Dors. Marinda van Zyl

Dors - Marinda van Zyl


Скачать книгу
ek en die meisiekinders?”

      Adriana wag nie op haar ma se antwoord nie. Vandat Boeta sewe jaar terug gebore is, maak niemand anders meer saak vir haar ma nie.

      Pronk is klaar opgesaal toe haar pa by die stal kom. “Ek ry solank vooruit,” sê hy.

      Hy is skaars by die werf uit toe Adriana by hom verbyjaag. Sonder kappie en met rokspante fladderend in die wind lê sy plat teen die perd se nek en skree: “Laaste een by die land is vrot pampoen!”

      By die bruisende spruit wag sy vir hom. Maak of sy nie die seer in die hang van sy skouers raaksien toe hy op ’n drafstap naderry nie en sê gemaak vrolik: “Dit moes meer gereën het in die rante as by die huis. Gaan ons gou kyk?”

      Hy korrel met een oog na die son. “Goed, dan kan ek sommer by die saaivolk se werf aangaan. Die hoofman het laat weet hulle wil meer grond skoonmaak vir hulle koring, want Oupa wil mos nou net mielies op die ou lande laat plant. Maar ons sal moet aanstoot. Jy weet hoe dit jou ma ontstel as ons nie teen skemer by die huis is nie en my mond water vir Heilie se pannekoek.”

      ’n Halfuur later stuur hulle die perde teen die koppie op. Van bo af kan hulle die wasige blou Magaliesberg in die noorde sien. Weswaarts sny die spruit deur soetdoringveld wat goudgeel in die blom is tot by die lushof van opstalle waar vier plase se hoeke grens. “Oupa Jakob het darem maar die mooiste plek op aarde uitgekies om sy paradys te kom skep,” dink Adriana hardop.

      “Eintlik het die noodlot dit so beskik. Toe ons in 1842 uit Natalia hierheen getrek het, was al die grond langs die Mooirivier al beset. Hy’t ons in Mooirivierdorp gelos en noordwaarts verken vir geskikte grond waar hy ook sou kon saai. Dis juis op ’n dag soos vandag, met die spruit in vloed, dat hy hier aangekom het. Hy’t dadelik vir hom en oom Flip en Braam plase uitgemeet. Daardie tyd het hulle dit nog gedoen deur ’n uur te perd in elke windrigting te ry.”

      “Hoekom het Pa dan nie ook ’n plaas gekry nie?”

      “Ek was maar twee jaar oud. Mens moes veertien wees om te kwalifiseer vir ’n plaas.”

      Aan tafel die aand sê haar pa terloops: “Môre moet ek vroeg roer. Ek en Wikus gaan bees koop.”

      Adriana kyk vinnig van haar bord af op by die noem van Wikus se naam.

      Haar ma trek bakkop soos ’n rinkhals. “Wat het Wikus met jou beeskopery uit te waai?”

      “Dis vir hom wat ons koeie gaan koop. Lodewyk sê Wikus sal seker aanstons begin dink aan vrou vat. Dis tyd dat hy sy eie aanteeltrop kry. Dries Petoors wil saam met Jan Greyling Damaraland toe trek. Hy gaan glo sy hele boerdery tot niet maak.”

      “Dis mos die Lemmers se besigheid. Vir wat bemoei jy jou daarmee?”

      “Lodewyk sê hy is ongerus oor Corrie. Sy sukkel weer erg met die water. Hy wil haar nie nou alleen laat nie. Jy weet mos,” beduie hy met sy oë in die rigting van sy dogters.

      Adriana loer vir Heilie. Sou hulle pa sowaar glo hulle weet nie tant Corrie gaan weer ’n baba kry nie?

      “Water se voet. Dis van alles eet wat haar twee oë sien dat sy lyk soos sy lyk. Hy kan mos wag tot die baba daar is en dan self die koeie gaan koop.”

      “Dan sal daar net prulle oor wees. Die vendusie is môre.” Toe haar ma nog iets wil sê, klap haar pa vererg op die tafel. “Kry nou end daarmee, Celia. As jy en jou niggie in kwaaivriendskap wil lewe, is dit julle saak, maar Lodewyk is my buurman en ek hou van sy geselskap. As hy my hulp vra, gaan ek nie nee sê nie.”

      Boeta hyg na asem en dadelik is haar ma se volle aandag by hom. “Asem in, een-twee-drie, asem uit, een-twee-drie,” kalmeer sy hom en vryf sy ruggie met sirkelbewegings. “Is jy nou tevrede? Jou eie seun het jou nodig, maar jy flenter liewer met Wikus rond.”

      Buite is die stemme van die werkers wat opstal toe kom vir aandgodsdiens hoorbaar. Mieta en haar dogter Debora verskyn soos skimme in die eetkamer om eers die tafel af te dek. Terwyl Mieta steunend haar plek op die vloer langs die huisorrel inneem, gaan roep Debora haar pa Kierie, haar man, Arend, en haar kinders, Fanja en Meisie.

      Adriana het skaars die Bybel voor haar pa neergesit, toe lees hy al. Net ’n kort stukkie. Vra nie wat elkeen onthou nie en rammel die vir-spys-en-drank-seg-ons-U-naam-lof-en-dank-rympie af. Toe hy wil opstaan sonder om haar ma kans te gee om voor die huisorrel plek in te neem en die eerste note van ’n psalm te speel, val Mieta weg met “Prys den Heer”. Adriana-hulle sing gedwee saam, maar haar ma staar met saamgeperste lippe na die tafeldoek. Mieta is nog besig om die laaste noot te rek toe vat haar pa sy pyp en twaksak en loop stoep toe.

      Haar ma se toorn verskuif na Mieta. “Sorg dat jy jou naandsê oorkant die spruit kortknip. Jy slaap vannag in die kombuis. Ek wil nie sukkel om jou hier te kry as Boeta se borsie weer toetrek nie. Hou die vuur aan die gang. Daar moet kookwater wees as ek hom wil stoom.”

      Dit lyk of Mieta wil terugpraat, want saans kuier sy by haar suster Sanna wat op Ackermansdrif vir oupa Jakob en ouma Tina werk, maar Kierie spring op en trek sy vrou aan die arm op, terwyl hy sy kop skaars merkbaar skud.

      Bellie sit grootoog op haar kissie bo-op ’n stoel, duim in die mond.

      Heilie wag tot haar ma buite hoorafstand is voor sy waag om te sê: “Ousus, dit lyk vir my een van ons twee sal maar weer vanaand die eintlike baba in die bed moet sit.”

      Adriana wil iets sê, maar bedink haar betyds toe sy haar pa in die deur sien staan. Oneerbiedigheid teenoor grootmense word nie in hierdie huis geduld nie.

      Maar sonder ’n kyk in hulle rigting is hy die gang af na Boeta se kamer. “Dis oor jy ’n sewejarige seun soos ’n baba oppiep dat hy so petieterig bly,” dra sy stem deur die huis. “Môre vat ek hom saam. Dis tyd dat hy leer om ’n boerseun te wees.”

      Nadat Bellie in die bed gesit is, lê Adriana gespanne en luister na die roep van die naguil. Eers die twee dralende fluite, dan vier trillende note kort op mekaar. Met tussenposes is dit duidelik hoorbaar bo die paddakoor by die dam en die geskreeu van krieke. Sy hou asem op. Volg sy pad deur die tuin.

      “Tot die naguil soebat vir Pa-hulle om op te hou stry,” praat Heilie so onverwags dat Adriana uitroep van skrik.

      “Hiert! Ek dog jy slaap. Waarvan praat jy?”

      “Hoor hoe roep hy: Hou op, as-se-blief-tog,” maak Heilie die uil na.

      “Sjuut, netnou word Bellie wakker. As sy ’n keel opsit, is Ma op ons,” waarsku Adriana.

      Op aande soos vanaand verwens sy dit dat sy ’n kamer met Heilie en Bellie moet deel. Oor drie maande word sy sewentien. Miskien sal haar ma dan toelaat dat sy na die vrykamer skuif. Haar pa en ma se rusie duur voort en Mieta lê seker wawyd wakker in die kombuis, terwyl sy brand om op die roep van die naguil te antwoord. Sy glimlag in die donker. Heilie is verkeerd. Die naguil soebat nie haar ma-hulle om op te hou baklei nie. Hy roep haar tuin toe: “Kom gou, ek-wag-vir-jou.”

      “Hoekom is Pappa so moedswillig om by oom Lodewyk te gaan kuier as hy weet hoe dit vir Mamma ontstel?” versteur Heilie haar gedagtes.

      Adriana vergeet van haar vermaning vroeër dat Bellie nie wakker gemaak moet word nie en kap terug: “Ma is die onredelike een. Wat het sy nou eintlik teen Wikus-hulle? Dis mos sy wat vir Pappa by tant Corrie afgevry het en nie andersom nie.”

      “Sies, Mamma sê dis ’n bogstorie. Pappa en tant Corrie se verlowing was skaars verbreek, toe trou sy met oom Lodewyk. Eers ná hulle troue het Mamma vir Pappa die jawoord …”

      “Nou wat het sy dan teen Wikus?” val Adriana haar in die rede.

      “Hy’s ons kleinneef. Dis moeilikheid soek as kleinneef en -niggie trou, sê Mamma.”

      Adriana sluk haar antwoord toe Bellie in haar slaap kreun. Sy glo glad nie dat haar ma se wrewel iets met die familieverbintenis te doen het nie. Van sy kan onthou, was Wikus haar speelmaat en vroeër jare het haar ma-hulle en die Lemmers tog oor en weer gekuier. Eers ná Boeta se geboorte het haar ma vir Wikus verwilder wanneer hy hier wou kom speel.

      Vandat


Скачать книгу