'n Tuin vir Tessa. Helena Hugo
verwag van hulle om ook hul deel te doen, soos sy vanoggend in die Bybelstudie gehoor het. Beteken dit nie dat hulle mekaar ook deur dik en dun moet bystaan nie, mekaar in ag moet neem en vertrou nie?
Tessa vou haar arms om haar, haar asemhaling is vlak. Hoe kan sy gaan slaap as haar man iewers daar buite dalk in doodsangs verkeer? Uit ervaring het sy geleer dat rowers en moordenaars enige plek en enige tyd kan toeslaan en nie God se kinders ontsien nie. Sy en Altus is van die plaas af weg om veiligheidsredes en het in die stadsomgewing te staan gekom teen misdadigers wat gemaklik by plaasmoordenaars kan kers vashou. Altus is al twee keer byna gekaap en moes sy selfoon en beursie as losprys gee. Haar handsak is kort ná hul aankoms gegryp, en haar verloofring is van haar vinger afgepluk terwyl rowers ’n pistool op Altus gerig het. Hulle was elke keer dankbaar om met hul lewe daarvan af te kom. Mettertyd het hulle hul waaksaamheid verskerp en die buurt waar hulle nou woon, is afgesper met veiligheidshekke wat deur opgeleide sekuriteitswagte bewaak word. Die inwoners betaal, want hul aardse goedere is waardevol en die karre wat hulle ry, gesogte modelle.
Dis diep in die nag, tyd vir misdadigers om die strate oor te neem. Sy kyk op haar selfoon. Tien oor twaalf! Nou raak dit dringend. Met bewende hande soek sy Walter se nommer, maar huiwer voor sy die groen telefoontjie druk. Sê nou hulle het hul besigheid al vanoggend afgehandel of selfs vanmiddag laat en hier bel die histeriese vrou van een van sy kliënte hom in die middel van die nag?
Here, wat moet ek doen?
Een genade – die seuns slaap nie in die hoofhuis nie. Hulle is ná ete kamers toe en sal nie agterkom dat Altus wegbly nie. “Ons praat vanaand,” het hy belowe, en dis al nag.
Sy gaan nog een laaste keer probeer. Steeds die boodskap!
“Altus, waar is jy? Ek wag al heelnag vir jou! Bel asseblief voor ek van my kop af raak.” Amper laat val sy die foon toe dit skielik lui en sy sy nommer sien opkom.
Laat dit hy wees, Here, laat dit hy wees.
Sy veeg oor die skerm. “Hallo …”
“Tess, dis ek.”
“Waar is jy?”
“Op pad.”
“Ek wag vir jou.”
“Gedag jy slaap al.”
“Altus, maak dat jy by die huis kom.”
“Ek’s hier, ek’s voor die hek.”
“Wat sê jy?”
Hy antwoord nie.
Sy gooi die foon neer asof dit aan die brand is. Twyfel pak haar beet en druk die asem uit haar longe. Sê nou hy word iewers aangehou en sy ontvoerders het hom gedwing om te sê wat hy so pas gesê het? Hulle druk ’n pistool in sy sy en dwing hom om sy bankrekening leeg te trek en sy selfoon lui en hulle is bang sekuriteit merk onraad, daarom moet hy antwoord sodat hulle die foon ná afloop van die gesprek finaal kan stilmaak. Dit gebeur met ander, dit kan met hom ook gebeur!
Gewoonlik skuif die hekke en deure gladweg oop, seil die kar so sag na binne dat sy dit nie hoor nie. Vannag spits sy haar ore. Verbeel sy haar of is dit die garagedeur wat toegaan, die kar wat afskakel?
Sy roer nie, sy wag vir hom.
Die kussings op die bank is deurmekaar, haar hare is deurmekaar, daar is vuil bekers op die tafel en geen vars geperkoleerde koffie om hom mee te begroet nie. Sy is uitgeput. Met haar hande in haar hare, haar elmboë op haar knieë, sit sy en luister na die gesuis in haar ore, tot sy hom hoor keel skoonmaak.
“Naand, Tessa.”
“Naand? Dis nag!”
“Ek vra om verskoning.”
“Te laat, maar jy is nou hier en ek kan eindelik gaan slaap.” Sy pak die kussings op die bank reg. Met haar rug na hom hoop sy dat hy ’n verduideliking het.
Toe sy omdraai, keer hy haar. “Tessa, asseblief, gee my kans.”
“Hoe lank, een uur, twee uur, drie? Ek wag van vroegaand af, en al wat bel, is jy. Hoekom was jou selfoon af?”
“Ek het vergeet om dit aan te skakel.”
“Jy het vergeet?”
“Van die foon – nie van jou nie.”
“Watter sin maak dit?”
“Kan ons soos grootmense praat?”
Die lamplig is laag gestel, maar vir die eerste keer vandat hy ingekom het, sien sy hom behoorlik. Is dit skaduwees wat so maak, of het sy wange ingeval, sy baard vandag vinniger as gewoonlik gegroei? Lyk of sy klere hom nie pas nie, sy baadjie sit skeef oor sy skouers. Sy das is losgetrek, van sy hempsknope makeer. Is dit moontlik dat hy sedert vanoggend gewig verloor het? Sy is seker veronderstel om hom jammer te kry, maar hoekom?
“Jou storie beter goed wees,” sê sy en gaan sit op die verste punt van die bank.
Hy kies die naaste leunstoel, haal eers sy das af, vou dit op, los dit op die armleuning, verskuif dit effens, vryf sy voorkop asof hy hoofpyn het. As sy hom vriendeliker ontvang het, het hy eers vir koffie gevra.
“En?” waag sy dit.
“Jy sal nie hou van dit wat ek nou vir jou moet sê nie.”
“Jy het ’n affair? Jy wil skei?”
Hy skud sy kop. “Nee, maar ná dese sal jy dalk van my wil skei.”
Angs druk haar keel toe, en skielik is hy vir haar ’n vreemdeling. Wat het hy aangevang?
“Hoekom?”
“Ons … Ek het alles verloor.”
“Hoe bedoel jy alles?”
“Ons het niks.”
“Altus, Equestris was in die moeilikheid, nie Heyns Voere nie, nie ons nie.”
“Maak nie saak of dit Equestris is of Heyns Voere nie. Die besigheid is ons en ons is die besigheid.”
“Nie ons nie, nie ek nie – jy en Drikus en die res van jou personeel. Wat hét vanoggend uitgekom?”
Hy sukkel met sy woorde, skuif aan die das, krap met sy vinger aan die leeroortreksel van die leunstoel. “Ek wou jou dit spaar, ek wou dit van jou af weghou.”
“Toe maar, die skrif was aan die muur. Ek kon dit net nie lees nie en jy het my vrae konstant vermy. Wie het met die boeke gepeuter?”
“Daar is gepeuter, ons weet nog nie wie nie.”
“Heyns en Smit Equestris is onder sekwestrasie. Jy laat geen geleentheid verby om my aandag daarop te vestig nie. Ons uitgawes oorskry ons inkomste. Maar iemand sien kans om die bietjie wat oorbly, te steel en jou ouditeure kan nie twee en twee bymekaartel en die antwoord kry nie? Ek dag jy werk ook daar?”
“Drikus bestuur die winkel.”
“En jy, kom jy nooit in sy kantoor nie?”
“My afdeling is invoere en uitvoere, ek was besig.”
“Waarmee tog dat jy nie eens kan agterkom wat in die winkel aangaan nie?”
“Iemand moes geld genereer om te keer dat die spul onder die hamer kom.”
“Die winkel is dan onder geregtelike bestuur. Was dit nie ons uitweg nie?”
“Wat beteken dat die prokureurs ons skuldeisers namens ons hanteer. Ek moet steeds geld uitkrap om die rekeninge te betaal en ons lewenstyl te finansier. Intussen sit ek vas met probleme by doeane.”
“Heeltyd dink ek dit gaan goed met Heyns Voere.”
“Jy wil nie weet wat vandag alles daar verkeerd gegaan het nie!”
“En jy maak asof ons oukei is!”
“Wat sou dit help om jou te ontstel? Ek kan tog nie van jou verwag om die besigheid te red nie.”
“Ek