Dors. Marinda van Zyl
7
Januarie 1877, Greyling-staning
Die nuwe jaar het by die Marico aangebreek sonder ’n belofte van reën en dis so warm, selfs die swartkraai sit oopbek vir asem. Jan se plan om die waens met drietreespasies tussenin langs mekaar te trek en seile bo-oor te span vir meer koelte bring effens verligting.
Betta kyk met vertedering na Jan waar hy op ’n kampstoel sit en slaap met sy rug teen die wawiel gestut, hoed op die skoot, oopmond. Dis of daar ’n rustigheid oor hom gekom het noudat hy nie meer kommandant is nie. Aanvanklik was sy ontsteld daaroor. Hoekom hy hom so bloedig staan en vererg het omdat hy ’n boete opgelê is oor hy maande lank nie vir Louw en Daniël wou sê dat hulle nie deur Khamaland mag trek nie, verstaan sy steeds nie. Die sewe pond wat hy moes betaal, was tog kleingeld.
Daardie Desemberdag het dit vir haar gevoel asof sy kaalvoet terug plaas toe kon loop. Vroegoggend het Truia se susterskind Jasper Human vir Jan kom roep en hy is sonder ’n woord hier weg. Teen etenstyd wou sy vir Tiaan stuur om hom te gaan soek, maar moes toe hoor dat hy by die waterskepplek aan die Marico sit en pyp rook.
Sy was by kookpunt toe hy uiteindelik sy verskyning maak. “Waar was jy die ganse dag?”
“By die beestrop ’n draai gemaak en toe rivier toe.”
“Om wat te maak?”
“Vrou, nie voor die kinders nie,” het hy haar betig. Dit was die moedeloosheid in sy stem, eerder as sy woorde, wat haar laat stilbly het.
Laataand eers het hy bely dat hy as kommandant bedank het omdat die Driemanskap en sewe jurielede hom skuldig bevind het aan wangedrag. “Ek kan nie as kommandant ’n trek deur die Dors vat as my besluite elke keer bevraagteken gaan word nie. Die Driemanskap is ’n klomp groentjies wat nie weet wat anderkant Kloutsi op hulle wag nie. Dan het hulle die vermetelheid om my uit te trap asof ek ’n kind is. Toe sê ek vir hulle presies waar hulle die kommandantskap moet indruk en vat my hoed en loop.”
“Gaan ons nou huis toe?” het sy hoopvol en terselfdertyd angstig gevra, want dit sou beteken dat sy Elisabet dalk nooit weer gaan sien nie en ook nie vir Piet en Janetta wat nou haar kleinkind dra nie.
“Dis waarmee ek vandag by die rivier geworstel het. My eerste gedagte was terug plaas toe. Maar jy weet ek is nie ’n boer nie, jag is my lewe.”
En hulle oudste seun was darem te ooglopend bly om alleen baas van die plaas te wees, het sy self besef, en was verlig toe Jan sê: “Ons sal maar net moet deurdruk. Die sendelinge en handelaars by Shoshong steek vir Khama op om die pad na die Ngamimeer vir ons toe te maak. As ons nie nou daar gaan vestig nie, is ons die jagveld anderkant Ngami kwyt. Louw het mos klaar toestemming om deur Khamaland te trek. Hy moet ons net verby Shoshong kry. As hy daarna wil omdraai, gaan ons alleen verder.”
Jan het berusting daarin gevind dat Louw kommandant is, veral omdat Erasmus sy amp as landdros aan Diederik Prinsloo moes afstaan. Daniël is nou een van drie veldkornette en het weinig sê.
Betta loer nuuskierig by die tent uit toe sy die geklap van perdepote hoor. Wie op aarde ry op die hitte van die dag rond? Dis ’n man op ’n kapkar wat reguit na hulle staning toe kom. Die man vra na Jan Greyling toe Tiaan naderloop om te groet.
Betta skud vir Jan liggies aan die skouer. “Hier’s iemand wat jou soek.”
Jan spring vervaard op en loop met uitgestrekte hand na die man toe wat flink van die kapkar afspring. “Jan Greyling. En hoe voer neef die van?”
“Jakobus Ackerman. Dries Petoors het my na jou toe gestuur.”
“As jy die Petoorse ken, kom jy seker uit Lichtenburg se kontrei. Hulle is nog nie hier nie, maar ek verwag hulle nou enige dag. Waarmee kan ek neef help?”
“Ek wil weet of mens ’n lewe sal kan maak in die land waarheen julle trek en hoe ek te werk moet gaan as ek saam wil trek.”
“Kom ons sit onder die waseil waar ’n koeltetjie trek. Januarie is nie ’n goeie tyd om in hierdie deel van die Transvaal te wees nie. Betta, die man is seker dood van die honger.”
“’n Beker boeretroos sal ek nie bedank nie, maar ek wil sommer dadelik weer vort. Ek het afgespreek om by ’n perdeteler te oornag om gesoute perde te koop vir die trekpad.”
“Jy klink na ’n verstandige man wat nie sommer halsoorkop in ’n ding infoeter nie, neef Jakobus. Met so ’n man sal ek graag saamtrek en daarom sal ek baie eerlik met jou wees. Ek kan nie vir jou sê hoe ’n land jy aan die ander kant sal kry nie. Wat vir my paradys is, kan vir jou en jou familie hel wees. Dit hang af van die redes waaroor jy wil trek en wat jy daar wil gaan maak.” Toe Jakobus wil antwoord, maak Jan hom stil. “Nee, moenie dit vir mý sê nie. Dis ’n saak wat jy en jou mense vir julleself moet uitmaak. Weet net dat dit nie kinderspeletjies gaan wees nie, maar as jy reg voorberei, sal ek julle veilig deur die Dors kry.”
“Dries sê jou raad is om so min moontlik vee saam te neem.”
“Ja, verkoop wat jy kan, maar hou genoeg osse dat jy ’n aflosspan van agtien vir elke wa het. Moenie die waens te swaar laai nie. Ons trek deur sand waar die wiele tot op die vellings kan insak. Vat genoeg lood en kruit saam. Dis die ruilmiddels wat die nasies daar soek. Hoe groot is jou groep?”
“Dis net ek, my vrou, ons vier kinders en die huisvolk.”
“Mooi. Ek begin bekommerd raak dat die trek te groot gaan word. Aan die Krokodilrivier staan al honderd waens.”
Met die groetslag waarsku Jan: “Sorg dat julle die eerste week van Maart hier is. Mens moet wegspring net voor die einde van die reënseisoen. Dan’s dit klaar winter voor ons die erge koorsstreke ingaan.”
“Jy’t hom nie gesê jy’s nie meer kommandant nie,” sê-vra Betta toe Jakobus wegry.
“Ek kon nie. Mens kan in sy oë sien, trek sal hy trek, maak nie saak saam met wie nie, want iets jaag hom. En aan sy kapkar en klere kan jy mos sien hulle is nie veldmense nie. Iemand sal ’n oog oor hulle moet hou.”
8
Januarie 1877, Jakobsrus
Met haar pa weg, sorg Adriana dat sy in die nabyheid van Mieta bly, al beteken dit dat sy moet groente skil.
“Mos hoog tyd dat jy leer huishou noulat jy wil man vat,” verwelkom Mieta haar.
Adriana is dankbaar vir die langtuitkappie wat verhoed dat Mieta haar trane sien. Mieta moet maar glo wat sy wil, die waarheid kan sy tog nie vir haar vertel nie, want sy sal dadelik amok maak en dan kom alles op die lappe en slaan haar ma haar sowaar dood. Maar een ding is seker, trou sal sy nooit nie. Sy ruk van die skrik toe haar ma agter haar praat.
“Haal af jou kappie in die huis.”
Instinktief soek Adriana skuiling agter Mieta, wat keer: “Ai, Nooi, dis darem te arig om so in darie blouoog vas te kyk.”
“Dan bly sy in haar kamer tot die oog gesond is en ék sal besluit wanneer dit is.”
Dit word die langste drie dae van Adriana se lewe. Bellie kom gee darem af en toe vir haar ’n drukkie en Debora klik simpatiek tong wanneer sy haar kos bring. Verder sit sy by die venster en bekyk die stukkie werf wat sy kan sien tot sy ’n beweging in die boord gewaar en besef dis oom Lodewyk wat haar dophou.
Laat Saterdagmiddag kondig die honde se uitbundige geblaf haar pa se tuiskoms aan. Aan die geskarrel in die gang weet sy dat Heilie, Bellie en Boeta uitstorm om hom te groet. Haar ma skree tevergeefs vir Boeta om terug te kom en haar haastige voetstappe word ook vinnig sagter.
“Adriana, kom kyk, ek het vir jou iets saamgebring,” roep haar pa ’n rukkie later.
Verlig sit sy haar kappie op en hardloop agterstoep toe. Steek vas toe sy die kastaiingbruin perd sien wat Arend vashou. In die merrie se gesperde oë herken sy die vrees wat in haar eie lyf vasgevang is.
“Jou perd is nie gesout teen perdesiekte nie, sy