Veldiep. Fanie Viljoen
Hy skud sy kop.
Dis nie ’n bok nie. Dis net iemand wat met die hond kom stap het, stel hy homself gerus.
6
DIE VIDEO
Amber Sterling kom skaars die huis binne toe haar selfoon biep. Oreo, haar Maltese poedel, draf vooruit kombuis toe. Terwyl Amber saamstap om vir die brakkie water te gee, aktiveer sy haar selfoonskerm.
Sy blitslees die nuwe boodskap. Dan skielik voel dit of sy val en val – in haarself.
En sy gaan breek wanneer sy die bodem tref. Nee, dalk breek sy alreeds terwyl sy neerstort.
Soos iemand wat gehipnotiseer is, tap sy vir Oreo water in, dan vat sy die selfoon weer. Met ’n kloppende hart staar sy na die skerm. Die aaklige woorde wat Craig vir haar gestuur het, swem voor haar nat oë:
Ek kan dit nie glo nie. Jy het vir my gelieg. Jy het iemand anders se pic op die dating app gebruik, nè? Ek het jou regte pic op jou WhatsApp gesien. Ek het nie tyd vir speletjies nie, so let’s get real: Jy is flippen lelik. Vergeet liewer my nommer. Totsiens.
Haar hele lyf voel koud en ’n naar kol karring aan haar maag. Craig is reg. Sy was bang niemand stel in haar belang as sy haar eie foto op die dating app sou sit nie. Toe het sy ’n ander meisie s’n gebruik. ’n Model s’n. Daar was baie belangstelling. Craig het uitgestaan. Hulle het van die begin af gekliek en baie deur die app se boodskapdiens gesels. Uiteindelik het dit gevoel of sy hom kan vertrou.
Vroeër vanmiddag het sy haar selfoonnommer vir hom gestuur. Sy moes dit nooit gedoen het nie. Nou weet hy hoe sy regtig lyk.
Lelik. Die woord staan uit soos ’n pitsweer. Lelik.
“Amber!” roep haar ma.
Gou vee sy die trane af. Sy byt haar lip vas en probeer haar regruk. Sy wil die boodskap uitvee, maar sy wil ook nie. Dis ’n stukkie van Craig. Dalk het hy dit nie so bedoel nie. Sy verstaan dit dalk net verkeerd. Miskien wou hy nog ’n glimlag-gesiggie agterna gesit het … asof hy ’n grap maak.
Weer lees sy die boodskap en probeer kyk of daar iewers ’n greintjie weggesteekte humor of woordspeling is wat sy miskyk, maar daar is niks snaaks aan “jy het vir my gelieg” en “jy is flippen lelik” nie.
“Honey, we’re going to watch Modern Family,” roep haar ma van die TV-kamer af.
Amber laat val haar hare oor haar gesig, ingeval haar ma haar kom soek. Haar ma moenie haar rooigehuilde oë sien nie.
Haar ma is ’n kunstenaar, haar pa ’n argitek. Modern Family is een van hulle gunstelingprogramme. ’n Mens moet ’n bietjie gemors-TV kyk om na werk af te skakel, glo haar pa.
Amber is nie nou lus vir dié TV-familie se stuitighede nie.
“Amber!” roep haar ma weer.
“Ek kom,” antwoord sy in Engels. As sy nie gaan kyk nie, sal haar ma-hulle weet daar is fout. Met Oreo om haar voete, stap sy kamer toe. Sy gooi haar selfoon op die bed neer, dan gaan sy badkamer toe om haar gesig te was.
Haar oë bly afgeslaan om die beeld in die spieël mis te kyk.
In die TV-kamer begin die program.
Aarselend stap Amber soontoe en val neer op die bank waar sy altyd lê. Sy moet maak asof niks verkeerd is nie, al breek sy aan die binnekant, al voel dit asof sy op haar bed inmekaar wil krimp en van alles vergeet.
Haar pa-hulle lag lekker vir die program, maar nie Amber nie. Sy staar na die skerm asof sy nie in haar eie lyf is nie. Dan, voordat sy besef wat sy doen, weeg sy al die karakters in die storie op: Gloria – mooi. Jay – lelik. Claire – mooi. Haley – lelik. Cameron – lelik. Manny – lelik …
Sy het nog altyd ’n kompleks of ’n ding oor skoonheid gehad, geglo dat sy nie so mooi is soos die vroue in tydskrifte, in flieks en op TV nie. Dis hoekom sy ’n model se foto op die app gebruik het.
Craig het maar net vanaand sy vinger op die seerplek kom druk. Sy kan hom nie kwalik neem nie. Dis alles haar fout. Dis sy wat lelik is. Of is sy dalk nie?
Terwyl sy die vraag in haar kop omwoel, onthou sy van iets wat sy in Sarie gelees het.
Haar ma koop elke maand vir haar die tydskrif om haar met Afrikaans te help. Sy het al ’n hele pak uitgawes. Die artikel gaan oor iets wat meisies op YouTube doen. Dis seker absurd, maar dalk moet sy dit probeer …
Toe Modern family klaar is, verskoon Amber haar. “Ek het nog huiswerk, Mams en Paps. Lekker slaap.” Sy soen hulle gou en hoop hulle sien nie daar is iets verkeerd nie.
In haar kamer maak Amber die deur toe. Sy stap na die bedkassie waar sy al haar tydskrifte hou. Sy vat die hele pak net so en plak dit op die vloer neer. Vinnig blaai sy hulle deur op soek na daardie artikel. Die een oor YouTube.
Binne-in haar sit sy weer met die alleenheid. Sy het gehoop dit sou verander toe sy en Craig so lekker met mekaar oor die weg gekom het.
Lelik. Die woord spook steeds by haar.
Alleen. Dis die ander woord. Soms voel dit vir haar of haar alleenheid ’n swart poppie is wat hier in haar borskas bly. So ’n weggooiding waarvoor mense sal skrik as hulle haar sien, die bêreplek vir alles wat seermaak.
Dié alleenheid – dis mos nie hoe dit veronderstel is om te wees nie.
Sy wil ook so gelukkig wees soos die ander meisies by die skool, wens Amber, toe sy die soveelste tydskrif eenkant toe smyt. Maar wanneer sy sien hoe die meisies aan hulle ouens hang, of wanneer hulle mekaar soen of selfoonboodskappe stuur, wil Amber sommer naar word.
Nou is die nuwe teleurstelling in haar kop en dit wil net nie weggaan nie.
Sy wil nie met haar ma daaroor praat nie. Dié werk aan skilderye vir ’n uitstalling en is omtrent heeldag voor die esel. Haar ma is baie oopkop oor goed, maar daardie kop is doer bo in die wolke wanneer sy so skilder.
Dis deel van haar kunstenaarstemperament, sê Amber se argitek-pa.
Met hom kan sy ook nie praat nie. Net soos hy mooi geboue uitdink, dink hy ’n wonderlike toekoms vir haar oop. Hy sal so teleurgesteld wees as hy uitvind wat sy aangevang het.
Wat van vriendinne?
Sy gooi nog ’n Sarie op die hoop. Daar is twee meisies by die skool met wie sy soms gesels. Hulle is soort van vriendinne. Met soort-van-vriendinne praat ’n mens nie oor hartsgoed nie. Jy praat oor oppervlakkige nonsens soos huiswerk of klere of fliek. Daar is kinderswembaddens wat dieper is as dié twee meisies.
Sê nou net hulle lag vir haar as sy dit sou waag om hulle te vertel? Daar is net een ding erger as om sonder ’n ou deur hoërskool te ploeg, en dis om nog ’n bespotting ook te wees.
Amber haal diep asem.
Uiteindelik kry sy die artikel waarna sy soek. Sy vluglees dit. Dit handel oor die ontstaan van sosiale media en die invloed op vroue.
Haar oë gly af na die pienk YouTube-kassie onderaan die bladsy. “YouTube is geïnspireer deur die webblad HOT or NOT en het ontstaan as ’n video-afspraakwebblad.”
Die brokkie inligting wat ’n paar reëls verder volg, lees Amber met ingehoue asem; dis waarna sy gesoek het: “ ’n Nuwe neiging is video’s van meisies wat kykers vra of hulle mooi is of nie. Meer as vyfhonderdduisend meisies het al Is-ek-mooi?-video’s gemaak.”
Sy sit ’n ruk met die tydskrif teen haar bors. Haar oë skuif na haar skootrekenaar toe.
Doen dit, sê ’n binnestem.
Nee, moenie, antwoord ’n ander een.
Doen dit.
’n Ruk lank sit sy en dink. Dan: Ek gaan dit waag.
Sy sal die video net ’n dag of twee op die internet los en kyk wat die mense sê. Wat het sy om te verloor?
Voor