Christine le Roux Keur 4. Christine le Roux
Hy kyk op na die plafon asof hy diep dink. “Dis nou omtrent twee jaar.”
“Nou ja? Dis mos lank genoeg om te weet.”
“Wat te weet?”
Sy lyk ongemaklik. “Of jy vir haar … e … lief is of nie.”
“Ek het gedink ek weet,” gee hy toe. “Maar toe kom jy hier aan.”
Sy sluk aan die snaakse gevoel in haar keel. “En wat … ek bedoel, wat het dit aan die saak verander?”
“Jy het so onomwonde verklaar dat sy die verkeerde vrou is,” sê hy gesellig.
“Dis wat ek bedoel,” sê sy ontstoke. “Ek sal my tog laat afsit deur wat iemand anders sê. Liewe aarde, ek sal –”
“Maar jy’s ’n vrou,” sê hy redelik. “Jy weet tog, vroulike intuïsie en daardie soort van ding. Ons mans is nie so goed daarmee nie. Ons laat ons maklik verblind deur voorkoms, ’n paar mooi oë, ’n bos rooi hare.”
Sy voel asof sy enige oomblik gaan begin huil en hou haar oë op die tafelblad.
Hy bestudeer haar, sy gesig skielik heeltemal anders, die tergliggies uit sy oë. “Sê my,” sê hy in sy normale stemtoon. “Wat presies is dit wat jy alles nog wil doen voor jy dertig is?”
“Ek wil oorsee gaan,” sê sy sonder om op te kyk.
“Seker tog nie ses jaar lank nie.”
“Natuurlik nie. Ek wil ander goed ook doen.”
“Soos wat?”
Sy kyk op, weer kwaad. “Hoe moet ek weet? Daar’s ’n wye wêreld daar buite. Baie goed om te doen en te sien en te ervaar voor ’n mens trou en doodgaan.”
Hy frons. “Dis ’n vreemde kombinasie. Trou en doodgaan.”
Sy kyk onstuimig op. “As mens begin kinders kry, kan jy doodgaan. Herder, jy behoort te weet! Jou eie vrou …” Sy byt haar lip. “Ek is jammer.”
“Dit was ’n uitsondering,” sê hy. “In ons moderne tye en met goeie mediese sorg is dit werklik die uitsondering.”
Sy haal haar skouers op, drink haar koffie klaar en staan op. “Wat ook al,” sê sy. “Ek is nie van plan om gou te trou nie.” Sy vat hulle leë koffiebekers en spoel dit onder die kraan uit. Sy voel so oorstuur dat sy byna die een laat val toe sy dit afdroog en terugsit in die kassie. Toe sy die teelepels terugsit in die laai, kyk sy nie wat sy doen nie en druk die laai hard toe voordat haar vingers uit die pad is.
“Eina!” roep sy en bars in trane uit.
Hy spring op en vat haar hand in syne. “Wat het jy nou gedoen?”
“My vingers,” sê sy en snik asof haar hart wil breek.
“Olivia,” sê hy teer en draai die koue kraan oop. Met sy hand stewig om hare hou hy die vingers onder die water. “Dis regtig nie vandag jou dag nie. Eers tandpyn en nou dit.”
Sy probeer die snikke onderdruk en vee haar ander arm oor haar oë. “Ja, ek dink ek moet gaan slaap.” Sy probeer haar hand uit syne trek. “Dis nie so erg nie. Ek kan …”
Hy lig die hand onder die lopende water uit en ondersoek die vingers. “Nee, ek dink nie dis gebreek nie.” Hy vat die vadoek en droog haar hand versigtig af. Toe druk hy die vingers een vir een teen sy lippe. “Veral nie as ek dit beter gesoen het nie.”
Sy kyk hom wild aan, gee ’n radelose snik en storm uit die kombuis uit.
Hoofstuk nege
Yvonne moet spioene in vreemde plekke hê, want die Woensdagmiddag sit Olivia verskuil in die boomhuis toe Yvonne se motor onder haar in die rylaan stilhou. Die rede waarom sy in die boomhuis sit, is nie om af te luister nie; albei kinders is na ’n verjaardagpartytjie toe en tot sy hulle later moet gaan haal, het sy nie regtig iets om te doen nie. Buitendien vind sy die boomhuis ’n wonderlike plek om in te sit as ’n mens se gedagtes deurmekaar is.
Nou in die middel van die somer is die blare so dik dat die boomhuis heeltemal versteek is. Net mense wat weet dis daar, kan dit sien. Sy en die kinders het al diverse ou kussings en komberse soontoe gedra sodat sy haar baie gemaklik kan maak deur op die platform te sit met ’n kussing agter haar rug. Die suising van die blare en die gekwetter van voëls het verder ’n strelende uitwerking. Sy kan hoe omgekrap wees as sy daar gaan sit, maar binne minute begin sy ontspan, loop haar kop leeg en voel sy kalm.
Toe sy die geklap van ’n motordeur hoor, loer sy af en sien dis Nicolas. Sy bly doodstil sit, maar kyk weer af toe daar byna onmiddellik nog ’n motor stilhou en Yvonne uitklim
“Hallo,” sê Nicolas verras en stap nader.
Yvonne soen hom nie, waaroor Olivia bly is. Sy sou verplig gevoel het om ’n tak op Yvonne se kop te gooi as dit die geval was.
“Hallo, Nicolas,” sê Yvonne koel.
“Ek het jou nie verwag nie,” sê hy. Hy staan langs haar motor, sy aktetas nog in sy hand.
“Ek weet. Sedert verlede week het jy my nog nie eers gebel nie.”
“Ek was … e … nogal besig.”
Swak verskoning, dink Olivia. Meisies hou nie daarvan as mans so iets sê nie. Dit beteken hulle vind hulle werk belangriker as die meisie.
“En met die kinders wat nog siekerig gevoel het.”
Effens beter, dink Olivia, alhoewel nie heeltemal korrek nie. Die kinders is feitlik gesond, anders het sy hulle nie vandag na die partytjie toe laat gaan nie, ten spyte van die ma se versekering dat die klein gassies sorgvuldig gekies is. Almal het reeds pampoentjies gehad – trouens, die een wat verjaar, is die een wat oorspronklik almal aangesteek het.
“Is hulle nou beter?” vra Yvonne vals.
“Ja, dankie.” Nicolas wys na die voordeur. “Wil jy inkom?”
“Nee, ek is haastig. Ek het ’n afspraak.”
Olivia grinnik. Verwag Yvonne dat Nicolas hom in ’n vlaag van waansinnige jaloesie voor die motor moet werp? Maar dit lyk of hy sien in watse soort bui sy is, want hy begin uitvra na haar werk. Yvonne is die skakelbeampte van ’n groot multinasionale firma en soos sy praat, is dit duidelik dat sy net die belangrikste mense in die wêreld ontmoet en dat almal dink sy is wonderlik. Olivia kyk ongeduldig na haar horlosie en hoop Yvonne hou nie te lank aan nie, sy moet ry om die kinders te gaan haal. Maar Yvonne ken haar maniere en vra Nicolas uit na die saak waarmee hy tans besig is. Sy vertelling is aansienlik interessanter, maar Olivia begin kriewel, sy moet ry.
“Wel, ten spyte van die baie werk wat jy het en die kinders se olikheid, het jy darem ’n lekker naweek gehad,” kom Yvonne tot die punt.
Nicolas kyk haar vraend aan.
“Ek hoor jy het ’n nuwe meisie,” sê Yvonne bitsig. “Ook ’n rooikop.”
Nicolas lyk asof hy nie weet waarvan sy praat nie en Olivia is lus en gooi ’n tak op sy kop. Het hy so gou van Alet vergeet?
“O, Alet,” onthou hy meteens.
“Alet,” herhaal Yvonne. “Is dit haar naam?”
“’n Vriendin van Olivia,” verduidelik Nicolas asof dit alles sal duidelik maak. “Sy’t Saterdag oorgekom, maar Olivia het tandpyn gehad en moes tandarts toe gaan.”
“Ek kon dit gedink het,” sê Yvonne bitsig. “Sy sit agter alles. Regtig, julle mans kan so blind wees. Kyk teen ’n onskuldige gesiggie vas en sien niks meer nie.”
“Van wie praat jy, Yvonne?” vra hy bedaard, al is daar skerp kante aan sy stem.
“Olivia, natuurlik! Trippel soos ’n klein dogtertjie deur die huis, maar is so slinks soos ’n ratel.”
Olivia