Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
Reinhard weer alleen in sy studeerkamer is, bedink hy hom. Hy vermoed wel dat dié Adriaan Bouwer agter sy seun se geld aan is, maar hy is darem die kind se biologiese pa. Bloed is immers dikker as water. Het hy nie die reg om sy eie seun op te eis nie? Veral as die kind se ma dood is?
Hy kreun en vryf met albei hande deur sy hare. Vir die hoeveelste keer verwyt hy homself dat hy vir Monique se liste en skoonheid geval het. Spyt skroei deur hom en dis die pynlikste emosie denkbaar.
Hy het ’n klankbord nodig. Die Trollip-susters is regsgeleerdes. Miskien moet hy hulle opinie vra. Hy sal dit môre doen. Nou het hy te veel werk en hy is nog te ontsteld. Hy moet die saak kalm benader.
Maar het hy die reg om die wrede waarheid te openbaar aan die vrou wat hy so benadeel en verwerp het? wonder hy dan.
Elke keer as hy Kira sien, verlang hy skreiend na wat hulle gehad het. Weet hy dat sy gevoel vir haar nog die kamers van sy hart vol lê.
Dis al aand en Kira, wat laat gewerk het, gaan kombuis toe om Liana te help om die aandete voor te berei. Sy tref Souf by haar suster aan.
“Is jy nog steeds hier, Souf?” vra Kira verbaas. “Ek dag jy is al huis toe. Jy hoef mos nie laat te bly nie.”
“Juffrou Kira, ek moes net kom vertel voor ek gaan. Daar het iets vreesliks langsaan by die Brands gebeur.”
Kira is dadelik bekommerd. “Wat is dit?”
“Soekie vertel my daar het ’n vreemde man aangekom en gesê hy is klein Riaan se pa en hy wil hom kom haal.”
“Genade,” prewel Kira. “En toe?”
“Toe hoor sy hoe hulle stry in die sitkamer en Professor sê vir die man hoekom kom hy eers as Riaan amper vyf jaar oud is? Hy’s nie vir die kind so lief soos Professor nie en hy is net agter die erfgeld aan. Die man sê toe hy het ’n vrou en sy wil ook die kind hê. Professor vra of die man al getroud was toe Mevrou Riaan verwag het, en hy erken dit.”
“O, toe kom die hele sak patats uit!” roep Liana.
Kira kry Reinhard vreeslik jammer. Monique het hom uit en uit gevang. Hoe moes hy nie gevoel het toe hy dit uitvind nie? Hy is tog ’n trotse man. Dis hoe sý hom in elk geval ken.
“Soekie sê Professor het al die tyd geweet Riaan is nie syne nie, juffrou Kira. En nogtans was hy goed vir daardie vrou en soos ’n eie pa vir Riaan.”
“Hy moes baie lief gewees het vir haar,” kry sy dit uit en daar is ’n brandpyn in haar hart.
Wat was Reinhard nie bereid om op te offer ter wille van Monique se liefde nie? Het die soet toe suur geword, veral toe hy sulke onverkwiklike dinge oor haar begin uitvind? Hét hy sy vrou in ’n oomblik van woede en ontnugtering vermoor?
Wat moet sy dink? Sy word bang vir die man wat sy liefhet, maar die liefde wil nogtans nie wyk nie. Dis soos ’n ongeneeslike siekte. Selfs ontnugtering genees haar nie daarvan nie.
Souf skraap haar keel. “Professor en Mevrou het glo die middag voor haar dood vreeslik gebaklei. Soekie sê jy kon hulle stemme waar hoor, want Mevrou het geskree en gehuil.”
Kira voel koue vingers by haar ruggraat afkielie.
Souf beweeg na die agterdeur. “Dan sê ek maar totsiens.”
“Totsiens, Souf,” groet hulle gelyk.
Toe sy uit is, kyk hulle grootoog na mekaar.
“Daardie bakleiery klink baie verdag,” meen Liana. “Dis die soort ding wat in die hof as ’n bewys vir gewelddadige optrede kan dien.”
Kira sidder. “Ja. Alles klink so verdag. So na rede vir moord. Ek wil net nie glo dat Reinhard moord kan pleeg nie.”
“Ek kan my indink hoe ontsteld hy moes gewees het toe die pa sy opwagting maak, en dít nadat Riaan ryk geërf het. Reinhard sal nie toelaat dat iemand vir Riaan uitbuit nie.”
“Hy sal dit self nie doen nie …” begin Kira, maar weer kom die aaklige gedagte by haar op dat Monique se geld destyds ook vir hom aanloklik moes gewees het. Nie bloot haar skoonheid nie.
Daarna moes hy uitvind dat sy nie juis ’n aangename persoonlikheid het of besonder intelligent is nie, want dis iets wat mense oor haar geskinder het.
Kira staan op nadat hulle ’n fliek op TV klaar gekyk het. “Waar is Karools? Hy sit mos gewoonlik op een van ons se skote as ons TV kyk.”
“Ag, dis ’n warm nag. Hy jag seker daardie groot rotte by die rivier.”
Kira is egter onrustig en gaan op die voorstoep uit. “Karools! Kietsie, kietsie!” roep sy.
Daar is geen teken van die kat nie en sy tuur die donker in. “Waar is jy, ounooi se diertjie? Speel jy jagter en roofdier? Vang jy goggas en muise?”
Sy loop na die hek, kyk oor die straat, in die donker onder die bome langs die rivier.
Miaau, hoor sy die geskree van ver af kom.
“Karools, kom huis toe!” roep sy en wag.
Nog ’n miaau. Maar hy kom nie.
Dalk het ’n hond hom in ’n boom opgejaag, dink sy. Iets is snaaks. Sy maak die hek oop en loop oor die straat.
“Karools, waar is jy? As jy in ’n boom is, kom af.”
’n Ent weg sien sy die blink oë. Nie op die grond nie, maar ’n kort entjie bo die grond. Hy sit op of in iets. Sy gaan nader.
Skielik is die oë nie daar nie en hy trek soos ’n blits by haar verby met een lang, verontwaardigde Miaau!
Die volgende oomblik is daar ’n groot skaduwee, swarter as die ander skaduwees, voor haar. Sy koes en draai instinktief weg, maar iets blink en daar is ’n brandpyn in haar boarm.
Sy gil deurdringend, want sy besef sy moet gesteek wees.
“Kira!” hoor sy haar suster skree. Sy hoor voete op die teerblad klap, maar haar arm is so seer dat sy vir ’n oomblik duisel en na die straat strompel.
Sy voel arms om haar en hoor Liana se benoude stem: “Hemel tog, wat het gebeur, sus?”
“Ek dink … iemand het my aangeval …”
Honde blaf verwoed naby en sy sien die twee poedels en Reinhard aangehardloop kom.
“Wat gaan aan, Liana? Wag, laat ek haar optel, dan dra ek haar huis toe.”
Sterk arms tel haar op en sy leun teen sy breë bors. Hy drafstap met haar oor die straat en sy kreun van die pyn in haar arm.
“Sy bloei vreeslik!” hoor sy Liana se angstige stem. “Kyk hoe lyk haar arm.”
Onder die stoeplig kyk hulle met afgryse na haar.
“Sy het ’n steekwond in haar boarm,” sê Liana. “Ons moet haar dadelik by ’n dokter kry.”
Kira voel hoe die warm bloed teen haar arm afloop en die pyn vloei soos vlae rooiwarm lawa deur haar. Toe word alles swart en sy tol in ’n donker gat weg.
Daar is lig en gesigte bo haar, en die pyn is nie meer so kwaai nie.
“Waar is ek?” prewel sy.
Liana se gesig is by hare. “In die Medi-Clinic. Ek en Reinhard het jou gebring en die polisie ontbied. Jy het ons verskriklik laat skrik. Jy moes tien steke kry. Wat het jy daar op die oewer in die donker gaan soek?”
“Vir Karools,” antwoord Kira swak. “Ek dink iemand het hom gevang en toe val daardie persoon my aan.”
Dis Reinhard se gesig wat nou naderkom en sy probeer vir hom glimlag. In sy oë is byna weer daardie ou uitdrukking van liefde wat sy jare gelede so goed geken het.
“Iemand het jou met ’n mes aangeval en jou arm oopgekloof. Jy kon doodgebloei het. As jy nie so gegil het en ons uitgehardloop het nie, ys ek om te dink wat kon gebeur het.” Sy stem is vol deernis.