Veldiep. Fanie Viljoen
ma-hulle dring daarop aan dat sy klas in Engels loop by Tim-hulle se dubbelmediumskool. Van die Engelse kinders by die skool hou hulle so ’n bietjie eenkant, maar Tim ken haar eintlik van af en toe by die landgoed se stalle sien.
“Jy moes laat weet het jy kom, dan het ek vir jou gewag.”
Tim haal sy skouers op asof dit iets moet beteken.
Chantel glimlag. “Dit sal lekker wees om ’n ry-buddy te hê. Bel my volgende keer en laat weet, dan gaan ons saam uit veld toe.”
Tim knik. Hy drink nog ’n sluk water en draai die kraan toe.
“Terwyl ek jou nou sien, wil jy my nie help nie?” vra Chantel.
“Met roskam? Eh … ek wil by my perd kom.”
“Nee, man, ek kan my perd roskam. Dis iets anders. Dit sal gou wees, ek belowe.” Haar glimlag kry ’n ondeunde trek. “Ek dink Comet trap nie reg op sy linkervoorpoot nie.
“Het hy dalk in iets getrap?”
“Ek hoop nie so nie. Wil jy nie gou vir my kyk nie?”
Tim kyk om na Apollo se stal, en dan terug na Chantel. “Oukei, maar as dit ernstig is, sal ek nie kan help nie. Dan moet jy liewer vir dokter Theart kry.”
Hy loop verby Chantel na Comet toe.
“Dankie, ek skuld jou.” Sy stap saam met hom. Haar heupe swaai lig genoeg om te terg, maar sonder om te opvallend te wees.
Comet kyk Tim effe wantrouig aan.
“Hi, Comet, ou yster, jy onthou my mos, nè?” Tim vryf ’n bietjie oor die rooibruin perd se nek om hom te kalmeer. “Ek gaan gou na jou poot kyk, oukei?”
Hy gaan staan by Comet se skouer, sy lyf na die stertkant toe, sy bene effens uitmekaar gebalanseer. Soos hy vooroor buig, vee hy met sy hand af oor die perd se been. Hy tik liggies op die agterkant van die voorbeen en maak dan ’n aanmoedigende klikgeluid met sy mond.
Geoefend lig Comet sy voorpoot.
“Hier is ’n hoefpik as jy dit wil gebruik.” Chantel se hand raak aan Tim s’n toe sy dit aangee.
Dit was net ’n ongeluk, sê Tim vir homself.
Met die metaalinstrument krap hy onder die perd se poot, versigtig om die sensitiewe driehoek in die middel van die hoef te vermy waar die bloedtoevoer en senuwee-eindpunte lê.
“Ek sien niks nie, Chantel,” sê Tim uiteindelik.
“Regtig?”
“Miskien moet jy maar die veearts kry. Jy wil nie ’n kans vat nie.”
“Ek sal my ma vra om hom te bel, dankie.” ’n Rukkie staan sy daar en kyk vir hom, toe glimlag sy asof sy nog iets wil sê, maar doen dit nie. Sy draai net haar kop weg.
“Ek moet by Apollo kom,” sê Tim selfbewus. “Ek sien jou later, Chantel.”
“Onthou om my te bel wanneer jy wil gaan ry.”
“Goed, ek het jou nommer,” sê hy oor sy skouer. Dis die laaste ding waaraan hy nou wil dink. Hy is hier nie net vir Apollo nie. Hy is ook hier om sy eie ontwil. Vir die seer in hom.
Apollo kyk om toe Tim die skuifslot oopmaak. Middernagswart – dis die kleur wat Apollo seker die beste beskryf. Hy het ’n ewe geheimsinnige karakter wat Tim met die verloop van tyd ontrafel het. Vandag is hulle onafskeidbaar.
Apollo runnik sag. Dis sy manier van groet.
“Apollo, ou grote! Hoe gaan dit, jong? Het jy my gemis?” Tim vryf oor die brug van die perd se neus. Dan trek hy sy hand af oor Apollo se nek, skouers en rug.
Weer runnik die perd sag.
Tim verstrengel sy vingers in die dik maanhare en laat sak sy kop teen Apollo s’n. Hy staan lank so met sy oë gesluit, en met die reuk van sy perd en die stal se strooi in sy neus. Hy asem dit dieper in.
Jess se gesig doem voor hom op. Hy hoor haar weer sê dat dit verby is tussen hulle. En net soos vanoggend stoot die gevoel van verlorenheid weer in hom op.
Hierdie keer vee hy die trane nie af soos vroeër op die skoolpaviljoen nie. Hy huil sonder om skaam te wees.
5
NIKS IS PERFEK NIE
Op Apollo se rug kry Tim tydelik die troos waarna hy soek. Sy asem jaag, en hy voel die spanning in sy bobene soos hy hom uit die saal lig terwyl Apollo oor die oop veld skeer. Om hulle vlieg die landskap verby. Die veld, die voetpaaie, die koppies waar die landgoed se mooiste en grootste huise staan en die klompe bome wat bymekaar bondel.
Hy laat dit alles wegsmelt soos die wêreld vanoggend met Jess se woorde om hom weggesmelt het: “Ek het iemand anders ontmoet, Tim.”
Nooit het hy gedink dit sou met hulle gebeur nie. Hulle was die perfekte paartjie. Niks is perfek nie, sal Edgar seker sê, en hy is waarskynlik reg.
Nee, hy is nie.
Ag, flippit, hy weet ook nie meer nie. In Tim se kop is alles deurmekaar gedink, onderstebo gestamp.
Naby die stalle verminder Apollo spoed. Die gemaklike draffie dra Tim tot voor die staldeur waar die perd se silwernaamplaatjie bo die deur pryk.
Tim onthou die dag toe hy en sy pa dit kom opsit het. Dit was ’n groot dag vir hom. Dinge soos meisies wat jou hart kan breek, het toe nie eens naastenby saakgemaak nie. Perde was vir hom alles. Dis hoekom sy pa Apollo vir hom gekoop het. Hy was van die eerste dag af mal oor Apollo met sy trotse houding en daardie donker oë wat dwarsdeur jou kyk tot in die geheime plekke binne-in jou.
Apollo was egter nie so mal oor Tim nie. Aan die begin was hy eintlik lelik befoeterd, maar mettertyd het hy verander in ’n regte ou softie. Dis net soms dat hy nog wil voorgee dat hy hom moet laat geld.
Dís wat hy moet doen, besluit Tim terwyl hy Apollo koudlei en later die saal van sy natgeswete rug afhaal. Hy moet voorgee dat alles oukei is.
Dit raak al donker toe Tim Apollo uiteindelik klaar afgespuit en geborsel het, en in die pad val huis toe.
Met sy lyf warm en natgesweet van perdry, kies Tim ’n korter pad as die een waarmee hy gekom het. Die voetpad maak te veel draaie. Sy ma, ’n kliniese tegnoloog in die stad, kry ’n hartaanval as sy hoor hy stap so deur die lang gras. Sy is alewig bang vir slange.
“Ek pla hulle nie, en hulle pla my nie,” spot Tim altyd.
“Ja, hou jou maar slim,” sê sy ma dan. “Ons praat weer as een van die vieslike goed jou pik.”
Sy ma is dalk reg, hy moet versigtiger wees, maar dis te laat. Hy is nou in die middel van ’n stuk grasveld. Na ’n ruk het dit reeds te donker geword en kan Tim glad nie meer voor hom sien nie. Hy hou sy oë op die ligte van die naaste huise.
Die buitelug-oefenarea moet nou naby wees. Die volgende oomblik kan hy die oefenapparaat dofweg voor hom onderskei. Hier brand ’n paar flouerige sonkragligte. Met die kikoejoegras van die oefenarea uiteindelik onder sy voete, loop hy nou ook makliker. Hier voor hom is die kennisgewingbord met die landgoed se aanspreeklikheid in die geval van beserings. ’n Voetpad kronkel van hier af huis se kant toe.
Tim stryk vinnig aan, maar dan gaan staan hy skielik botstil. Wat was dit?
Hy ruk sy kop om en tuur die donker in. Hy het ’n geluid gehoor.
Dalk ’n bok?
Hy het voorheen al ’n hele paar njalas hier raakgeloop. Miskien sien hy die bultende rug bo die rooigras langs die oefenpark. Of dalk het die bok aan die sagter groen kikoejoe kom vreet soos die springbokke soms maak.
Lank staan hy stil.
Die geluid kom egter nie weer nie, en hy sien ook niks nie.
Uiteindelik begin Tim weer stap, maar hy is net ’n paar treë weg, toe hy ’n hond agter hom hoor blaf.
“Hush,