Ys. Rudie van Rensburg
aan hom.
Vir vyftien jaar was Sue sy enigste rots daar buite. Nou is dit sy beurt om haar op die hande te dra.
En hy kan nie wág om dit te doen nie.
* * *
Drieuur die oggend is dit spookagtig stil in Voortrekkerweg in Goodwood. Voor Kassie sy woonsteldeur oopsluit, staan hy eers ’n oomblik en verwonder hom aan dié ongewone stilte.
Hy sluit die deur agter hom, stap kombuis toe en sit die ketel aan. Haal die bottel Creme Soda uit die yskas en sluk sy daaglikse cholesterolpil af, steek ’n Lucky Strike aan. In die sitkamer druk hy Nico Carstens se Trekklaviermeesters in die hoëtroustel. Hy skoffel sy voete op maat van die gesellige klanke van “Gertjie Wintervoël” terwyl hy op die ketel wag.
Hy is vaak, maar hy weet hy sal nie kan slaap voor hy sy koppie rooibos in het nie. Vandat hy heuning in die tee drink, is dit tot vir hom lekker.
Hy wonder of die brigadier tevrede gaan wees met die lys van moontlike verdagtes. Dalk sal hy en Rooi met die ondersoekwerk moet help. Daar’s te veel name vir net twee speurders om op te volg.
Hy hoop van harte hulle word betrek. As hy nog een keer deur daai opleidingsmateriaal moet worstel, skiet hy ’n donnerse kat.
Hulle het vandag goeie werk gedoen. Eers al die Wes-Kaapse beleggers uitgesoek en toe mense geïdentifiseer wat groot bedrae geld by Dippenaar belê het, maar wat nie ouer as sewentig is nie.
Rooi het daarteen kapsie gemaak. “My oupa was op vyf-en-sewentig nog so sterk soos ’n bees!”
Maar Colyn wou nie skiet gee oor die afsnyouderdom nie. Volgens hom was die agt-en-vyftigjarige Dippenaar ’n gesette kêrel en gebou soos ’n rugbystut. “Nie sommer enige outoppie sou dit waag om hom om daai speknek te gryp nie.”
Koppie rooibos in die hand slof Kassie sitkamer toe. Ondanks Colyn en Piedt se tirades oor die brigadier hou hy ál meer van haar. Sy is professioneel en haar werk is haar erns. Dis al wat hy van ’n bevelvoerder vra.
Maar dis nog moeilik om haar as mens te peil, dink hy. Daar is niks warms aan haar persoonlikheid nie. Sy hou hulle almal op ’n ysige afstand. Dalk voel sy effens geïntimideer. Sy moet in haar laat dertigs wees, wat beteken dat al die speurders buiten Rooi heelwat ouer as sy is.
Hy staar peinsend voor hom uit terwyl hy sy tee drink. Tyd sal wel leer of sy positiewe indruk van haar blywend gaan wees.
7
Van: Jack MacArthur
Aan: Peter Read
Ek het gister in die galery van die Huis van Verteenwoordigers na jou pleidooi geluister. Volgens jou statistiek lyk dit asof die seerowerprobleem nou regtig handuit ruk en beter veiligheidsmaatreëls op die VSA se handelsroete verby die Afrika-kus is inderdaad belangrik. Ek stem saam dat ons ’n groter veiligheidsplig teenoor ons handelskepe het en sal jou voorstelle steun wanneer dit aan die Senaat voorgelê word.
Terselfdertyd wil ek jou daarop wys dat ons in die afsienbare toekoms alternatiewe seeroetes kán benut as ons dadelik werk maak daarvan. Aardverwarming is ’n feit, ook die smeltende ys in die Noordpool. As gevolg daarvan maak die Russe toenemend gebruik van die Bering-seestraat tussen Alaska en Rusland – Poetin verwys al daarna as die volgende Suez-kanaal. Hulle benut gereeld die Noordoosdeurvaart, wat al sedert 2007 ysvry is gedurende die somermaande, as handelsroete tussen Europa en Asië. Dis 30% korter as die Afrika-roete, wat hulle baie aan brandstof spaar én die seerowergevaar uitskakel.
Omdat ons nie oor genoeg ysbrekers beskik om die Arktiese roetes te benut nie, het Amerika net uit ’n handelsoogpunt ’n groot agterstand teen die Russe. ’n Ja-stem vir my energiewetswysigings kan hierdie situasie omkeer.
* * *
MacArthur se oproep vroegoggend het Willie ontstel. Hoekom het hy nie sélf daaraan gedink nie? Die senator is reg – hulle kan nie bekostig om slegs die assistent uit te haal nie.
MacArthur is nie net ’n uitgeslape politikus nie, sy brein werk ook soos dié van ’n krimineel. Wat nie vir Willie ’n verrassing is nie. Hy ken die senator se geskiedenis: hoe hy in sy jong dae as sekretaris van ’n vakbond in Detroit met die Mafia saamgewerk het om sake in die staalbedryf te manipuleer. MacArthur het juis sy vrou, die enigste kind van ’n Texas-oliebaron, by die bruilof van ’n Mafiabaas ontmoet. Kort ná hul troue het MacArthur se skoonpa gesterf in ’n “ongeluk” by ’n olieboor, sodat hy skielik toegang tot miljoene dollars gehad het.
Willie skud sy kop. Hoe anders het hy MacArthur nie opgesom met hulle eerste kennismaking nie. Dit was twaalf jaar gelede in die Kongo, en hy was pas aangestel as hoof van ’n sekerheidsmaatskappy in Kinshasa. Sy span se eerste taak was om ’n senaatsafvaardiging uit Amerika onder leiding van MacArthur op te pas.
Volgens die inligting wat Willie vooraf versamel het, het MacArthur in daardie stadium nog nie groot blieps op die politieke radarskerm veroorsaak nie. Die Republikeinse establishment het hom wel as effe voortvarend beskou, iemand wat geneig is tot wilde uitsprake sonder om seker te maak van sy feite. As ’n ryk man van Texas was daar ook fluisteringe dat hy sy pad in die politiek oopgekoop het, maar dit was beperk tot kleiner aangeleenthede in streeksverband.
MacArthur het by Willie die indruk geskep van ’n eerlike en reguit man. Terselfdertyd was die senator beïndruk met Willie se veiligheidsmaatreëls in die DRK en sy status as voormalige kolonel van Suid-Afrika se hoog aangeskrewe teenkorrupsie-eenheid. Op sy laaste aand in die Kongo het MacArthur Willie na sy hotelkamer ontbied en hom ’n werkaanbod gemaak. “Om vir my en ’n paar van my kollegas in Washington take te verrig,” het MacArthur gesê. Die betaling wat hy aangebied het, kon Willie onmoontlik van die hand wys.
Maar anders as wat Willie verwag het, het die take niks met veiligheid uit te waai gehad nie. Die MacArthur-clan het hom gebruik om geraamtes uit die kaste van hulle politieke teenstanders te grawe. As voorkomende maatreël moes Willie hom in Chicago vestig sodat hy nie in Washington ’n bekende gesig word nie.
Afgesien van MacArthur se gereelde blitsbesoeke het hy min direkte kontak met sy ander werkgewers gehad, en later was MacArthur verreweg sy grootste opdraggewer. Die mildelike vergoeding en groot bonusse ná suksesvolle operasies was ’n aansporing om net sy beste werk vir sy topkliënt te lewer. Mettertyd het die take egter meer uitdagend geword, met moord ook op die agenda.
Ondanks sy weersin in dié opdragte kon Willie nie bekostig om terug te deins nie. Behalwe dat MacArthur binne ’n oogwink sy Amerikaanse werkpermit kan beëindig, kan hy nog vinniger van hom ontslae raak. Willie weet heeltemal te veel van die senator se bedrywighede vir dié om polities veilig te voel as hulle verhouding sou versuur.
Met ’n sug stuur Willie sy gedagtes terug na sy huidige dilemma. Nog iemand sal doodgemaak moet word, wat groter eise aan Viking en Fortuin gaan stel. Maar daar is nie nou ’n ander uitweg nie.
* * *
Vanoggend is Shaheena heel eerste by die werk. Sy maak koffie, skuif agter haar lessenaar in en sit die rekenaar aan. Sy gaan haar skootrekenaar mis, maar sy sal vrede moet maak daarmee dat Elton dit by die huis gebruik.
Sy is vies toe trane skielik in haar oë opwel. Toe sy vanoggend opstaan, het sy die nag se aaklige voorval uit haar gedagtes verban. Op pad werk toe het sy vasberade net aan die moordsake gedink. Maar nou kom alles terug na haar. Haar wal van verdediging is nie bestand teen die stortvloed emosies wat in haar opstoot nie.
Elton het kort voor tweeuur by die huis aangekom, het sy op die elektroniese wekker op haar bedkassie gesien. Toe hy langs haar in die bed klim, was die drankwalm oorweldigend. Sy het verstyf toe sy hande oor haar lyf begin streel. Hy moes dit gevoel het, want hy het haar hardhandig op haar rug gedraai en met sy volle gewig op haar geklim terwyl hy haar broekie onder die nagrok afwikkel.
“Nie nou nie, Elton … asseblief, nie nou nie,” het sy gesmeek, maar dit het hom net verder aangevuur. Sy het hom probeer wegstoot, maar hy was te sterk. Soos ’n besete dier het hy sy penis in haar in geforseer.
Haar hande bewe toe sy die koppie na haar