Tot die dood ons skei. Schalk Schoombie
teen vroue en intieme-vrouemoord. Inteendeel, ten opsigte van sommige vorme van geweld teen vroue is Afrika loshande voor.
DRK: Vroue as wapen én as slagveld
Om die geskiedenis en rol van vroue in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te verstaan, moet ’n mens dit voor die koms van koning Leopold van België in 1885 gaan haal. Waar hulle eens byna op gelyke voet met mans was, het die koloniale stelsels wat op die Kongo afgedwing is vroue se status verlaag tot ongeskoolde huisvroue wat net daar is om kos te maak, huis te hou en kinders te hê. Jare onder een van die wreedste heersers ooit en ’n voortslepende burgeroorlog het gesorg dat vroue in die DRK vandag in onbeskryflike omstandighede in groot gevaar leef.
Met die volksmoord in Rwanda het van die Hutu-vegters saam met Tutsi-vlugtelinge die grens in die noordooste van die land (toe Zaïre) oorgesteek. Dié jong vegters was lede van die Interahamwe, die jeugarm van die Rwandese regering en opgeleide moordenaars.
Vier jaar later stuur president Laurent Kabila die Interahamwe-vegters terug en twee weke later val hulle Zaïre binne om Kabila omver te werp. Dieselfde jaar begin die marteling en moorde in Kivu, die streek in die noordooste waar hulle gekonsentreer was. Wat as openlike slagting afgeskop het, is geleidelik verfyn tot doelgerigte aanvalle op vroue om hulle te wond waar hulle die kwesbaarste is – in hul baarmoeders – sodat hulle nie kinders kan hê nie. Oud en jonk word herhaaldelik brutaal verkrag sodat hul geslagsdele skeur en hulle fistel (fistula) opdoen. Dit is ook nie meer beperk tot die Interahamwe nie en lede van die Kongolese weermag en al die verskillende faksies pas nou dié taktiek toe in die areas onder hul beheer. Die doel is om alle teenstanders uit te roei deur te sorg dat hulle nooit gebore word nie.
In 2016 is berig dat die Interahamwe se getalle kwyn en hier en daar was sprake van verandering, maar die DRK gaan nog steeds gebuk onder ondenkbare geweld teen vroue wat gelykstaande is aan volksmoord.
Nigerië: #BringBackOurGirls
Danksy bekendes, van Michelle Obama tot Kim Kardashian, het die hele wêreld ná April 2014 geweet van Boko Haram en die 276 skoolmeisies in Chibok in die noorde van Nigerië wat hulle ontvoer het. Dit was geensins ’n geïsoleerde geval nie: Volgens Amnestie Internasionaal is sowat 2 000 Nigeriese vroue en meisies tussen Januarie 2014 en April 2015 ontvoer.
GEVALLESTUDIE
Bevryde Nigeriese vroue se aangrypende vertelling van hul lewe as Boko Haram-bruide
Ná die Nigeriese weermag Boko Haram verdryf het uit die dorpe wat dit opgeëis en vir die groep se selfverklaarde kalifaat gedryf het, het Fatima Ahmadu se lewe nog erger geword.
Soos die talle vroue en meisies wat deur die vegters gesteel is tydens jare lange aanvalle op burgerlikes, is sy na ’n kamp in die Sambisa-woud naby die grens met Kameroen geneem. Daar is die 40-jarige ma van sewe kinders in ’n gat in die grond gevange gehou tot sy ingestem het om met ’n vegter, Abu Sata, te trou.
“Die marteling en lyding was nimmereindigend. Hy het die heeltyd gesê hy weet ek wil ontsnap en het my aanhoudend gedreig.” Sy het een middag probeer om op haar hande en knieë weg te kruip, maar is deur die groep se godsdienstige polisie, die hisbah, gevang en gegesel.
“My gebede is verhoor en ’n vliegtuig het bomme om ons gegooi terwyl hulle besig was om my te slaan. Almal het weggehardloop,” sê sy, “en dit was toe dat ek ontsnap het.”
Ahmadu is een van honderde meisies en vroue van die drie provinsies in die noordooste van die land wat die afgelope maande na vryheid gestrompel het. Baie was swanger of het babas, die kinders van Boko Haram-vegters, op hul rûe gedra.
Die pa van Ahmadu se kinders het haar gelos en sy was reeds op haar eie toe ’n groot konvooi Boko Haram-vegters haar dorpie 22 maande gelede aangeval en ’n bloedbad ontketen het.
“Hulle het mense op enige manier doodgemaak, hul kele afgesny of hulle geskiet, of hul koppe afgekap of met machettes doodgekap,” sê sy. “Die hele wêreld het gebrand.”
Omdat sy ’n Moslem is en dieselfde dialek as die vegters praat, het hulle haar lewe gespaar. Haar Christen-bure is uit hul huise gesleep en voor haar doodgeskiet. Ahmadu het die vegters gesmeek om hul lewe te spaar, maar die vegters het net gedreig om haar saam met hulle dood te maak.
Ná Boko Haram beheer van die dorp oorgeneem het, is almal op die dorpsplein bymekaar geroep sodat hulle kon sien hoe ’n gevangene, ’n lid van die dorp se weerstandsbeweging, tereggestel word. Daarna is vyf vermeende diewe se hande afgekap en in potte kokende vet gegooi.
Ahmadu het genoeg geld bymekaar geskraap om haar kinders se vryheid te koop, maar die vegters wou haar nie laat gaan sonder ’n sluier wat haar gesig bedek nie en sy kon nie een bekostig nie.
Die tentedorp in Maiduguri waar sy nou woon, is vol mense wat vir Boko Haram gevlug het.
’n Onrusbarende aspek is die regering en wêreldleiers se uiteenlopende reaksies op die ontvoering van die Chibok-meisies in vergelyking met dié van duisende ander ontvoerde vroue. Nigeriese owerhede het uit hul pad gegaan om die skoolmeisies te probeer terugkry en het selfs vir die eerste keer met Boko Haram onderhandel. Ander vroue moet self ’n plan maak om te ontsnap of wag dat die weermag hulle red.
Toe Hadiza Mala haar vier kinders uit ’n Boko Haram-kamp gesmokkel het, het die vegters haar ’n dag lank in die skroeiende son vasgebind.
Hadiza, wie se eerste man haar ook verlaat het, het nie geweet dat haar tweede man ’n Boko Haram-bevelvoerder is toe hulle getroud is nie. Sy was geskok toe sy uitvind en het hom aan die plaaslike owerhede gerapporteer, maar hulle het niks gedoen nie.
Daarna het die vegters onder sy bevel gedreig om haar dood te maak omdat sy hom verraai het, en twee jaar gelede het haar man haar na die woud geneem ná die weermag hul dorp aangeval het.
“My kinders is by een van Boko Haram se indoktrinasieskole ingeskryf en ons is in verskriklike omstandighede aangehou, in ’n hut met ’n paleheining met skerp punte om,” vertel Mala (40).
“Ek het gesien hoe hulle baie ander vroue slaan en verneder. Van hulle is selfs in die woud vermoor.”
Sy het uiteindelik ontsnap toe die vegters weg was en die wagte aan die slaap geraak het.
Toe die 14-jarige Yakaka ontvoer is uit ’n dorpie naby Bama, een van die dorpe wat die swaarste deur Boko Haram getref is, het die vegters gesê dat hulle haar wegneem sodat sy die Koran kan leer.
Yakaka sê al die vegters in die kamp het vroue gehad, die meeste van hulle is ontvoer. Haar man se naam was Modu Gana.
“Ek het nie van hom gehou nie,” sê sy uitdrukkingloos met ’n sagte stem. “Ek is met geweld gedwing om te trou. As ek dit nie gedoen het nie, het hulle my doodgemaak. Ek moes oorleef.”
Daar was min kos by die kamp waar sy was en geen medisyne nie. “Mense het ingewandskoors en geelkoors en allerhande siektes gekry,” onthou sy. “Baie het gesterf.”
Sy het saam met ’n paar ander meisies ontsnap ná hulle die vegters oortuig het dat hulle lief is vir hul “mans” en net vir ’n dag vir hul families wou gaan kuier.
Hulle het deur die woud gestap tot hulle op Nigeriese weermagsoldate afgekom het en is na die berugte Giwa-detensiekamp geneem waar hulle vir twee maande ondervra is.
Yakaka is daarna na ’n ander kamp vir verplaaste persone in Maiduguri gestuur. Toe haar familie haar die eerste keer weer sien, het hulle op haar afgestorm en haar omhels. Sy was een van die gelukkiges. Talle meisies wat met Boko Haram-vegters “getroud” was, word gestigmatiseer en verstoot deur hul families en gemeenskappe uit vrees dat die meisies deur die vegters gebreinspoel is.
Yakaka was vier maande swanger en probeer om die stukke van haar lewe weer op te tel. Sy wil skool toe gaan om te leer. “Ek dank die Here dat ek ontsnap het,” sê sy. “Nou gaan ek ’n nuwe lewe begin, met hoop vir die toekoms.”
– LATimes.com, 14 Oktober 2016
Boko Haram wil, soos die gewapende groepe in die DRK, gesins- en gemeenskapstrukture vernietig en vervang met hul