Ys. Rudie van Rensburg
persoon se besittings uit die kamers verwyder word. Dit sal verseker dat die polisieondersoek nie net fokus op ons man in kamer 103 nie.”
Viking tuur voor hom uit. “Dis seker nie onuitvoerbaar nie, maar dit verhoog die risks.”
“My kliënt is bereid om julle elkeen ’n ekstra vyftigduisend te betaal.”
Viking en Fortuin kyk vlugtig na mekaar, knik dan gelyktydig – die gierigheid in albei se oë opvallend.
“Oukei, dis ’n deal,” sê Viking.
“En jy’s doodseker dis uitvoerbaar van die balkonne se kant af?” vra Willie.
“Ja, dis die easy part. Genoeg struike vir cover om ’n kort leer te gebruik en skuifdeure op die balkonne. Dis kinderspeletjies om daai slotte oop te kry.”
“En jy’t ’n untraceable skietding en silencer?”
“Jip … nog een van die ysters wat ek en jy geconfiscate het by daai Smiley Face gang wat die restaurante so beroof het.” Viking lag. “Ek het dit nooit gedeclare nie. Altyd gedink ek kan dit iewers in die toekoms gebruik.”
Willie kyk na Fortuin. “En jy’t ’n kandidaat?”
“Die keuses was limited, maar ek dink dié ou is die beste bet van die drie wat nou goodbye sê vir Pollsmoor.”
“Laat ek hoor.”
“Die ou se naam is Frankie Kriel. Een-en-veertig jaar oud, vyftien jaar in die slammer gewees vir moord. Ek het die koerantberigte op Google gaan tjek – hy het sy broer gepot toe hulle ná sy pa se dood oor die erfporsie gefight het. Kriel het gesê hy’t uit self-defence geskiet, want sy broer wou hom met ’n ysterpyp doodbliksem. Maar die court het bevind hy praat kak. Hy’t glo nie ’n skrapie aan hom gehad nie.”
“Wanneer kom hy uit?”
“Oor drie dae.”
“Dis twee dae te vroeg. Ons man boek eers oor vyf dae by die hotel in.”
“Not a prob,” sê Viking. “Ek sal hom op my plot in Joostenbergvlakte aanhou. My stoorkamer het nie vensters nie en is so solid soos ’n tronksel in Pollsmoor.” Hy grynslag. “Frankie sal minstens at home voel.”
Willie frons. “Ons kan nie bekostig dat hy weet waar jy bly nie.”
“Hy sal nie weet nie. Ons sal hom blinddoek.”
“Afhanklikes?”
Fortuin skud sy kop. “Volgens Correctional Services se records het hy net een besoeker in sy hele tyd daar gekry: Sue Kriel, sy vrou. Hulle’t nie kinders nie. Hy het haar adres in Monte Vista opgegee as die plek waar hy gaan bly during parole.”
“Op parool! Wat van die toesigbeampte? Hy gaan donners gou onraad merk as Kriel van die aardbol af verdwyn.”
Fortuin wuif Willie se beswaar weg. “Sy eerste aanmelding by die parole officer is eers volgende week Vrydag. Teen daai tyd is ons job gedoen en is hy al ingespit en toegegooi.”
Willie skud sy kop. “Hel, kêrels, ek weet nie so mooi nie. Wat van sy vrou?”
“Not to worry,” sê Viking. “Ek en Elton het al gepraat. Ons sal haar Woensdagoggend so teen drieuur by die huis gaan visit. Dit sal soos ’n ongeluk lyk,” grinnik hy.
’n Koue rilling loop langs Willie se ruggraat af. Hy het al vergeet hoe ’n gewetenlose bliksem sy ex-partner is. Onwillekeurig kom die beeld by hom op van Viking wat die skerp punt van ’n breipen in ’n dwelmsmous se oog druk toe dié nie wou praat nie.
“Die beauty van die plan,” sê Viking, “is dat ek en Elton dan seweuur die môre vir Frankie gaan oppik by Pollsmoor. Dis die tyd wat hulle uitkom. Ons sal vir hom sê sy vrou het ons gestuur, want sy het car problems. Dan hou ons hom hostage tot hy die job gedoen het en belowe hom ’n moerse klomp geld om vir vroutjie op ’n lekker holiday te treat. Hy gaan mos nie weet sy’s al ’n goner nie.”
“Ek hou van die afpers-deel,” gee Willie toe, “maar waar werk sy? Dalk is sy ’n nagskofwerker, soos ’n verpleegster of iets. En in die twee dae voordat ons die job afgehandel het, kan haar werkgewer na haar soek.”
“Dis uitgesort,” sê Fortuin. “Sy’s ’n receptionist by ’n dokter in die stad. Ek’t haar gebel, gesê ek wil haar by die werk kom sien oor life assurance. Sy’t gesê sy stel nie nou belang nie, maar sy’s in any case van Woensdag af vir ’n maand lank op leave.”
Willie kom orent en gaan staan voor die venster. Dis bewolk en mistig, tipiese Kaapse eendeweer. Hy draai na sy besoekers.
“Hel, ek’s onseker oor dié storie. Daar’s net te veel goed wat kan skeefloop. Sê nou maar die vrou se bure of ’n vriendin kom besoek haar Woensdagoggend en kom op haar lyk af? Dit gaan die cops dadelik na Frankie laat soek.”
Viking lag. “Jy worry te veel, boss. Ons het ’n plan vir daai een ook.”
9
Van: Jack MacArthur
Aan: Terry Webster
Ek stem saam met jou dat olieboordery in die Noordpool slegs winsgewend is wanneer die olieprys hoog is. Dit sal BP, wat met hul Northstar-projek reeds in die 1980’s daar geboor het, ook vir jou kan sê. Maar die olieprys fluktueer soos die wêreld se aandelebeurse, daarom kan ons ons nie blind staar teen tydelike insinkings in die prys nie.
Dis ’n feit dat die gebied aangrensend aan Alaska heel moontlik die rykste olievelde in die Arktiese gebied het. Volgens die VSA se jongste geologiese opname word geskat dat die hele Arktiese gebied sowat 90 miljard vate olie huisves, waarvan 25 miljard vate in Alaska se water is. Dit sou kortsigtig wees om ’n potensiële geldbron van hierdie omvang te ignoreer omdat olie nie deurentyd winsgewend ontgin kan word nie.
Die oliemaatskappye werk voortdurend om hul toerusting te verbeter, wat Arktiese aanpasbaarheid en kostebesparing verhoog. Binnekort gaan ’n lae olieprys hulle nie keer om winsgewend sake te doen nie. Die tyd om die pad vir hulle oop te maak, is nóú.
* * *
Dis skuins voor vier in die middag toe Kassie aan die voordeur van ’n huis in Parow klop. Sedert gister het hy al vyf beleggers besoek, maar nie een het verdag voorgekom nie. Almal is briesend vir Dippenaar – een het selfs gesê hy’s bly “die donner” is uit die lewe gehelp – maar Kassie het dit nie nodig geag om hulle alibi’s na te gaan nie. Hy kon aan hul oë en lyftaal sien hulle is onskuldig. Buitendien was drie van hulle heeltemal te tengerig om Speknek Dippenaar fisiek aan te vat.
’n Forsgeboude man in sy sestigs maak oop. “Ek wil niks koop nie en ek het genoeg assuransie,” sê hy nors nog voor Kassie kan praat.
Kassie lag verleë. “Ek wil niks verkoop nie, meneer Maartens. Ek is van die polisie en ons voer onderhoude met almal wat onder John Dippenaar se skelmstreke deurgeloop het.”
“Mag hy in die hel brand,” brom Maartens. “Kom binne.”
Hulle gaan sit in ’n beknopte sitkamer. Maartens skakel die TV af. Die tafeltjie langs sy stoel staan vol leë jogurtbakkies. In sy een mondhoek sit ’n strepie pienk jogurt, merk Kassie.
“Hoe het dit gekom dat u geld by Dippenaar belê het?”
Maartens trek sy vingers deur sy grys haredos. “Ons het in die ou dae saam klubrugby gespeel. Ek’t die bliksem vertrou.”
“Was hy hier by u huis om die belegging te werf?”
Maartens knik. “Ja, kak in my kop gesit en praat van die helse goeie maandelikse rente wat hy waarborg. Ek het al my aftreegeld by Ou Mutual gevat en dit by die skelm wetter belê.”
“Hoe lank gelede was dit?”
“’n Jaar terug.”
“En was die maandelikse rente goed?”
“Sewentien persent …