesin en sy werkgewer skielik nie meer geld nie.”
Tussen 1980 en 1994 het die reëls van die spel in Suid-Afrika ongetwyfeld verander, maar gesinsmoord vind vandag nog in alle gemeenskappe in Suid-Afrika plaas. In die tagtigerjare is gesê dat Suid-Afrika ’n gewelddadige samelewing is. Wit en swart mans het geleer om wapens te hanteer – die een in die weermag en die ander in die gewapende struggle – en wit mense het die toekoms gevrees. Dit is steeds ’n gewelddadige land. Misdaad vier hoogty en die swak ekonomie en stygende werkloosheid sorg dat niemand meer verseker is van werk nie. Die reëls van die spel verander so te sê by die dag.
In die laat negentigerjare het professor Shanaaz Mathews, toe van die MNR, ’n studie van al die moorde tussen 1 Januarie 1997 en 31 Oktober 2001 in en om Pretoria gelei. Dit het gefokus op gevalle waar die slagoffer ’n vrou was, waar die man ná die tyd selfdood gepleeg het en waar die verhouding tussen die twee bekend was. In 54,8% van die gevalle was hulle getroud of in ’n verhouding. Die moordenaar was of ’n ouer, getroude wit man wat sy vrou en homself in hul huis geskiet het of ’n jong, ongetroude swart man wat sy meisie en homself in hul huis of in een van hulle se huis geskiet het. Die meeste was in Mamelodi en die tweede meeste in Atteridgeville. In 17 van die 46 gevalle is selfdoodbriewe op die toneel gevind, ’n aanduiding dat die moord beplan is.
Hoewel Mathews en haar kollegas nie na gesinsmoord per se gekyk het nie, dui hul bevindinge op ’n algemene neiging: Dit is nie meer net Afrikaners wat intieme-vrouemoord en gesinsmoord pleeg nie. Die feit dat beide die wit en swart mans vuurwapens gebruik het, is ook insiggewend. Navorsing in Suid-Afrika en elders in die wêreld vind herhaaldelik dat die gevaar van mishandeling en intieme-vrouemoord baie groter is wanneer daar ’n vuurwapen in die huis is. (Meer daaroor in hoofstuk 5.)
Dit is ironies dat die skuldige dikwels ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), weermag of sekuriteitsdiens is – mense wat uit die aard van hul werk gelisensieerde wapens besit. “SA se passiemoordslagting ergste ter wêreld: dertien vrouemoordgevalle in 3 maande” lui ’n opskrif in Die Volksblad van 10 Mei 2006. Onder die 13 slagoffers is konstabel Christina Mdlalose van Soshanguve (haar ekskêrel het haar met haar dienspistool geskiet), Millie Venter en haar twee kinders (haar man, ’n lugmagsersant by Hoedspruit-lugmagbasis, het hulle doodgeskiet en toe sy keel probeer sny) en Poppy Mosia (haar ekskêrel, ’n polisiesuperintendent, het haar, vier van haar familielede en vier van sy kollegas in Kagiso doodgeskiet).
GEVALLESTUDIE
Verloofde oorleef gesinsmoord
Volgens ’n polisiewoordvoerder het Tshepo Majola Woensdag 16 Desember 2015 sy kinders van onderskeidelik vyf en twee jaar vermoor en toe sy verloofde by ’n nabygeleë sjebeen probeer vermoor.
Kaptein Tsekiso Mofokeng het gesê dat die vrou in ’n ernstige toestand in die hospitaal is.
Tshepo se broer, Thabo Mpokola, het vertel dat die paartjie twee maande gelede verloof geraak het. Volgens hom het Tshepo dikwels gekla omdat sy verloofde hul kinders by sy ouers gelos het terwyl sy na ’n nagklub gegaan het.
“Ons het Versoeningsdag gevier … Tshepo het seker twee biere gedrink, maar was nie dronk nie. Hy het sy dogter na die kamer waar sy seuntjie geslaap het, geneem. Almal het gedink dat hy hulle soos altyd in die bed gaan sit het,” sê Mpokola.
Tshepo het hom op sy selfoon gebel en gesê hy is jammer vir wat hy in die slaapkamer gedoen het. “Hy het gesê dat hy hul ma gaan doodmaak. Dit was ’n slagting, die kinders se kele was heeltemal afgesny,” sê Mpokola.
’n Paar minute later het iemand hulle kom sê dat Tshepo sy verloofde met ’n mes gesteek het. “Hy het blykbaar na die sjebeen gegaan om met haar te praat en sy het na bewering haar verloofring afgehaal en na hom toe gegooi. Dit was toe dat hy haar in die nek gesteek het,” sê Mpokola.
Tshepo se liggaam is agter ’n opslaanhuis in die agterplaas van ’n huis in Phomolong aan die Oos-Rand gekry. Maria Mokobodi, wat daarop afgekom het, was getraumatiseer. “Ek was op pad toilet toe toe ek sy liggaam daar sien lê. Hy het op sy maag gelê en ek het vermoed dat hy dood is en het gegil terwyl ek na die huis toe gehardloop het,” sê sy.
Frida Mokobodi, wat ook in die huis woon, het gevoel of hy ’n polsslag het, maar Tshepo was reeds dood. “Toe hulle hom omdraai, was daar ’n stuk van die elektriese kabel wat ons vir die wasgoeddraad gebruik het om sy nek. Daar was bloed in sy ore en neus en om sy pols,” sê sy.
Mofokeng sê dat hulle ’n saak van moord, poging tot moord en selfdood ondersoek.
– SowetanLive.co.za, 18 Desember 2015
Is of was gesinsmoord dus eie aan Afrikaner-gesinne? Ja en nee. Toe die regering die RGN gevra het om vas te stel of gesinsmoord werklik eie aan wit Afrikaners is, kon Graser se bevindinge dit nie doen nie. As teenvoeter vir al die wit Afrikaner-gesinsmoorde het ’n spesiale uitgawe van die mediese tydskrif Geneeskunde een swart Suid-Afrikaanse gesinsmoord gebruik om te wys dat dit nie net Afrikaner-mans is wat hulle gesinne vermoor nie.
Almal het oënskynlik buite rekening gelaat dat koerante en tydskrifte in die apartheidsjare bitter min nuus oor ander bevolkingsgroepe bevat het en beslis nie nuus van ’n persoonlike aard nie. Gevolglik was dit al waaruit mense, navorsers inkluis, hul menings kon vorm.
Dit het ook nie gehelp dat die kerk, die pers en Afrikaner-instansies voortdurend na verklarings vir gesinsmoorde gesoek het nie, dalk omdat gesinsmoord lynreg ingedruis het teen die waarde wat aan gesinne geheg is. Op dié manier het die Afrikaner dit as ’t ware homself toegeëien.
Sedertdien het herhaalde studies wêreldwyd gewys dat ras, klas en geloof min met gesinsmoord of intieme-vrouemoord te doen het. In Indië en Pakistan pleeg Moslems, Hindoes en Christene eremoord. In die VSA skiet wit en swart mans hul vroue en kinders. In Switserland, die bakermat van vredeliewendheid, skiet ouer mans verbasend gereeld hul vroue dood. In Skandinawiese lande, waar ’n vrou ’n man kan dagvaar vir diskriminasie omdat hy die deur vir haar oopgemaak het, word 40% van alle moorde in Swede deur ’n intieme maat of familielid gepleeg.
Graser se studies in die laat tagtigerjare, selfs met die eenvormigheid van die moorde, kom tot die slotsom dat daar ’n klomp faktore is wat in ’n komplekse wisselwerking by mekaar betrokke is. Hy sê: “Die verskil tussen die persoon wat gesinsmoord pleeg weens die druk wat spesifieke probleme veroorsaak en die persoon wat onder soortgelyke omstandighede nie dié drastiese stap neem nie, lê nie in die probleme of hul omvang nie. Dit lê eerder in die persoon se sielkundige mondering, die aard van sy sosialisering, sy houdings en waardes, hoe hy sy omstandighede definieer en ervaar en hoe hy daarop reageer.
“Enigiemand se waarneming van sy situasie is baie subjektief en tog, hoewel dit verkeerd of onrealisties mag wees, is dit vir hom werklik en beïnvloed dit sy optrede.”
HOOFSTUK 3
’N VROU SE PLEK
In nine cases out of ten, a woman had better show more affection than she feels.
– Jane Austen, Pride and Prejudice
In Afrika doen ons dinge op ’n Afrika-manier. ’n Stelling soos dié word dikwels gehoor wanneer Europese of Amerikaanse politici, kenners en wysgere die doen en late van ons vasteland kritiseer of wil raad of hulp aanbied in tye van droogte, hongersnood, burgeroorlog, volksmoord en gesondheidskrisisse soos die Ebola-epidemie. Dis te verstane dat Afrika sy selfstandigheid en ’n eie kulturele identiteit wil handhaaf ná ’n lang, bitter geskiedenis van kolonialisasie en onderdrukking.