'n Tuin vir Tessa. Helena Hugo
tuin is nog in grys oggendmis gehul, maar onverwags val die eerste ligstrale teen die seuns se kamermure. Altus het met ’n blik op die toekoms besluit om die huis so te laat ontwerp dat hulle met hul eie sleutels kan inkom en uitgaan. Daarmee saam is daar streng huisreëls neergelê wat soms gebuig, maar nooit gebreek mag word nie. Hulle bly dus by inkloktye en naweke wanneer hul maats kom kuier, kan Tessa hulle ongesiens van die boonste verdieping af dophou. Nie dat dit nodig is nie. Ewald is die meeste van die tyd ook betrokke – haar oudste, die katalisator, die oppasser. Hy wil predikant word. Is hoofseun, kategese-onderwyser, sangleier by die kerk se jeuggroep, en sy broer se held al verskil hulle hemelsbreed. In sy kamervenster skyn die lig van die leeslamp wat op sy lessenaar staan, teen die blinder. Hy stel sy wekker soggens vir vyfuur om Bybelstudie te doen. Teen sesuur gaan hy sy skoolwerk deur. Hy begin elke oggend met die Woord. In die ouhuis kon hulle hom hoor sing.
Soms volg Tessa sy voorbeeld. Meer dikwels storm die dag so vinnig op haar af dat sy nie kans kry nie. Maar die Here is ook haar herder én die gesin se Leidsman. Huisgodsdiens is belangrik en hulle probeer dit saans in stand hou, hoewel dit as gevolg van diverse bedrywighede en afsprake dikwels agterweë bly.
Ferdie is nie onverskillig nie, hy lees sy Bybel en bid op sy eerlike manier, maar kan nie lank stilsit nie. Dis toe sy van die venster af wil wegdraai om die ontbytgoed uit te pak, dat sy kamerdeur oopvlieg en die poedels na buite trippel. Hy staan ’n paar sekondes lank in die deuropening, sy gesig in die sonlig, oë toegeknyp, neus in die lug asof hy iets ruik wat hom nie aanstaan nie. Dan draai hy om en trek die deur agter hom toe. Sy glimlag toe sy sien hoe doelgerig die poedels in die tuin rondsnuffel. Pluto verjaag ’n duif wat niksvermoedend saad oppik.
Die werf is groot genoeg dat die honde nooit ingeperk voel nie. Voor en aan die kante het die tuinontwerper vir haar roostuine aangelê, en blombeddings wat heeljaar deur in oorvloed gedy. Haar tuin is haar trots, selfs hier aan die agterkant waar reusepotte met blommende struike op strategiese plekke geplaas is. Hulle lewe goed, hoewel hulle deesdae as gevolg van Altus se werk nie kans kry om hul vriende gereeld te onthaal nie. Sy het tog genoeg rede om dankbaar te wees – sy en Altus – vir hul lewe.
“Wat kyk jy so?”
Amper skrik sy, toe hy agter haar praat.
“Sommer, hoe hoog die palms geword het. Die tuin is mooi vir dié tyd van die jaar.”
Hy kom staan teen haar. “Ja,” sê hy, “maar dis alles tydelik.”
“Ek weet.” Sy draai na hom. “Dink jy nou aan Sondag se preek?”
Hy skud sy kop. “Dit ook.”
Skielik tref dit haar dat hy hom dalk oor meer as bloot sy werk bekommer. Die lyne op sy voorkop en tussen sy oë is dieper ingekerf as wat sy haar voorstel wanneer sy aan hom dink. Is dit moontlik dat sy dag vir dag na haar lewensmaat kyk en nie raaksien hoe hy verander nie, ouer, moeër word? Altus is Augustusmaand vyftig. Sy beplan ’n partytjie, ’n ete wat hy en sy vriende nooit sal vergeet nie. Geen spyseniers nie, sy en Anna gaan dit self doen.
“Kan ek vir jou muesli skep? Jogurt? Of moet ek ’n eier bak?”
“Net koffie, ek het ’n ontbytafspraak.”
“Dis gewoonlik eers tienuur.”
“Hierdie een is vroeg. Walter moet my inpas.”
“Walter? Jou ouditeur?” Sy gee vir hom sy koffie in sy gunstelingbeker.
“Ek wil hê hy moet die winkel se boeke ’n slag persoonlik nasien.”
“Kom dit nie teen November aan die beurt nie?”
Altus sug, tel die beker op. “Iemand is besig om my te beroof, geld na ’n vreemde bankrekening te verskuif.”
“Tog nie Sarita of Francois of … Is dit Drikus?”
“Hy is so ontsteld soos ek. Dit kan iemand van buite wees wat op ons stelsel inbreek of ja … een wat ek so blindelings vertrou dat ek alles glo wat hy sê.” Altus skud een van sy hartpilletjies uit en sluk dit saam met die laaste koffie in.
“Dit sal beter wees as dit iemand is wat jy nie ken nie.”
“Hoe dit ook al sy, ons ly verliese op verliese en dit kan nie so aangaan nie.”
Sy trek sy das vir hom reg, soen hom liggies. “Ek hoop julle kry die fout.”
“Of die dief.”
“Of die dief.”
“Wat het jy vir jou dag beplan?”
“Vroue-Bybelstudie tienuur, halftwaalf gaan ek vir my naels. Kan ek jou bel, teen middagete?”
“Ons praat vanaand.” Hy soen haar vlugtig en stap vinnig om die lang kombuistafel na die trapportaal wat na die garage se binnedeur lei.
Iets is aan die broei tussen Altus en Drikus. Die aaklige gedagte dat dit sy beste vriend is wat hom bedrieg, maak Tessa so benoud sy moet sit.
Met haar elmboë op die tafel en haar kop tussen haar hande stuur sy ’n skietgebed op: Here, laat dit nie Drikus wees nie en gee asseblief dat Equestris nie vou nie. In haar hart hoop sy dat Altus ook teen dié soort ramp verseker is.
“En nou, as Ma so sit? Môre, Ma.”
Dis Ewald. Hy sal verstaan as sy hom die waarheid vertel, maar sy wil nie.
“Rus net ’n bietjie,” sê sy. “Jy is vroeg.”
“Ekstra wiskundeklas voor skool. Ferdie oefen skyfskiet. Hoop hy is reg om te ry.”
“Ek kan hom vat as hy laat is.”
“Nee, Ma. Ons het afgespreek.”
Ewald skink vir hom ’n beker melk, sit dit in die mikrogolfoond, skud ontbytgraanvlokkies uit, prop twee snye brood in die rooster, soek smeergoed in die yskas.
“Haai, Ma!” Ferdie kom ingedraf, die poedels op sy hakke.
Sy jaag die honde by die agterdeur uit.
“Ma is kwaai vanoggend.”
“Julle is haastig.”
Ewald sit sy bak met graanvlokkies op sy plek neer, kyk vir Ferdie wat melk skink, ’n broodrolletjie daarin doop en dit in sy mond prop. “Ons bid voor jy weer afgedankte kos eet.”
Ferdie skakel die oond aan, kom staan langs Tessa, sit sy arm om haar.
Ewald glimlag in hul rigting voor hy lostrek met: “Vader in die hemel, dankie vir hierdie oggend en die kos wat ons gaan eet. Gee dat ons veilig ry en betyds by die skool aankom. Seën die dag vir my en Ferdie en vir ons pa en ma. Ek vra dit met die vergifnis van ons sondes, in Jesus Naam. Amen.”
“Dankie, Ewald.”
“Gelukkig het ons ’n priester in die huis,” brom Ferdie.
“Môre is dit jou beurt.”
En so, dink Tessa, begin hierdie dag wel ook in die Naam van die Here.
2
Die vroue-Bybelstudie begin stiptelik om tienuur. Tessa, wat vroegoggend vir Petrus gewys het presies waar hy die gesiggies tussen die papawers moet plant, het kwart oor nege eers onder die stort ingespring en toe met haar hare gesukkel. Sy het altyd voor Bybelstudie haarkapper toe gegaan, maar deesdae kom sy self reg. Vanoggend was daar weer te min tyd om rustig te blaas en te kam. Een goeie ding van lang hare is, sy kan dit agter haar kop vasknoop en hoop vir die beste.
Teen twintig voor tien gee sy die laaste instruksies vir Anna, gryp haar Bybel en haar motorsleutels en ry. Hoekom voel dit soms of die byeenkoms haar week in die middel deursny en haar dag sleg onderbreek? Sy het haar Woensdagoggende daarvoor opsy gesit, maar vanoggend wou sy eerder in die tuin werk. Buitendien het Elaine laat weet dat sy nie daar sal wees nie, en dis die een plek waar hulle mekaar gereeld kan sien. Tessa haal diep asem toe sy by die kerkterrein indraai.
Dis gewoonlik interessant