Dors. Marinda van Zyl
infoeter nie. Kamstig die plaas Jakobsrus genoem om te wys dis ons laaste staning, maar ek sien mos die kyk in sy oë as hy na die rantjies staar.”
5
September 1876, Greyling-staning
Betta nies toe die wind rooi stofwalms saam met die droë peultjies van die withaak by die tentopening instoot. Sy haal ’n sakdoek uit haar voorskootsak en blaas haar neus driftig, die psalm wat sy aan ’t neurie was vergete. Versigtig ondersoek sy Elisabet se wit rok om te sien of daar spatsels op is.
In haar voorbereiding vir die trek het sy nooit daaraan gedink dat Elisabet en Paul nog nie as lidmate van die Gereformeerde Kerk aangeneem is nie. Nou moet sy hier in die stof sit en klere maak. Haar dogter se rok mag nie by die ander meisies afsteek nie, maar te oordadig kan sy dit ook nie versier nie, want dan klap die tonge weer. Daarom het sy besluit om net die moue en die kraag met wit satyngare te borduur.
Verlede week het die ouderling die nuus gebring dat Rustenburg se dominee middel September hier kom kerk hou. Dit was goeie nuus, want nou kan Elisabet en Paul aangeneem word voor hulle sonder leraar die wildernis intrek. Maar toe gooi die ouderling ’n turksvy in haar skoot. “Ek wil die katkisante vir die volgende drie weke onderrig. Julle sal na die hooflaer toe moet versit.”
Dit sou vet op die vuur wees as Jan en Daniël drie weke lank onder mekaar se voete is. Gelukkig het sy onthou dat Grieta van Alie Haasbroek ook nog moet katkiseer. Paul en Elisabet kon saam met hulle gaan. Met ouma Lappies om toesig te hou sou sy gerus slaap. Maar nee, toe word daar onder haar neus gekonkel met Jan en hy besluit Piet en Janetta moet die kinders gaan oppas. Natuurlik om uit te vis wat Louw en Daniël se planne is. Dié twee het nog nie weer van hulle laat hoor nie en Jan verseg om verslag te gaan doen oor sy besoek aan Khama as hulle nie eerste om verskoning vra nie.
Nou sit sy vingeralleen hier by hulle staning met net haar gedagtes as geselskap, want Jan en Motshoare pas bees op en Tiaan en Bêrend moet water aanry. Genadiglik het die swartkraai ook koers gekies. Seker agter Jan aan, want sy het agtergekom hy is die een wat skyfies biltong vir die kraai gooi.
Betta wip toe Tiaan onverwags in die tentopening verskyn, en vra: “Kan ek iets uit my trommel op die wa haal, Tante?”
“Natuurlik, jy wil seker jou kerkklere hê. Dit sal gestryk moet word.”
“Ek soek net my donkielong. Ek gaan nie saam kerk toe nie, ek moet kamp oppas, sê oom Jan.”
Betta prik haar met die borduurnaald en suig vinnig aan haar vinger om te keer dat ’n bloedspatsel die wit rok bederf. Sê met vinger in die mond: “Goeie hemel, kind. Die ding sal mos teen dié tyd vrot wees, of was dit darem gedroog voor jy dit gebêre het?”
Tussen die lagbuie deur sê Tiaan: “Ek sal vir Tante kom wys.”
“Hygend hert!” skree Betta toe ’n onaardse geluid uit die wa opklink.
“Só lyk en klink ’n donkielong, Tante,” wys Tiaan toe hy van die wa afspring en die konsertina soos ’n wurm ooptrek en toedruk om weer die geluid te maak.
“Jy moes lankal die ding uitgehaal en die kraai verwilder het,” lag Betta verleë toe die skrik uit haar lyf vloei. “Maar wat op aarde wil jy daarmee maak?”
“Musiek maak as ek alleen is.” Hy speel ’n deuntjie tot Betta die psalm herken en saamneurie.
“Waar kry jy die ding? Ek ken ’n trekklavier en bekfluitjie, maar so iets het ek in my dag des lewens nog nie gesien nie.”
“Die reisiger met die voëlprente het dit aan my pa verkoop.”
“Genade, ek hoop nie jou stiefpa kom agter jy’t die ding gevat en kom maak moeilikheid hier nie.”
“Dis my regte pa s’n en my ma het dit vir my ingepak saam met my waterverf. My pa het my geleer speel voor hy dood is.”
Sondag bekyk Betta trots haar handewerk waar hulle in die voorste ry saam met die ouers van die katkisante sit. Elisabet lyk soos ’n prinses daar voor die tydelike kansel. Gelukkig trek haar meisiekind op die Greylings met hulle fyn gelaatstrekke en het sy nie haar breë gesig en heupe geërf nie, dink Betta. Sy vergeet skoon om na die preek te luister, want sy moet terselfdertyd ’n oog hou oor Bêrend dat hy nie aan die slaap raak en tot haar skande van sy stoeltjie afval nie.
Ná ’n heerlike middagete en gesels met kennisse wat sy laas met nagmaal in Pretoria gesien het, besluit Betta om te gaan skuinslê in Piet se wa. Die gegiggel en gefluister in die wa laat haar vassteek. Die kinders wil seker die laaste paar ure bymekaar benut voor Piet weer vanaand moet beestrop toe. Met die omdraai gewaar sy vir Piet en Janetta waar hulle saam met ’n groepie jongmense kuier.
Intussen het dit stil geword in die wa.
Soos blits is Betta op die wa en pluk die tentflap oop. Elisabet en Thys is in ’n vurige omhelsing op die katel. “Uit!” skree sy. Die besef dat sy nuuskieriges kan naderlok, demp haar stem, maar nie haar woede nie. Sy kry vir Thys aan die kraag beet en stamp hom na die agterkant van die wa. “Uit,” sis sy. “En jy, juffertjie, wag net tot ons vanaand by die huis is.”
Thys bly buite bereik van haar swaaiende arms, maar laat hom nie stilmaak nie. “Asseblief, Tante, ek wil met Elisabet trou.”
“Ek is lief vir hom, Ma.”
“Lief? Jy’s vyftien, ’n kind,” verhef Betta weer haar stem.
“Volgende maand is ek sestien, Ma.”
“En ek is negentien. Ek kan vir haar sorg, Tante.”
Betta gluur vir Thys. “Dan moet jy mos beter weet as om met ’n kind te lol.”
“Piet was twintig en Janetta vyftien toe hulle getroud is. Toe’t Ma nie gesê hy het met ’n kind gelol nie,” snip Elisabet.
Weerloos teen die aanslag sak Betta op die katel neer. Ek het dit en veel meer gesê, dink sy, en so amper my seun vir altyd verloor. “Wag net tot jou pa hiervan hoor,” dreig sy en kom moeisaam regop.
“Asseblief, Tante, gee my net kans om eers met oom Jan te praat. Ek sweer ek sal mooi na Elisabet kyk.”
Gedagtes flits deur Betta se kop. Wat as dit nie die eerste keer is nie? Wat as daar ’n baba is? Die kerksensuur. Die verguising van haar kind. Jan se naam as kommandant. “Sorg dat jy vanaand by ons staning is,” gee sy toe, maar draai haar uit Elisabet se omhelsing uit. So maklik gaan sy nie vergewe nie.
Dié aand skuif Jan die verantwoordelikheid weer op Betta af. “Dis by die tante wat jy moet verbykom, Thys. As jy haar kan oortuig, het jy my toestemming ook.”
Betta gee nie eens vir Thys kans om te vra nie. “Dis goed so, maar dan gaan gee julle môre voor nagmaal gebooie op. Oom Jan sal sommer terselfdertyd met die landdros die datum en betaling gaan reël.”
“Wag ’n bietjie, waarom die haas? Hulle kan mos ordentlik gekerk word wanneer hier weer ’n dominee kom preek, sê Jan.”
“Môre word dit gedoen, Thys,” herhaal Betta beslis.
“As Elisabet kan trou, kan ek mos ook,” sê Paul uit die bloute.
Betta dink eers hy maak ’n grap. “Met wie nogal?”
“Gezina Venter. Sy’s vandag saam met ons aangeneem.”
Betta byt op haar tande om die woede en teleurstelling wat in haar opbruis te laat bedaar voor sy sê: “Kom ons stap eenkant toe.” Agter die wa kry sy hom aan die oor beet soos toe hy nog ’n opgeskote kind was. “Het julle gevry terwyl julle moes leer vir katkisasie?”
Hy probeer nie losruk nie, maar soek uitkomkans. “Hoe kan Ma nou so iets vra? Haar stiefpa lei haar ’n vreeslike lewe. Dis hoekom ek haar hierheen wil bring.”
“Ek wil nie verskoning hoor nie. Antwoord net ja of nee. Het julle gevry? En ek praat nie van soentjies steel nie.” Betta sien hoe die gloed teen Paul se nek opkruip terwyl hy doer in die veld bly staar, maar sy swyg tot hyself sy sonde