Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
onbekende aanvaller met ’n mes in die arm gesteek. Dit was nie noodlottig nie en sy sterk in die hospitaal aan.
Die aanval het ongeveer elfuur in die nag plaasgevind toe sy skynbaar haar kat gaan soek het. Haar gille het haar suster, me Liana Trollip, ’n landdros van Stellenbosch, en professor Brand, wat oorkant die straat woon, se aandag getrek. Hulle het haar te hulp gesnel en die aanvaller het gevlug. Daarna het hulle met professor Trollip, wat kwaai gebloei het, na die Medi-Clinic gejaag. Dié vinnige optrede het waarskynlik haar lewe gered.
Hierdie is die tweede aanval op ’n vrou in die Laan en die polisie vermoed dat die twee aanvalle met mekaar verband hou. Die polisie soek onverpoos na die aanvaller en volg alle leidrade op. Geen arrestasie is nog gemaak nie.
Kira kreun. “Ag hemel, nou weet die hele Stellenbosch en almal wat ons ken wat gebeur het.”
“Dit kon ons verwag het,” sê Liana. “Nou gaan die aasvoëls op ons toesak.”
Sy kyk na die reusebos blomme wat Reinhard gebring het en skud haar kop meewarig. “Dit was baie gaaf van hom, maar dit skep nie ’n goeie indruk na buite as dit lyk of Reinhard jou besonder liefdevol gesind is nie.”
Kira kyk ook na die blomme, wat lyk asof dit baie duur was. “Ja, dis wat hy ook te kenne gegee het, maar weet jy …”
“Weet ek wat?”
Kira kyk grootoog na haar suster. “Hy het ook te kenne gegee dat hy nog iets vir my voel. Dat hy werklik spyt is oor hy my destyds gelos het.”
Liana kyk haar stip aan. “Ja? Wel, laat ek maar erken: ek het ook die gevoel gekry dat hy jou steeds liefhet. Hy het amper stuipe gekry toe jy bebloed flou word, en hy kon nie genoeg vir jou doen nie. Ek kon jou amper nie uit sy arms kry nie. En dat daardie Monique skeef uitgedraai het, is nie altemit nie. Die punt is: wat voel jy vir hóm in hierdie omstandighede?”
“Ek kan nie help om hom steeds lief te hê nie, sus.”
Liana vou haar arms en frons. “Wat as dit blyk dat hy iets met Monique se dood te doen gehad het? Dis nie onmoontlik nie, weet jy? Misdadigers probeer hard om hulle spore dood te vee en alibi’s te kry.”
“Ek glo hy is onskuldig tot die teendeel bewys word – soos dit in ons regstelsel gebeur.”
Liana glimlag wrang. “Ja, dis die regte ding, maar ek wil net nie weer sien hoe jy deur ellende gaan as hy gekruisig word nie.”
“Ek kan nie anders nie, sus.”
Liana sug en skud haar kop. “Nee, jy kan seker nie.”
Kira lê en kyk na die bosse blomme en ruikers wat oral om haar bed staan, en die hopie kaartjies wat haar voorspoed en sterkte toewens. Haar kollegas by die fakulteit het van hulle laat hoor, sowel as mense van dwarsoor Stellenbosch en die universiteit, en sy het ’n stroom besoekers gehad. Heelparty is natuurlik net nuuskierig, maar sy waardeer al die aandag.
“Professor, hier is ’n deputasie om u te sien,” hoor sy ’n verpleegster aankondig en toe sy weer sien, is Daan Moller daar met ’n bossie rose, gevolg deur ’n groep van haar studente.
“Haai, dis gaaf van julle om my te kom sien,” lag sy.
“Ons kom prof opbeur, want ons mis jou,” sê Daan met ’n glimlag. “Ek mis veral vir prof as ek by Coetzenburg gaan draf. Lyk my prof het lyfwagte nodig. Miskien moet ek en ’n paar ouens van die rugby vir prof oppas.”
Sy glimlag. “Dis baie galant, maar lyk my dan sal julle by my moet kom inwoon. Moenie julle bekommer nie, die polisie bewaak ons.”
“Ja, hier sit ’n polisieman voor prof se deur,” sê een van die meisies.
“Daar is glo by die huis ook een. Ek het eers gesê dis nie nodig nie, maar kaptein Wiid wat die saak ondersoek, dring daarop aan. Dit laat my nogal belangrik voel,” grap sy.
Almal vra uit en sy moet antwoord en die storie in detail vertel. Hulle bespiegel en hou omtrent ’n skynhofsaak.
“Ons maak nou of dit ’n speletjie is, maar ek is regtig bekommerd oor prof,” sê Daan. “Ek het net vanoggend gedink aan daardie ou vir wie prof nou die dag op die bergpaadjie weggehardloop het. Dit was duidelik dat prof vir hom vlug. Wie is hy?”
“Toemaar, hy is weg,” sê sy. “Dis professor Brand se swaer, die broer van sy oorlede vrou. Hy is ná haar begrafnis terug Bloemfontein toe, waar hy woon.”
Daan frons en skud sy kop. “Nee, hy’s nie weg nie. Ek het hom vanoggend nog in die dorp gesien. In Andringastraat.”
Kira kyk onrustig na hom. Dewald is nie weg nie? Waarvoor bly hy dan? Hy moet mos sy besigheid gaan bedryf. As hy werklik een besit …
“Jong, dan weet ek nie. Ek het regtig gedink hy is terug Vrystaat toe.”
“Ek gaan vir prof my selfoonnommer neerskryf. Ek is mos naby, in Helderberg-koshuis. As daar enigiets snaaks gebeur, bel my, dan kom ek en my pelle vir prof help.”
Kira wil eers lag, maar sy waardeer die besorgdheid en hou haar gesig sedig. “Baie dankie, Daan, dis regtig gaaf van jou.”
Hy haal papier en ’n pen uit sy rugsak en skryf sy nommer af. Hy sit dit op die bedkassie neer.
Sy is skoon aangedaan toe almal haar plegtig groet, sterkte toewens en sê sy moet gou terugkeer. Dit klink darem asof die studente haar waardeer.
“Dankie dat julle kom kuier het. Ek is van plan om volgende week weer voor die klas te staan. Teen daardie tyd sal ek beslis sterk genoeg wees.”
Nadat hulle uit is, wonder sy oor Dewald Walters. Waarom is hy nog op Stellenbosch? Voer hy iets in die mou? Dis regtig baie verdag. Sy wonder of Reinhard weet.
Sy skakel hom onmiddellik, maar daar is net ’n spookstem wat sê sy moet ’n boodskap laat, en sy doen dit. Dalk weet hy van Dewald, dalk nie. Maar dis beter om seker te maak hy weet sy swaer hang nog hier rond.
’n Halfuur later bel Reinhard terug.
“Dis ’n aangename verrassing om van jou te hoor. Ek was net besig met ’n klas. Jy bel nie dalk oor die berig in die koerant nie?”
“Nee, ek bel nie oor die koerante nie.”
“Ek het jou … ons … gisteraand op TV gesien. Nou weet die hele land dat jy ook ’n slagoffer was.”
“Ag tog! Liana het my nie van die TV vertel nie.”
“So raak mens beroemd en berug. Waaroor wou jy praat?”
“My studente het kom kuier en een was Daan Moller, vir wie ek altyd sien as ek gaan draf.”
“Die kranige rugbyspeler wat in die eerste span is en nog Springbok gaan word?”
“Ja, daardie Daan. Hy het Dewald eendag op ons roete sien draf en dat ek vir hom weggehardloop het. Nou vertel hy my dat hy Dewald vandag in die dorp gesien het, in Andringastraat.”
Daar is ’n kort stilte. “Sowaar? Ek dag hy’s huis toe. Bloemfontein toe. Snaaks, ek moet juis nou Monique se persoonlike goed uitsorteer en weggee. Ek het dit vir hom vertel en hy het ’n paar aandenkings geneem. Sy het baie juwele en kaste vol klere. Die juwele behoort regtens aan Riaan. Ek gaan dit in die bank laat bêre en eendag as hy groot is, kan hy besluit wat om daarmee te doen. Die klere, skoene en handsakke is ’n probleem. My ma het voorgestel dat ons dit verkoop of aan die hospice se winkel gee. Wat dink jy?”
“Gee dit aan die hospice se winkel. Hulle sal darem geld daaruit kan maak, dan gaan dit vir liefdadigheid.”
“Dan maak ek so. Dankie dat jy my oor Dewald gewaarsku het. Ek vermoed hy gaan een of ander tyd met my in verbinding tree. Ag, dalk moet ek hom nooi om nog van Monique se goed te kom haal. Sy het niks aan hom nagelaat nie en hy is darem haar broer. Ek sal hom so teen môre of oormôre op sy selfoon skakel, vandag is ek te besig. Dalk is hy baie verbaas dat ek weet hy is nog hier.”
Hy gee ’n droë laggie, een wat Kira