Omdat jy my liefhet. Elsa Winckler
Omdat jy my liefhet
Elsa Winckler
Satyn
1
Livie trek vinnig van die pad af. Die afgelope veertig minute is die onrustigheid binne haar aan die opbou en sy weet nou dit gaan nie verdwyn nie. Bella. ’n Groot skroef is los. Sy moet haar kleinsus bel. Teen dié tyd ken sy die tekens – dit help nie sy probeer dit ignoreer nie. Seker “die helm”, soos tant Peet dit altyd genoem het, waarmee sy gebore is.
Van kleins af het sy net altyd geweet wanneer iets met een van haar mense skort. Lank voor haar ma die verskriklike nuus by die dokter gekry het dat sy borskanker het, het sy wat Livie is, geweet iets is fout.
Dankie tog, dié voorgevoel wat sy kry, is net ten opsigte van hulle gesin. As sy só moes voel oor almal wat sy ken, sou sy seker heeltyd bekommerd gewees en mense gebel het.
Vinnig haal sy haar foon uit. Sy is baie naby aan Greyton en behoort oor ’n halfuur of so daar te wees, maar sy moet eers seker maak Bella het nie ’n krisis nie.
Bella antwoord na die tweede lui. “Ek is oukei, Livie.”
Livie ignoreer haar versekering. “Wat is fout?”
Bella sug. “Ek wil baie graag weet hoe jy weet wanneer iets met my of Leen gebeur het.”
“Ek kan nie vir jou ’n verduideliking gee nie, ek weet net. Wat is fout?”
“Leo het weer gebel,” sê Bella.
“Ek dog die man is finaal uit jou lewe!” raas Livie dadelik. “Nie ek of Leen of Pa het ooit van hom gehou nie. Hoekom jy toegelaat het dat hy jou só lank manipuleer, sal altyd vir my ’n misterie bly. Gewoonlik is jy so hardekwas. Ek kon die man se nek ’n hele paar keer sonder gewetenswroeging omdraai.”
“Hy is uit my lewe, hy sukkel nog net om te glo ek wil niks meer met hom te doen hê nie.”
“Belowe my asseblief jy gaan hom nie weer sien nie? Jy het so pas weer begin lag.”
“Ek? Lag?” brom Bella.
“Bella.”
“Oukei, oukei, jy’s reg. Maar dis nou genoeg van my swak oordeelsvermoë. Het jy al klaar ingepak vir jou maand lange ballingskap op Greyton?”
“Ek is al amper daar,” sê Livie.
“Wat bedoel jy? Vertrek jy nie eers môre nie?”
“Ek het so baie wat ek moet doen wanneer ek weer terug is in Johannesburg en toe ek my bespreking kon verander, het ek dit gedoen. Hoe gouer my maand dié kant verstryk, hoe gouer kan ek weer met my lewe aangaan.”
“Tensy jy natuurlik, soos ons sus Leen, ’n sexy man sien, verlief raak en sommer binne ’n maand of wat trou,” giggel Bella.
“Gmf,” snork Livie, “’n man is die laaste ding wat ek nou nodig het. Mans is die rede hoekom ek ’n plek van veiligheid vir mishandelde vroue in Johannesburg wil oprig. Ek het eerstehands gesien wat die spesie aan vroue kan doen. Buitendien, ek het nog nooit ’n man ontmoet wat my kortasem maak nie. Party van ons is maar dalk net bestem om enkellopend te wees – en om baie eerlik te wees, dit klink vir my soos ’n bargain.”
“Ná my ondervinding met Leo Bruwer stem ek saam met jou. Leen lyk darem happy. Steyn is so mal oor haar, hy sal vir haar oor warm kole loop.” Sy giggel. “Hy maak haar beslis kortasem.”
“Ek is so bly vir haar onthalwe. Ek het natuurlik so ’n vuil spesmaas onse tant Peet dwing ons in haar testament om ’n maand in haar huis tussen niks en nêrens te gaan bly, in die hoop ons kry elkeen ’n man. Maar omdat Leen vir ’n man geval het, beteken dit nié ek gaan ook nie,” sê Livie.
Bella lag. “Sy dwing ons darem nie om in haar huis aan te bly nie.”
“As ons nie die maand in haar huis bly nie, kry ons nie ons erfporsie nie – wat noem jy dit? Absoluut Middeleeus!”
“Dalk raak jy net so lief vir die plek soos Leen. Het jy weer oor haar voorstel gedink dat ons nie tant Peet se huis verkoop nie, maar dit liewer hou?”
“Ek het en nee, ek het nog nie van plan verander nie. Greyton is pragtig, haar huis is soos iets uit ’n prenteboek, maar ek stel nie daarin belang om ’n huis te hê op ’n plek waar ek na die volgende maand nooit weer sal kom nie. Dit was lekker toe tant Peet nog geleef het. Toe was daar die vooruitsig van haar heerlike melkkos of souskluitjies of pannekoek wat vir ons wag, maar hier is regtig nou niks wat my kan oortuig ek wil ooit hier bly nie, nie eens vir ’n vakansie nie. En as ek nie die vyf miljoen rand nodig gehad het vir die plek van veiligheid nie, het ek sowaar nee gesê vir die geld.”
“Daar is soveel mooi memories in daardie huis. Ek onthou weer die lekker, dik sop wat sy in die winter gemaak het. Maar ek voel ook soos jy, sonder tant Peet is dit maar net nog ’n huis en een wat baie ver is van Johannesburg. Ons kom selde, indien ooit, deesdae op Pa se plaas wat nie baie ver hiervandaan is nie, so om te dink ons gaan gereeld Kaap toe vlieg, ’n motor huur en Greyton toe ry, is nie realisties nie. Sterkte, Livie. Maar nou ja, ek sal seker ook ’n plan moet maak om my maand so gou moontlik daar deur te bring, want ek gaan beslis nie nee sê vir so baie geld nie.”
Livie kyk deur die voorruit na die pragtige Riviersonderendbergreeks wat voor haar uittroon. “Dalk begin skilder jy weer wanneer jy hier is. Dit is regtig so mooi hier, ek het al vergeet hóé mooi.”
“O, aarde, dit klink my die Greyton magic werk klaar op jou!”
Livie skud haar kop en skakel die motor weer aan. “Ek is hier vir ’n maand. Dis al. Nou toe, ek moet ry, ek moet nog die sleutel by die prokureur gaan afhaal. Belowe my jy sien nie weer vir Leo nie?”
“Ek belowe,” sê Bella ewe plegtig.
Livie groet en skakel die motor aan. Haar foon bliep. Dis ’n boodskap van Leen. Hulle is seker terug van die lang wittebrood.
So pas terug, so, só gelukkig, ek bel later. Onthou, Bart sal eetkamermeubels aflaai, stuur asb foto, wil graag sien hoe dit lyk.
Livie frons. Vrek, sy het vergeet sy sal noodgedwonge die vent moet sien. Bart Coetzee. Sy het die man ontmoet toe sy en Bella in April vir Leen kom kuier het. Arrogant. Oorvatterig. Beterweterig. Tipies man. Van die eerste oomblik af het hy haar verkeerd opgevryf.
Die feit dat hy dodelik aantreklik is, maak haar rug net nog stywer. Sy het op universiteit al haar les geleer – ’n aantreklike man soek gedurig aandag van die teenoorgestelde geslag. Eers maande nadat Rynard Spies haar voete onder haar uitgeslaan het met sy kyk-hoe-wit-is-my-tande-glimlag, het sy ontdek sy is nie die enigste girl in sy lewe nie.
Dit was een van daardie klassieke gevalle waar almal in die koshuis geweet het hy verneuk haar, net sý nie. Hy kon so neul sy is nie “spontaan” genoeg nie. En toe sy hom een aand “spontaan” wou gaan verras in sy koshuiskamer, is sý die een wat verras is.
Een van sy vele flossies het sy kamerdeur oopgemaak en al wat sy aangehad het, was ’n hemp wat Livie vir hom gekoop het.
Sy reaksie? ’n Skewe glimlag en ’n skouerophaling.
En, het sy agtergekom, dis waar van die meeste aantreklike mans – hulle kan nooit genoeg aandag kry nie.
Wel, haar doel op aarde is beslis nie om mans blink te lek nie – of hulle nou mooi is of nie. Sy het ’n plan, ’n doelwit en daar is eenvoudig nie plek om ’n needy man met ’n wavrag behoeftes of bagasie ook nog te akkommodeer nie. Sedert Rynard het sy nog nie weer ’n vaste verhouding gehad nie. Dis nie asof sy mans afgesweer het nie, maar sy het nog nie ’n man ontmoet by wie sy langer as ’n uur wil wees nie, wat nog te sê vir ewig en altyd.
Sy hoop vuriglik die meubels is al afgelewer en dat sy die man nie weer in die loop van die volgende maand hoef te sien nie.
Laggende bruin oë skuif voor haar in en sy klik met haar tong. Dis erg genoeg dat sy oor die vent se oë droom, sal dit nou sowaar helder oordag ook by haar kom spook?
Bart beduie vir Jakob watter stoele hulle op die bakkie moet laai. Leen, tant Peet se broerskind,