Omdat jy my liefhet. Elsa Winckler
reeds die ander vier stoele na die eetkamertafel toe gedra, sien hy. Hy sit die twee stoele neer en dié keer laat die skietpyn hom na asem snak en hy buig vooroor.
“Wat is fout?” vra Olivia agter hom.
“Ek sê mos my rug,” kry hy uit en kom regop.
“Waar?” vra sy.
Hy beduie met sy hand na sy lae rug.
“Buig stadig vooroor,” beveel sy.
Hy buig.
Olivia staar na Bart se breë rug. Dis baie duidelik die man verkeer in pyn. Sy probeer op sy pyn konsentreer, maar sy toestand en woorde van netnou weergalm nog in haar kop: Jy’s bo-op my, jy wriemel en jy’s beautiful. Hoe op aarde vergeet sy daarvan? En hy was … hy was … ’n Warm gloed kruip teen haar nek op. Sy kan nie eens daaraan dínk nie.
G’n man het al ooit vir haar gesê sy’s mooi nie. En g’n man het al ooit presies só na haar gekyk soos wat Bart nou net gedoen het nie. So asof sy werklik sexy en beautiful is. Sy en haar susters is seker nie te onaantreklik nie, maar sy het nog nooit aan haarself as ’n skoonheid gedink nie.
Sy skud haar kop in ’n poging om die lawwe gedagtes weg te vee en gee ’n tree vorentoe. Haar hande skuif die ligte trui wat hy aanhet op teen sy lyf.
Vir ’n oomblik huiwer sy. Die man verkeer in pyn. Sal sy nou staan en kwyl en dit net omdat hy ’n paar sexy breë skouers het? Sexy. Vrek. Dis die laaste ding waaraan sy moet dink. Sy is ’n mediese dokter wat al honderde mans behandel het.
Sy pers haar lippe op mekaar en druk sy trui verder op teen sy lyf. Haar hand sprei oop oor sy rug. Die spiere is opgebondel in ’n poging om die rug te beskerm. “Ek dink …” begin sy, maar haar stem klink verspot hees. Sy maak keel skoon. “Kan jy op die tafel probeer lê? Dit behoort hoog genoeg te wees. Ek kry net ’n room of iets …”
“Ek is op pad na ’n fisio,” sê hy kortaf en kom regop. “Dankie.”
Sy vererg haar. Dis nie asof dit haar skuld is dat sy rug seer is nie. “Ek probeer net help. Kan ek ten minste vir jou ’n voorskrif vir ’n anti-inflammatoriese middel gee?”
Hy knik. “Dankie, ja.”
Haar handsak staan nog op die tafel en sy haal haar voorskrifboekie uit. Vinnig skryf sy vir hom iets voor. “Drink dit saam met etes,” sê sy en gee vir hom die papier.
“Dankie,” sê hy stram en beweeg stadig voordeur toe.
“As jy nie so hardekwas is nie, kan ek jou help,” sê sy ergerlik.
Met sy hand op die voordeur, kyk hy oor sy skouer na haar. Sy oë is halfmas, sy glimlag skeef. “Jy onthou wat gebeur het toe jy bo-op my val?”
Haar wange vlam. “Dis nie nodig om daarna te verwys nie, ek het dit klaar vergeet.”
Sy bruin oë, warm en donker, gly oor haar. “Wel, ek het nie. Jy wil jou hande op my lyf sit. Wat dink jy gaan gebeur?”
Hy is uit by die deur voor sy haar mond kan oopmaak. Haar bene weier om haar langer regop te hou en sy sak neer op een van die eetkamerstoele wat hy reggemaak het.
Vrek. Dis alles die ellendige hond se skuld. As hy nie tussen haar voete beland het nie, het sy nie geval en bo-op Bart gelê nie en … Sy blaas haar asem uit en kreun hardop.
En sou sy nie nou gesit en wonder het wat sou gebeur het as sy nie so vinnig van hom af opgestaan het nie. Of as hy wel op die tafel gaan lê het sodat sy sy rug kon masseer. Of …
Haar foon lui. Dis Leen. Sy kyk op haar horlosie. Dis sowaar al amper agtuur en buite raak dit stadig lig. Dit lyk asof dit bewolk is, die rede hoekom dit nog so half donker is.
“Jy’s vroeg op,” antwoord sy dadelik.
“Ek moet vroegdag ’n leweransier ontmoet, maar ek wou net hoor of alles oukei is by die huis?”
“Ek sou darem bel en dankie sê dat jy die huis laat skoonmaak het.”
“Het iemand die huis skoongemaak? Ek wens ek het daaraan gedink, maar ek het nie. Dis seker Bart. So ’n nice man. Hy het na die tuin gekyk en sou na Skim kyk, maar hy het laat weet hy het nog nie weer die hond gesien nie.”
“Wel, ek en Bart het hom vanoggend gesien. Of liewer, ek neem aan dis hy. Ná hy ons al twee in die bedding laat beland het, het hy soos mis voor die son verdwyn.” Livie kan haar tong afbyt toe die woorde uit is.
“Ja?” lag Leen. “Dit klink baie bekend. Vertel?”
“Is jy nie op pad nie?”
“Ek is, maar ek kan praat en stap. Toe, vertel.”
So bondig as wat sy kan, vertel Livie vir Leen wat gebeur het. Teen die tyd dat sy klaar is, is Leen half histeries aan ’t giggel.
“Dis glad nie snaaks nie,” brom Livie.
“Dis verskriklik snaaks,” lag Leen. “Dis min of meer presies wat tussen my en Steyn gebeur het. So sê my – wat gebeur toe terwyl jy so bo-op hom lê?” vra sy ewe onskuldig.
“Niks het gebeur nie!” roep Livie ontsteld uit. “Wel, hy het gereageer, ek het so vinnig moontlik opgespring.” Dis amper die waarheid. Die paar sekondes wat sy stil bo-op hom gelê het, tel tog sekerlik nie. Dis nie asof sy op hom wou bly lê nie, dis net …
“… is Skim nou?” dring Leen se stem tot haar deur.
“Ek weet nie. Toe ons opstaan, was hy weg en as hy weet wat goed is vir hom, sal hy weg bly.”
“Hy’s baie oulik, moenie met hom lelik wees nie. Ek begin nou net regtig wonder hoekom hy met tye verdwyn en net opdaag wanneer daar ’n man naby een van ons is.”
“Ag, toe nou. Dis heel toevallig. Vertel my nou eers van julle honeymoon?”
Leen lag vrolik. “Al wat Steyn vooraf vir my gesê het, is dat ons na ’n plek toe gaan waar dit warm is en ’n mens nie baie klere hoef aan te hê nie. Dat dit toe nou sowaar die Seychelle moet wees. Wat ’n ongelooflike ervaring. Ons was op die eiland Mahé, die grootste een van die eilandgroep, maar ons was ook by van die ander eilande. Ek sal vir jou ook die pragtige foto’s wys wat ons op die kamera geneem het wanneer ons mekaar weer sien.”
Leen begin vertel van die mooi strande en Livie slaak ’n sug van verligting. Ten minste het sy vergeet van Skim en Bart en die bedding.
3
Saterdagoggend slaan Livie gefrustreerd haar skootrekenaar toe. Die ellendige internet. Sy het die flippen dingetjie gekoop waarop sy kon data laai soos wat Leen beduie het, maar dit wil nie werk nie.
Nie een van haar susters kan verstaan hoe sy ’n dokter kan wees, maar nie aldag rekenaars verstaan nie. Sy weet genoeg om haarself te help, maar wanneer iets nie wil werk nie, sukkel sy nie, maar kry eerder hulp. In Johannesburg is dit maklik. Daar is verskeie plekke wat ’n mens vinnig kan help, maar op Greyton is daar skynbaar net een mens. En volgens Leen is die kenner juis Bart Coetzee, die laaste mens vir wie sy om hulp wil vra.
As sy nie so angstig was om haar e-posse te lees nie, het sy sommer die rekenaar weggepak.
Sy het gedurende die vorige maand briewe uitgestuur na almal wat sy ken om te bedel vir bydraes vir die plek van veiligheid wat sy wil oprig. Om geld te bedel, was aanvanklik vir haar baie, baie moeilik, maar haar pa het haar gehelp om die regte mense te identifiseer, mense wat ook, soos sy, ’n passie het om ander te help. Sy hoop om darem nou al terugvoering van ten minste sommige te kry.
Daar is staatshulp beskikbaar vir dié soort plekke, maar sy wil nie net daarvan afhanklik wees nie. Sy het al taamlike rillerstories gehoor van soortgelyke plekke wat sekere maande net glad nie die nodige finansiering ontvang nie.
Tant Peet se erfgeld gaan baie help, maar dis nie naastenby genoeg nie. Die geld kan gebruik word vir die aankoop van ’n eiendom, een wat sy reeds in die oog het, maar daar is baie meer behoeftes